Die ding by die pot…

Nie dat ek daarvan hou om oor my toiletbesoeke te skryf nie, maar om een of ander rede gebeur die snaakste goed op hierdie uitstappie wat ons almal maar van tyd tot tyd moet onderneem.  Ek is weer ernstig op die gesond eet en oefen regime (ja ek weet, been there done that) en neem dus ook baie water in.  My besoeke is effe meer as gewoonlik.

Nou die toilet in ons kantore is ‘n ‘no-go’, behalwe as jy op onmenslike tye werk en alleen in die kantoor is.  Niks fout met die arme pot nie, maar hoekom hy ‘n deur het sal niemand weet nie, die ding is so ‘oop’ en ‘hoorbaar’ dat jy net sowel jou ding kon doen daar op jou stoel, reg in die ontvangsarea.

Gelukkig hoef jy darem nou ook nie heeldag te knyp nie, want  by die eetsaal is twee dames hokkies en agter die kombuis is ook ‘n ekstra een.  Laasgenoemde voldoen egter nie altyd aan my streng standaarde nie, so ek time my besoeke vir wanneer die hele eetsaal nie beset is nie.

So is dit een pragtige dag laasweek weer sulke tyd, en ek loop vinnig eetsaal toe.  Dié is leeg, maar tot my skok en ontsteltenis moet ek uitvind altwee toilette is beset! Dan maar oorstap na die toilette by die swembad.  Nie my eerste keuse, maar is beter as die kombuis toilet.

Die swembad toilette het ook 2 hokkies.  Ek het iewers, lank terug in ‘n tydskrif gelees dat as jy na ‘n publieke toilet gaan moet jy altyd die 1ste hokkie gebruik.  Tipies is dit die een wat die minste gebruik word aangesien mense altyd mik vir die verste, mees weggesteekte ene.

En ek pluk aan die eerste hokkie se deur, en kry ‘n ligte gilletjie van binne, “beset!”.  Ek mompel ekskuus en gaan toe maar na hokkie nommer 2.  Simpel vrou wat nie kan toemaak en sluit nie.

Ek het net mooi my sit gekry, toe begin die vrou wragtag met my praat! Ek wil my eers vererg, want wie doen dit nou in ‘n toilet? Haar woorde laat my egter oombliklik die rede vir my besoek vergeet: “Jy moet sien, hier is ‘n REUSE spinnekop hier by my”.

Ek verstik in my tong, vlieg op en begin soos ‘n wafferse troep my hokkie secure. Deur die dun muur probeer ek noodsaaklike inligting kry oor hierdie spinnekop. Presies waar sit hy, hoe groot is ‘reuse’ en lyk hy moerig?

Toe my bewende vingers uiteindelik die hokkie oopkry staan die dame by die spieel en haar grimering doen.  Kyk, sê sy, mens kan sy pootjies deur die gleufie sien.  En sy beduie na iets wat lyk soos daai dik swart liquerice wat by die deur se opening uitsteek.  Ek kom net daar agter dat ek eintlik ‘n sopraan is, en los die dame met haar make-up net daar.

Dankie tog die swembad het ‘n reëling om, anders het ek sweerlik op water geloop.  Ons kelner, Michael was my held toe hy alles los en die ding gaan vang.  En vir daai vrou… ek ken haar nie, maar het ‘n grote respek vir haar.  Daai hokkies is klein, en die spinnekop was groot!

En ek belowe ek sal nie weer oor ‘n toilet of ‘n spinnekop skryf nie…

Leave a Comment

Your email address will not be published.