Draai links… Herbereken!

Party dae wonder ek waar ek op hierdie oomblik sou gewees het as dit nie vir my GPS was nie.  Heel moontlik nie hier besig om te skryf nie!  Want wragtag, daai klein dingetjie het my al gered uit verskriklike situasies.  Lewensgevaarlike situasies om eerlik te wees.

Soos die keer toe ek Durban toe moes gaan vir werk.  My direkte hoof was daar, en ek moes gaan vir opleiding.  Hulle het my in ‘n baie fancy hotel ingeboek, en ‘n splinternuwe Polo gegee om mee rond te ry.  Ek het maar vir ou Garmin saamgevat, is darem soveel makliker as ‘n kaart.  So tik ek al die vorige aand die adres van die tak in soos aan my deurgegee, deur my baas.  Sommer die hotel se adres ook.  En ek voel heel gerus, want dit lyk nie of dit moeilik gaan wees nie.

Nou alles sou mooi uitgewerk het, as my baas nie ‘vergeet’ het dat die tak reeds 6 jaar terug geskuif het, en hy vir my die verkeerde adres van ‘n ou briefhoof af gestuur het nie.

En waar die vorige tak was, is nou ‘n massiewe, xenofobiese, volksvreemde plakkerskamp.  En ek met my wintervelletjie en splinternuwe Polo ry straight-bang binne-in die kamp in.  Want Garmin het so gesê!

Bygesê, dit was nie Garmin se skuld nie, dit was my baas s’n.

Ek dink nie ek het in my lewe al so dringend gebid soos op daai oomblik nie!  Daar is nie eintlik paaie nie, meer gat as pad.  Langs die pad lê ‘n dooie koei… ‘n Fries koei!  Ek moet uitswaai na ‘n ander gat om nie bo-oor hom te ry nie.  ‘n Duisend hoenders loop oor die pad, en een van die inwoners wys ek kan maar ry.  Ek onthou nou nog die gedagte wat by my opgekom het: “Kill your own lunch!”

Wel, lang storie kort, my Garmin het my gered.  In desperaatheid het ek “HOME” gaan kliek, al is dit ‘n duisend kilometer vêr.  Hy het my daar uitgekry, en ek het langs die hoofweg gestop (ja ja, ek weet dis onwettig) net om my asem weer terug te kry.  Ek was 2 ure laat vir werk, maar het hom gekry na 3 oproepe en ‘n internet search!

Daar ry nou die dag iemand saam met my in my kar, en die persoon het het nog nooit ‘n gps gesien nie.  Ons moet deur vreeslike draaitjies ry, en my Garmin is geweldig spraaksaam.  My passasier kyk vir Garmin so, en sê “jislaaik, jy praat baie!”  Ons klim toe daarna op die hoofpad, en Garmin is tjoepstil, want daar lê 30km van reguit pad voor.  My vriend lyk baie bekommerd, en draai na my en vra: “Dink jy sy is nou kwaad vir my?”.

Ek probeer nogals deesdae om op te let hoe ek ry, sodat ek die pad ‘n tweede keer dalk sonder die Garmin kan ry.  Ek wil tog nie soos daai ou in Duitsland wees wat sy gps so slaafs gevolg het, dat hy gedraai het, reg deur ‘n padversperring gery het en in ‘n opslaan toilet tot stilstand gekom het nie.

En ek kan darem nou al self, sonder gps my huis kry van die werk af 😉

1 Comment

Leave a Comment

Your email address will not be published.