A is vir Adéle

animalalphabet‘n Paar weke terug het ons my werk se AGM gehad.  Nou as jy nie weet waarvoor AGM staan nie… dan bly jy tien teen een in ‘n lekker gemaklike huis, vêr genoeg van jou bure om nie te weet wat hulle aandete is nie.  Jy werk waarskynlik ook nie.  (Annual General Meeting, vir as jy ook nie weet hoe om google te gebruik nie).

Nou ek is goed vertroud met hierdie tipe vergaderings.  Ek bly immers NIE in ‘n groot huis nie, en moet elke jaar so een bywoon.  En ons het hom nou al so reg gekry dat jou koppie koffie by die huis nog so lou sal wees teen die tyd wat ons klaar is.  Chop chop.

Nou die werk se vergadering was ‘n ander storie.  Nou nie uitermate lank nie, maar ek bly nie by my werk nie, so het nou nie regtig ‘n saak oor of die geboue duifblou of duifgrys geverf gaan word nie.  Maar nogtans is dit ‘n belangrike geleëntheid vir die mensies.

Met die nader kom van die vergadering is ek toe nou so rofweg 4 maande daar, en darem al permanent aangestel.  Almal stres vreeslik, en weke voor die tyd al word daar gewerk aan powerpoint slides en toesprake en volmag vorms.  Projektors en mikrofone word getoets, en weer getoets. Ek en my bestuurder het lang gesprekke oor persentasies en grafieke.

Uiteindelik breek die dag aan, en dit voel amper of daar vanaand ‘n internasionale produksie van Phantom gaan plaasvind, reg daar in ons eetsaal.  Die kostannies trek hulle nuutste uniforms aan, nuwe tafeldoeke word aangery en die projektor skerm kry eers sy staan nadat ‘n komitee gestig is vir hierdie doel.

En toe gaan sit hulle wragtag vir my ‘n stoel reg voor, so skuins na links neer.  Nou moet ek ook net noem dat in die land van die blindes, of in my geval die bejaardes, is ek blykbaar die enigste een wat die powerpoint presentation kan beheer sonder dat die rekenaar opblaas of alles uitgevee word. Vandaar dan nou hierdie unfortunate posisie.

So stroom die mense in, natuurlik meer vir die sop, brood en wyn na die tyd.  Want wragtag, dit stormreën buite, maar die mense kom!  En die eetsaal bars uit sy nate.  Ek sit soos ‘n sirkus apie reg voor met die laptop en smile dat my wange lam raak.

My 3 kollegas neem stelling in aan die agterkant van die saal, reg met ‘n spaar mikrofoon, batterye en ‘n noodhulpkissie.  Jy kan die spanning in die lug voel.

Alles loop klopdisselboom, regtig goed, ek druk my knoppie op presies die regte oomblik, die sprekers praat kort en kragtig, en die sop roep duidelik hard, want niemand vra vrae nie. Buiten vir die oomblik toe die voorsitter van instandhouding komitee almal meëdeel dat die uitgang na die gronde vir 3 maande gesluit sal wees, is daar ook nie enige gevaar oomblikke nie.

En toe moet die voorsitter van die finansies komitee sy 2 sinne sê…

Innig bedank hy eers my bestuurder vir die harde werk wat in die voorlegging ingegaan het, en toe vir my:  “En baie dankie vir jou harde werk en geduld Adeeelhuh”

Soos een man ruk my drie kollegas se koppe op uit hulle semi-slaap daar agter, en ek probeer alles en almal om my uitblok.  Jy kan verwarring sien op die see van gesigte.  Party wonder of hulle my nog die hele tyd verkeerd aanspreek, ander sit en lag, en party staan amper op uit hulle stoele om te probeer sien wie hierdie ‘nuwe’ persoon is wat so hard werk en so geduldig is. Die kollegas en verskaffers begin oor en weer whatsapp, en ek moet my foon in my sak druk om die flikkerende liggie weg te steek.

Wel, ons het almal heel en in een stuk aan die anderkant van daai vergadering uitgekom.  Die sop was heerlik, die wyn het gehelp en ek kon nog my beauty sleep inkry voor die volgende oggend se werk.

Dis meer as ‘n maand later, en my kollegas (asook die tuinman, kostannie en handy man) begin nou nog eposse of sms’e na my met “Adeeelhuh”.  Die inwoners is verward, en noem my enigiets van Adéle tot Adeil tot Adeelhuh tot Aaaadill.

Ek reageer maar op alles.

Dankie tog ek het net een naam …

1 Comment

  1. Adele, Dankie. Het nou jou blog ontdek en sal jou stories so een, een deurwerk. Hou so aan.

Leave a Comment

Your email address will not be published.