Bogger met my bubblegum

Ek slaap gewoonlik baie goed, en word nie in die nag wakker nie.  Wanneer dit wel gebeur is dit gewoonlik omdat ek met ‘n groot beker hot chocolate bed toe is.

Vanoggend 2am toe word ek egter wakker, en iets sê vir my kyk by die venster uit.  Sit selfs my bril op.  Ek sien toe ‘n jong man met ‘n hoodie rustig besig om my kar oop te maak…. so asof hy net verdwaal het, of dit dalk oornag sy kar geraak het.  

Ek gryp my buurtwag flits wat alles van hier tot Durbanville kan verlig, wat nag in dag verander met die druk van ‘n knoppie en die man skrik toe seker… want hy loop toe baie chilled weg in die kompleks in.  Dalk het ek hom verblind, die flits se verpakking sê nie verniet ‘small sun’ nie.

Daai tyd van die oggend het dit gereën, maar ek is hier uit met pajamas en al, maar iewers het ek hom verloor.  En ja, ek is nie gewoonlik so stupid nie, maar hy het so chilled gelyk, asof dit doodnormaal is om iemand anders se kar in die middel van die nag oop te maak.  En dit is regtig verkeerd as jy mense in jou eie kompleks se karre oopmaak – ons is doodseker die ou is ‘n local.

Ewe skielik was ek vreeslik bly dat ek nooit goed in my kar los nie, en ook dat my touchscreen fisies deel is van die dashboard. En ook dat die ou blykbaar van een of ander remote jamming ding gebruik gemaak het, want al my vensters is heel en daar is geen krapmerke nie.

Ek het egter die beste bure en familie. Daar word planne beraam van vislyn aan blikkies en kameras en alarms, gedokterde chocolates en die kar koppel aan die electrified fencing tot ‘n worsbraai as ons die ou gaan vang… dit sal dan ook net hy wees wat by dié braai eet… sies!!

Vir ‘n oomblik het ek daaraan gedink om ‘n troetelslang te kry en hom op my agtersitplek te laat bly.  Die probleem met dit egter is dat ek dan ook nooit weer met my eie kar sal ry nie… ek is mos so bang vir slange.

So al wat in my kar was, is ‘n masker, hand sanitizer en bubblegum.

Hy het die bubblegum gevat

Ek is nogals hartseer daaroor.

Dit was genuine lekker bubblegum.

En die bogger het nie eers ‘n masker aangehad nie!