Die dag toe ek amper gesing het

Eendag, lank gelede… Nee, dis die verkeerde begin.  Dis nie so lank terug nie, en dit is verseker nie ‘n sprokie nie!  Dit was die grootste lewensles wat ek ooit geleer het, en ek sal dit vir ewig onthou.  Dit was die les in EQ, oftewel, emosionele intelligensie.

Die maatskappy waar ek op daardie stadium gewerk het se beleid was om sy werknemers absoluut enige opleiding te gee wat hulle mag help in hulle werk.  En die beste was dat jy self tot daardie besluit kon kom.  Na deeglike oorweging het ek onder andere besluit op EQ en “assertiveness”.

Nou oor die “assertiveness” training sal ek maar liewers nie praat nie.  Duidelik was dit ‘n flop van epidermiese proporsies.  Maar die EQ het iets by my agtergelaat.

Dit was ‘n pragtige lente oggend, voëltjies wat sing en daai dinge.  Die kursus sou 9 uur begin by Sanlam se hoofkantoor in Bellville.  Vir my wat op daardie stadium in Stellenbosch gewerk het, was hierdie ‘n welkome laatslaap oggend, aangesien ek gewoonlik al 6:30 uit die huis was soggens.  Op die oog af ‘n perfekte dag uit die kantoor.

Ons was 9 in die kursus.  Almal outjies wat of self besluit het of wie se base vir hulle besluit het.  En almal daar met ‘n doel, ons wil emosionele super heroes raak.

Die lokaal was nice, flippen groot vir ons 9, maar ten minste sou dit nie een van daai bedompige gedoentes hier by lunch word nie.  En Sanlam se diens by sulke trainings was nog altyd fantasties, ons welcome snacks het gelyk soos kos langs ‘n rooi tapyt.

Die eerste helfte van die oggend was maar taamlik gewoon, in fact, dit het op die randjie van verveling gaan draai.  Ons sit en maak notas en luister na die klein mannetjie wat met eindelose energie en hope EQ daar voor rondtrippel.

En die volgende oomblik kondig hy aan dat ons nou 2 minute het om aan ‘n liedjie te dink, na die 2 minute gaan ons individueel voor die groep kom staan, en die liedjie vir 2 minute sing.  Jy mag nie korter as 2 minute sing nie, en jy MOET die regte woorde sing.

Ewe skielik is ek nie meer in ‘n mooi training lokaal met genoeg aircon nie.  Ek is vasgevang in die bedompige, kan-nie-asem-haal hel van sang.  Kyk, die koor juffrou het my in sub A en sub B toegang tot die koor geweier en later toe ek weer lesse probeer neem is vir my vertel ek moet nou maar regtig eerder ‘n ander talent soek.

Wel, so sit ek daar, angsbevange vir my 2 minute van hel, en al bleddie liedjie waaraan ek kan dink?  Grace Kelly van Mika.  En net die koortjie!  (Gaan kyk, ek het dit onder liedjie van die week gesit).

Nou hoe de dinges gaan ek, wat nie KAN sing nie, vir 2 minute lank die koortjie van Grace Kelly sing, wat by the way oor iets soos 20 oktawe strek!  En voor al die mense?  Want ewe skielik lyk die ander 8 soos ‘n skare by Nuweland!

Die meisie aan my regterkant gaan aan die bewe, sy het 3 weke gelede getrou, en kan om die dood toe nie die liedjie onthou waarop hulle die dansvloer geopen het nie.  ‘n Entjie verder af in die ry klink die een ou of hy hier en nou gaan siek word.  Ek sing oor en oor en oor in my kop “I could be brown, I could be blue”.

Die 2 minute is verby, en die meisie aan my linkerkant spring fluks op, en trek weg.  Ek sien net spierwit mure, en weet skielik hoe dit voel om in ‘n gestig te wees.  Die liedjie wat sy sing is onbekend, maar sy sing woorde.  Verskilendes, nie net die koortjie nie.  En ek kom skielik tot die besef dat ek volgende is.

Ek begin wonder of mens jouself kan dwing om flou te val.  Maar sê nou ek val en kap my kop, dan is die IQ sommer ook daarmee heen.  Ek begin bid, vir enigiets, voedselvergiftiging, dak-ineenstorting selfs ‘n aanval van diarree sou welkom wees.

Sy is klaar gesing, en ek is KLAAR!  Ek knyp my oë styf toe, haal diep asem en…

Toe is alles verby.  Die meisie is in die klas geplant vir effek.  En dit was alles deel van die oefening.  Die meisie langs my begin histeries lag, ek wil amper huil, en die naar ou hardloop uit die klas uit, om nooit weer sy verskyning te maak nie.

Ons is daarna in detail geleer hoe om sulke situasies te hanteer.  Ek moet eintlik weer bietjie gaan lees deur my notas, wel, die wat ek gemaak het na daai episode.  Sekere goed het ek bietjie vergeet.

Maar een ding het ek daai dag besluit.  Nooit ooit weer, nie by ‘n karaoke nie, nie by die kerk nie, nie eers vir iemand se verjaarsdag, sal ek gedwing word om alleen te sing nie.  En al is dit dan nou die hoogste vlak van “assertiveness” en EQ wat ek ooit sal bereik… So be it!!

2 Comments

Leave a Comment

Your email address will not be published.