Die Xhosa Toilet

Ek het al voorheen oor taal en die verwarring wat dit kan veroorsaak geskryf.  Ek het ook al voorheen oor toilette geskryf.  Maar gister het ek ‘n oomblik gehad waar taal en toilette netnie wou saamwerk nie!

Ons het ‘n stuk grond in Khayelitsha.  Ek was nog nooit voorheen daar nie, maar ons neem nou van die bedrywighede daar oor, en ek moes gaan files optel.  Kan ek ook net bysê dat ek aangenaam verras was met die plek.  Dit is baie mooi, en ons het selfs ‘n dowe skool, en ‘n sentrum vir outisme daar.  Als baie mooi.

Maar dit is nogals ‘n entjie se ry van ons gewone kantore af, en toe ek daar aankom groet ek almal so knyp knyp.  Die kantoortjie waar ek moet wees lyk bitter klein van buite, gladnie asof daar ‘n badkamer binne kan wees nie.

Gelukkig af in die gang sien ek die teken van verligting, mooi in bold, Times New Roman staan hy, “TOILIT”.

Die spelling worry my nie, en ek glip in.  En dis toe ek die deur toemaak wat ek oorweldig word deur 3 plakkate agterop die deur.  Ook almal bold, Times New Roman, maar bietjie kleiner gedruk.  Een so skuins bo die handvatsel, ene mooi in die middel, en ‘n laaste so skuins bo hom.

En hulle is almal in Xhosa…

Nou kyk, ek het myself al toegesluit vantevore (en ook daaroor geskryf) so ek is bitter versigtig as dit by vreemde ‘toilits’ kom.  Sal hierdie plakkaat langs die handvatsel dalk sê “moenie die deur sluit nie”?  En dalk sê die een in die middel “moenie die toilet gebruik nie”?  En wat gaan gebeur as ek enige van die goed doen?

Wel lang storie kort, ek het die kans gevat en die deur gesluit, en wonder bo wonder het hy gemaklik weer oopgesluit.  Die toilet was weliswaar ‘n taamlike dodgy affere, maar niks het weggespoel of afgeval of middeldeur gebreek terwyl ek daar binne was nie.

Nou dit mag dalk na ‘n stupid storietjie klink.  Maar vandag het my laat besef dat ek regtig ‘n poging moet aanwend om bietjie Xhosa te leer.

En nee, ek het nie fotos geneem van die posters nie.  Wie gaan met sy selfoon/kamera toilet toe?

Leave a Comment

Your email address will not be published.