Dead Sea Mud… en Clara, is ja!

Dit was ‘n doodgewone Saterdag namiddag.  Ek het my selfoon kabel by die werk vergeet, en besluit om vinnig ‘n draai te gaan maak in Tygervallei.  Nou die been is nognie helemal lekker nie, so ek trek my gemaklike oefenbroek aan, wat darem die bestuur met die stut makliker maak, en ry die 3km mooi versigtig.

Om by die winkel uit te kom wat die kabels verkoop, moet jy verby ‘n paar stalletjies stap, meeste van hulle verkoop boring duur goed wat jy nie nodig het nie.  Ek kry dit reg om my roete so te loop sodat ek net regtig moet sidestep vir een stalletjie.

Met die gaan slag kom ‘n langerige adonis van die stalletjie op my af met ‘n buisie handeroom.  Pleks ek maar sy offer vir ‘n hand massage aanvaar, maar nee,  ek en my afbeen mission aan na die selfoon winkel.

Sien, as ek sy roompies gevat het, het ek ‘n verskoning gehad met die terugkomslag.  Want hierdie keer, keer ‘n kort vroutjie my voor, sy moet glo dringend vir my iets wys.  Ek beduie dat ek eintlik bietjie haastig is, maar shame, sy praat soos Clara van die laan, en dalk het sy regtig ‘n probleem.  Yeah right!  Sy gryp my een vinger, en bring so ‘n snaakse boksie dingetjie uit waarmee sy die nael begin poleer.  En daar staan ek so bietjie soos ‘n poepol, met my adidas broek, ‘n moewiese beenstut en sy vryf my nael.

En let wel, dis nie asof sy my ‘n manicure gee nie.  Dis net EEN nael!!

Terwyl sy besig is, vertel sy vir my dat sy nie van Suid-Afrika is nie, en ek moet myself keer om te vra of sy dalk van Bucharest is.  Met haar beperkte Engels klink dit toe egter of sy daar in die Dead Sea, tussen die modder gebore is!  Die vrou ken elke mineraal daarin.

“Are you prepared to be amazed?” Ek voel of ek op een of ander gameshow is, en wens ek kon hardloop, maar helaas.  “Are you ready, please don’t shout when you see, we’re in a mall”.  Nou dit is ‘n genuine oulike manier van ‘n ding probeer verkoop, maar met die aksent, en die feit dat dit in die middel van ‘n winkelsentrum is, klink dit net skreeusnaaks!

Die nael lyk toe eintlik baie mooi, en sy beweeg vlugtig aan na ‘n volgende produk.  Die trick is blykbaar om my “addicted” te maak aan soveel as moontlik van hierdie Dead Sea minerale voor sy my verloor.

Weereens probeer sy ‘n geselsie aanknoop terwyl sy nou my hande begin invryf met iets wat soos Cerebos sout lyk.  Sy begin my vertel hoe ‘n fikse persoon soos ek seker nie baie tyd het nie, so hierdie sout is perfek, want dit werk vinnig.  Nou kyk, as ‘n sweetpakbroek en ‘n stut jou “fiks” maak, dan sal ek dit maar meer gereeld dra.

Teen die tyd is ek toe al bietjie moeg van die hele storie, en ek wil huistoe, en haar goed is in elk geval helemal te duur.  Sy probeer toe egter nog ‘n laaste keer, en vra my of ek die modder van die dooie see ken.  Ja, sê ek, ek het by die huis.  En streng gesproke het ek nie gejok nie.  Dit het immers gereën in die week, en daar is plantbakke op my stoep, wat beteken ek HET modder. Of ek dit nou op myself sal gebruik is ‘n ander vraag, een wat ek gelukkig nie hoef te antwoord nie.  En ek twyfel baie sterk of my modder al ooit naby die dooie see was.

Wel, ek is daar weg met ‘n blink gepoleerde nael, ‘n sakkie met ‘n roompie en die voorneme om vir ten minste die volgende 2 maande eerder my shopping op ‘n ander plek te gaan doen…

Leave a Comment

Your email address will not be published.