Die einde… met ‘n bang!!
Ek het taamlik lanklaas ‘n droom gedoen. Die knie se ontydige “snap” het dit bietjie moeilik gemaak, en wou nou nie ‘n kind se lewe in gevaar stel deur met ‘n af knie te bestuur nie. En toe hierdie afgelope Saterdag toe doen ek my “comeback” droom.
En ons besluit om bietjie planetarium toe te gaan.
Nou kyk, dit was nie ‘n slegte idee nie, en die droom het op die ou end baie goed uitgewerk. Ek het ook die sterre geniet, en na die tyd se McDonalds het heel skaflik afgegaan.
Waarmee ek egter nie rekening gehou het nie, is dat Saterdag veronderstel was om die einde van die wêreld te wees…
Gewoonlik steur ek my nou net gladnie aan sulke voorspellings nie. En ek het ook nie Saterdag nie. Maar so staan ek in Kaapstad se tuine rond, en wag vir die meisie om te arriveer. Dis regtig pragtig! Die tuinier ry verby my, en stop sy golfkarretjie om eers te groet en dis toe wat hy so in die gesels vir my vertel dat dit nou ‘n jammerte sal wees as die wêreld vandag tot ‘n einde kom, want hy het nou net die gras gesny. En dis die eerste wat ek van so iets onthou!
Na ons gegroet het, begin ek aanstap na die planetarium toe. Die volgende oomblik is daar ‘n geweldige knal, en ek kom Shoprite-polonie-dikte naby aan ‘n ongelukkie. Ek onderdruk ‘n gil met moeite, en wil net platval, toe ek besef niemand rondom my is in die minste gepla deur hierdie oomblik nie! Die ou met die Stephen King boek lees rustig voort, die meisie wat die eekhoring voer doen dit nogsteeds, en nie eers die outjie in die stootwaentjie wat bolle spookasem in sy mond druk is gepla nie.
As jy weer in die Kaap kom, moet jy tog ‘n draai maak daar in die tuine, dis pragtig. Onthou net van die bleddie kanon wat elke dag 12 uur afgaan!