Die Leeukat

Mens kry kat-mense, en mens kry hond-mense. Ja sure, mens kry seker ook voël-mense (shame) en vis-mense, maar die oorgrote meerderheid is verdeel tussen feline en canine. Ek is ‘n hond-mens, omdat ons nooit ‘n kat gehad het nie, en hulle laat my bietjie nies, en jy kan hulle nou nie juis allerhande tricks leer nie. Bietjie vervelig in my opinie.

Nou die onbekende bring dikwels vrees mee, en dis dan ook nie snaaks dat ek ‘n klein bietjie bang is vir katte nie. Nou nie net die swart kat wat jou pad kruis nie, maar enige ene. Sien, volgens Wikipedia is die kat deel van die leeu familie. Wel, eintlik is die leeu deel van die kat familie, maar feit bly staan, hulle is verwant, en vir my is dit genoeg rede tot vrees.

Ek het net ingetrek in my nuwe plek. Aangesien ek op die boonste verdieping bly, maak dit nie sin om diere aan te hou nie (en ek is nie die voël of vis soort nie). Die vorige eienaars het egter nie my siening gedeel nie, en het tot kort voor hulle getrek het, ‘n tipe van kathoerhuis gerun. Ek onthou vaagweg dat daar ‘n ry kosbakkies op die vloer gestaan het toe ek oorspronklik na die plek kom kyk het, maar ek het gedink hulle is net besig om te pak en hou dalk van hulle goed in sulke rytjies gepak.

So is dit hier in die omgewing van 6 uur, somer en lekker warm. My voordeur en skuifdeur is oop, om enige trekkie in te nooi, en ek sit gemaklik en 7de laan kyk, met ‘n koue enetjie in die hand.

Die volgende oomblik, uit die hoek van my oog gewaar ek iets donker beweeg. Skrik my besimpeld, want ek het seker gemaak die hek is gesluit! En ek gooi die Montel move, jy weet, gil en spring! En die arme kat skrik groter as ek! En in plaas van omdraai en terughardloop, skiet hy op volle vaart dwarsdeur die woonstel, uit op die balkon!

Nou onthou, vir my is ‘n kat net so goed soos ‘n leeu, ek sweer, jy kan ‘n gemmerkat in die Kruger Wildtuin vir my wys, en ek sal vir almal gaan vertel ek het ‘n leeu gesien!

So my instink skop in, en met een tree is ek by die skuifdeur, en klap hom toe. Maak seker al die vensters is toe, vreesbevange die kat/leeu gaan weer inkom en my aanval. En toe sit en kyk ek en katjie vir mekaar deur die ruit. Hy so half vasgekeer, want blykbaar spring hulle nie sommer verdiepings af uit vrye wil nie. En ek ook vasgekeer want hoe gaan ek nou ooit weer kan uitgaan op my balkon!

Nou ek weet regtig min van katte/leeus af, maar een ding het ek iewers gelees, en dit is dat hulle nie van water hou nie. So my kop vertel vir my dat as ek hierdie kat van my balkon af wil hê, moet ek hom natgooi, net sodat hy skrik, en dalk self afspring of iets. So ek kry toe ‘n ou glasie met ‘n baie klein bietjie water. En soos ‘n wafferse soldaat lê ek aan, pluk die skyfdeur oop, en met ‘n kolskoot tref die paar druppels die kat. Skuifdeur weer toe, en ons sit weer en kyk vir mekaar. Maar die ou bietjie water was nou net te min gewees om die kat weg te jaag, maar ook net genoeg om hom goed die moer in te maak!

Want die volgende oomblik draai die kat na my toe, kyk my stip in die oë, en piepie my hele hoop charcoal papnat!! Ek kon die wraak in sy oë sien!!

Angsbevange het ek die gordyne toegetrek, en probeer om my aandag af te lei met die laaste stukkie van 7de laan. Moes ‘n sterker drankie gaan gooi om myself te kalmeer. Na ‘n rukkie het ek weer gaan kyk of kat nogsteeds daar is, en wonder bo wonder was hy weg! Geen idee hoe hy afgekom het nie, maar al wat van hom oorgebly het op my stoep was ‘n nat kol (en dit klink wreed, maar vra jouself wie is die eintlike slagoffer hier).

Na dese is ek meer oortuig as ooit vantevore dat ek ‘n hond-mens is. Ek kyk nie eers na ‘n kat in ‘n pet shop nie. En o ja, katte skinder blykbaar geweldig! Want dis nou al 8 jaar, en ek het nog nie weer ‘n besoek van die feline groep gehad in my woonstel nie! En ek kla gladnie!!

Leave a Comment

Your email address will not be published.