Dudes on Horses, Hamburgers en ‘n Workshop

En so het dit dan ook gekom en gegaan…

Die trippie na Washington DC het so vinnig op my afgekom, daar was nie tyd gewees om eers behoorlik opgewonde te raak, of die dae af te tel nie.  Home Affairs het my geweldig beindruk deur binne ‘n week my paspoort reg te kry, sonder ‘n ekstra fooi en met ‘n vriendelike glimlag daarby.  Die Amerikaanse konsulaat was ‘n bietjie meer van ‘n uitdaging,maar nietemin ook heel vinnig en sonder probleme.  Grootste fout daar was seker dat ek op al my vorms ingevul het dat ek Washington DC besoek, in die staat Washington! En vir die van julle wat ook nie al 50 state van Amerika uit julle koppe ken nie, die twee is nie eers naby aan mekaar nie!

Die pret het sommer op die eerste vlug begin, toe ek gou agterkom dat ek nie in hierdie klein spasie gaan kan slaap nie.  Jislaaik, ek kan nie eers ordentlik sit nie!  Die fliek wat wys is Invictus, en ek se vir ons CEO (wat saamgegaan het) dat dit nou ‘n fliek is om te kyk vir alle Suid Afrikaners.  Ek het dit reeds gesien, so hou my besig met leeswerk en musiek.  So 3/4 in die fliek in, nogals op ‘n hoogtepunt, sien ek sy begin kop knik, en die volgende oomblik slaap sy!  Ek is teleurgesteld, want watter persoon vind juis daai deel so vervelig!  Dis eers met die afklimslag wat sy na my draai en vra of die hele Invictus dan ‘n musical is.  Huh??  Sy het vir amper 2 ure haar oorfone op die verkeerde stasie gehad!  Met die gevolg dat sy amper die hele Invictus as ‘n Jazz konsert gekyk het!  Nou dit verdien respek!

En hoe fantasties was ons hotel nie!  Elke kamer het ‘n massiewe HD televisie, en al die kanale is ook HD.  Ongelooflik!  Daar is gratis Wi-fi, die smartste koffiemasjiene, ‘n bar met ‘n heerlike vibe en ongelooflike personeel wat vir jou die beste plekke reel om te besoek, en blitsvinnig ‘n taxi bestel.  Ja, die Hilton het my nie teleurgestel nie!

‘n Vinnige manier om die stad te verken is defnitief een van die open top busses.   Alhoewel dit elke dag by die 35 grade celcius gaan draai het, het ons van skroeiende sonskyn tot ‘n donderstorm bo-op die bus ervaar!  En wees gewaarsku, elke ou wat ooit iets gesê of gedoen het, het ‘n monument of museum in DC!  Flip, die ou kon net iets gedink het, dan is daar al ‘n plaatjie, of ‘n muurtjie of ‘n klippie vir hom.  Dit raak bietjie erg, so ek kon later net die bekendstes onthou.  En ja, ons het die withuis gesien, en Obama se bloulig brigade het ons amper omgery.  Praat van dramaties!  Ek het tydens die werkswinkel genoem dat die plek baie “dudes on horses” het.  Die beskrywing het gebly, en aan die einde van die week het my mede kursusgangers (US en UK) vir mekaar die rigting aangedui met “at the dude on the horse you turn left”.

Kos is duur.  Wel, seker nie volgens hulle standaarde nie, maar as jy in ‘n ander geldeenheid dink, dan neig jy om gedurig dollars om te skakel na rande, en dan verstom te staan!  Ek meen, $10 vir ‘n hamburger klink nie te erg nie, maar skakel dit om!  Kos is ook nie baie gesond nie!  En Mcdonalds het geen betowering meer nie, in fact, dit lyk maar taamlik vervalle.  Die beste kopies in terme van eet en drinkgoed was die slaaie wat individueel gemaak word hier voor jou, na jou smaak, en die koffies in die boekwinkels.  Slegste was seker daai keer toe ons tipies Amerikaans probeer wees het, en ‘n hamburger en chips, met ‘n milkshake by die diner op die hoek gekoop het.  ‘n Hartaanval in ‘n pakkie!

Ons het ook vreeslik baie geloop!  Weereens ‘n omskakeling probleem.  Ek het 6 myl geloop om die eerste klient te wees by die nuwe Apple store in Georgetown.  Dit is amper 10 km!  Nie so erg nie? Probeer dit in plakkies, in 37 grade celcius met ‘n baie hoë humiditeit!  Ons het egter met ‘n taxi gery van die eerste aand se hotel tot by die Hilton, letterlik om die draai!

Aaah, en dan was daar die workshop, die eintlike rede hoekom ons gegaan het.  Nog nooit het ek so iets ondervind nie.  Elke spreker was ‘n expert in sy/haar gebied, en het op die minuut by die tyd gehou.  Die onderwerpe was interessant, en die networking geleenthede wonderlik.  Die kos was lekker, daar was ‘n konstante vloei van vars koffie en aan die einde kry jy ‘n flash drive met alles wat behandel is mooi netjies daarop.  En alhoewel dit 3 baie vol dae was, en ons hard gewerk het, was ons energiek in plaas van moeg na elke dag.

Een ding wat egter net weereens bewys is, is dat jou huis maar die beste bly!  Met die afklim op Kaapstad was die eerste ding wat jy hoor ‘n Vuvuzela, jy kan die Spur kos ruik, en die outjie by Paspoort beheer het my in Afrikaans gegroet met ‘n “welkom tuis Adele”.  Wie wil dan nou nie hier bly nie!

Leave a Comment

Your email address will not be published.