Die tannie in die kas

Om te ontvlug uit die dooie niks wat accounting is (vir my altans) het ek ‘n paar poste gevul by die groot corporates voor ek uiteindelik ‘n gemakliker holte van non-profits gevind het.  Elke werk het sy goed en sleg gehad, party baie meer sleg as goed.  Maar as daar nou een episode is wat ek nooit sal vergeet nie, is dit die dag toe daar ‘n rooikop tannie uit die kas gedop het in my kantoor.

Die corporate wat op daai stadium die ‘flavour of the month’ was, het dakteëls vervaardig.  En dit is dit.  Vreeslik vervelig ek weet, maar iemand moet dit doen.  Dit was ook gevaarlik.  Ons moes medicals deurgaan voor ons daar begin werk, en ook as ons weggaan.  Ons moes reflective vests dra as ons dit durf waag buite die kantoor, en goeters oor die ore as jy ‘n tree gee in die fabriek se rigting.

Maar, ek het die grootste kantoor ooit gehad, net vir myself.  Ek belowe, die kantoor was groter as my woonstel.  Ek het ‘n lessenaar gehad so groot soos my kombuis.  ‘n Leë boekrak, visitors chairs en selfs ‘n geraamde ding teen die muur.  Oh, en ‘n huge entertainment kwota wat ek maandeliks moes gebruik.  Dis tog jammer ek kon tot vandag toe nognie uitfigure wat de dinges ek veronderstel was om by die maatskappy te doen nie.

Maar so sit ek in my super kantoor die dag, besig om aan iets te knibbel, siende dat dit nou lunch is.  Net voor lunch het ek gou op my daaglikse uitstappie na die poskantoor, die deli en Chicken Licken toe gegaan.  Niks buitegewoons nie.  Nou kan ek dalk ook net noem dat ek so ‘n inloop kas ding in die kantoor gehad het, maar dit het net die rekenaarserver bevat, en ‘n sitkamer bank (heaven knows why!), en aangesien ek nie eers genoeg gehad het om my boekrak vol te maak nie, het ek ook nie genoeg gehad om in die kas te sit nie.

Maar so sit en eet ek ‘n ou broodjie, en sluk die volgende oomblik die ding amper heel in!  Die kasdeur is besig om oop te gaan, en ‘n rooikop tannie wat ek nog nooit gesien het nie pop uit.

Ek skrik so groot, ek gil.  En dis nie my gewone reaksie nie, so ek moes regtig groot geskrik het.  Die arme vrou skrik net so groot, en spring om een of ander weird rede terug in die kas.  Die gil is nie algemeen in die kantoor nie, en dis ‘n sekond of twee toe is die produksie bestuurder in my kantoor.  Ek staan met ‘n halwe broodjie in die hand, en is effe bleek.

En al wat ek kon antwoord toe hy wou weet wat fout is, is “Daar’s ‘n rooikop tannie in my kas”.

En soos met alles is daar toe eintlik ‘n baie logiese verduideliking.  Die “tannie” is Janet, ons kwaliteits bestuurder.  En sy is ‘n Ier, met rooi hare.  En vir jare al gebruik sy my kas om oor middagete ‘n bietjie te kom rus.  Sement stof doen snaakse dinge aan ‘n mens.

Ek het nie vreeslik lank daar gewerk nie.  Ek kon nog die ‘nie-weet-wat-om-te-doen-nie’, die protective gear en die geraas hanteer.  Maar as iemand uit JOU kas dop, dan praat ons weer.

2 Comments

Leave a Comment

Your email address will not be published.