Die spook skop gat!

Twee van my kollegas neem selfverdedigings klasse. En ek het altyd gedink dit is nogals ‘n heel handige ‘skill’. Taamlik intens, maar steeds handig. Soos ‘first aid’ of ‘n PDP. Jy hoop jy gaan dit nooit nodig kry nie.

Ek self het bietjie skopboks gedoen en ek is seker die dansklasse voor my suster se troue kan ook as selfverdediging gesien word. Vir die res slaan ek net oor na Engels toe. Dit werk meeste van die tyd.

Onlangs moet een kollega toe egter bietjie laat werk, en ek bied aan om ook laat te bly, want almal weet ons gebou spook en dis darem ‘n effense vertroosting as hier nog ‘n asem is, al is jy ‘n expert in selfverdediging.

Gou vyf uur ‘n glas wyn gedrink (don’t judge, ek werk op ‘n wynplaas!!) en ‘n pizza gehap (ja, ons het ‘n pizza oond ook!) saam met die ander kollegas voordat hulle die pad vat huistoe, en ons terugkom kantoor toe. Nie regtig baie lus vir die taak wat voorlê nie, en na die bietjie wyn en carbs voel ons nou eers lui.

Ons sluit die deure en maak vensters toe, en trek met mening weg. En ons kry verskriklik baie gedoen, skink nog ‘n bietjie wyn vir morele ondersteuning en werk vir ‘n vale.

Dit is toe ons nie meer ons bene kan voel van die koue nie dat ons besluit om gou ‘n break te vat en bietjie buitentoe te gaan. Ons gebruik die sydeur, dit loop uit op ‘n klein stoepie wat reg langs die funksie lokaal is. Dit is doodstil op die plaas, en BAIE donker. Daar is nie ‘n buite lig nie, ek dink nie dit was al ooit nodig vir een nie. Doodrustig staan ons bietjie rond en rek en strek, toe iets my oog vang.

“Haai kyk”, sê ek, “daai mense werk ook bietjie laat”.

My kollega het baie duidelik nie gesien wat ek sien nie, sy trek weg, alle selfverdediging vergete en hardloop dwars deur my (net my sterk been struktuur het gekeer dat ek nie plat neergeploeg het nie) binne in die gebou in.

Dit is toe wat ek besef die ‘mense’ wat ek gesien werk het in die funksie lokaal is ons, in perfekte refleksie. En dat ons werklik alleen hier is.

As jy ander mense vra sal daar waarskynlik verskillende variasies van die storie wees. Goed soos dat sy my eintlik wou beskerm, en nie plat hardloop nie. Of dat ons meer wyn gehad het as wat ons besef het. Of dat dit Maria, die spook was.

Al wat ek weet is dat ek maar sal bly by my eie selfverdedigings tegnieke, en as niks werk nie, dan sal ek maar net op die aanvaller gaan sit…

Die Hoender in die yskas

Kyk, dis nou al algemeen bekend dat hier ‘n klomp verskillende kulture saamwerk onder een dak, en ek is fine daarmee!

Maar een ding wat ek nognie mee fine is nie, is hoenderpote. Ook bekend as ‘runaways’ of ‘walkie talkies’ indien dit saam met die hoenderkop bedien word.

En ewe skielik besef ek waar die naam van daai nuwe Simba chips vandaan kom!

Waiter, Waiter!

“Ag, ek sal maar vir my ‘n ou joppie kry as ‘n waitress”

Dit hoor ek ‘n vriendin nou die dag sê toe ons praat oor maniere om jou inkomste aan te vul.  Toe ek haar natuurlik vra of sy al voorheen as een gewerk het, is die antwoord “nee, maar dis gelukkig maklik”.

En ek wil myself breek!

Want om ‘n kelner te wees, maak nie saak waar nie, is nie maklik nie!  Buiten vir lang ure op jou voete, betaal dit ook nie goed nie, en jy moet regtig goed wees en goeie fooitjies verdien om ‘n bestaan daaruit te kan maak.

Ek weet!  Vir twee jaar het ek as ‘n waitress gewerk, en alhoewel ek dit geniet het, en wonderlike mense ontmoet het, was daar ook tawwe tye so saam met die lag.  Van mense wat “vergeet” om te tip, tot mense wat kla sonder enige rede, hulle was almal daar.

So is ek dan ook een aand deur ‘n dronk klient opgetel (ja, hy het my fisies opgetel) en op sy bakkie gesit toe ek vir hom sy take away vat wat hy op die tafel vergeet het.  Dankie tog vir die vriendelike karwag!

Daar was die oog-rollers, wat elke keer as ek iets bring of sê hulle oë gerol het asof ek verskriklik stupid is.  Hulle het ook alles teruggestuur, want die brandewyn proe nie soos brandewyn nie (maar die tweede glas, wat die eerste glas was met net ‘n ekstra ysblokkie, was beter) en die chips is te sout (maar hulle het self die sout opgegooi).

Dan was daar ook die baie bekende orkes wat 15 minute voor toemaaktyd daar aankom.  Hulle was 12 mense, en twee van ons het spesiaal agtergebly tot die vroeë oggendure om hulle te bedien.  En na eindelose Windhoek Lights, groet hulle vreeslik vriendelik, met baie dankies, ‘n R2000 rekening, maar geen tip.

Ek moes ook al ‘n verklaring by die polisie gaan aflê oor ‘n baie grand couple, hoog gerook wat nie kon betaal nie.  Dit nadat hulle 500g rump steaks met hulle hande geëet het! Ek het nou nog die prentjie in my kop van die mushrooms wat uit die vrou se mond pop, omdat daar nie spasie is nie!

Die oomblik wat ek egter vir altyd sal onthou, het redelik aan die begin van my waitressing loopbaan gebeur.  Ek het nie baie geld verdien by my “dagwerk” nie, en moes elke sent ‘n hele paar keer omdraai.  Voor ek die aand na die restaurant gekom het, het ek gesien dat my krag eenhede baie laag is, en het ek ‘n mental note gemaak dat ek moet onthou om by die garage te stop oppad terug.  So kry ek ‘n wonderlike tafel, 4 vriendelike mense, gladnie demanding nie.  En toe hulle betaal, is daar R180 kleingeld.  Ek neem die boekie vir hulle terug, en toe die tannie vir my sê dat die kleingeld myne is, is ek so verstom, dat ek die enigste ding sê wat op my brein is! “nou kan ek gaan krag koop”.  Hulle moes seker gedink het hierdie arme kind wat in ‘n donker plekkie sit, en vanaand kan sy krag koop!  Hulle was ‘n paar weke later weer daar, en toe ek by die tafel kom en my voorstel was hulle woorde “ja, ons weet wie’s jy, ons koop vir jou krag”.

My punt is net dit, waitressing is ‘n great ekstra job.  Mens ontmoet wonderlike mense, leer sosiale vaardighede vinnig aan, maak partykeer lekker ekstra geld en het die voordeel van goedkoop kos.

Maar dit is nie so damn maklik nie!

My taal, jou taal, daai ander taal

In my lewe het ek nou al in ‘n paar plekke gewerk, maar nog nooit was taal so ‘n issue soos waar ek tans is nie.  Ok, miskien is issue die verkeerde woord, maar as jy ‘n paar mense bymekaar gooi, en hulle almal laat Engels praat, terwyl dit nie een van hulle se huistaal is nie, kan jy ‘n babelse verwarring te wagte wees.  Of net ‘n lekker lag.

Nou die tale wat ons mense praat is Afrikaans, Xhosa en Sjona.  Almal baie verskillend, wat ook maak dat selfs die Engels wat ons almal probeer praat in dialek verskil.

My eerste kennismaking met hierdie vreemde taal, was toe my kollega my vra of ek weet waar bu-thê-zig is.  Ek was bietjie verward, want ek ken nogals die kaap, maar selfs hierdie plek was vir my vreemd, en ek het reggesit met google om hom te help.  En toe begin hy spel… B O T H A S I G.

‘n Rukkie terug kom ons sekretaresse na my toe, nadat sy gaan kos koop het in Bellville CBD.  Ek kan sien sy is ietwat ongemaklik.  Aangesien ek Afrikaans is, en sy vermoed die woord wat sy gehoor het is Afrikaans, kom vra sy toe vir my wat beteken “jas”.  Nadat ek vir haar verduidelik het dat dit ‘n “coat” is, was die verwarring op haar gesig baie groot.  Blykbaar maak dit nou vir haar nog minder sin.  Sy het glo twee bergies hoor stry, en toe skree die vrou vir die man “ma djy is djags man!”  Nou hoe sou jy daai verduidelik het sonder om te lag!

Ek het self al ‘n bloutjie of drie geloop met my vinnig Engels praat, veral op die foon.  So het ons byvoorbeeld ‘n donateur wat vas glo my naam is Ietsadel.  Want toe hy my op die foon vra “who’s speaking now”, toe antwoord ek “it’s Adele”, dalk bietjie vinnig.

Vanmiddag met ete is ek weereens herinner aan hoe verskillend ons tale is, en het toe besluit dit kan nie ongeskryf gaan nie.  Ons ontvangsdame, wat se sitplek in die middel van ons kantoor is, het nie vandag ingekom nie.  Nou jy moet verstaan, dit is ‘n klein plekkie waar ek werk, jy weet gewoonlik wie wanneer toilet toe gaan of koffie maak, so klein is dit.  Twee van my kollegas het begin om hulle middagetes saam met my te kom eet in my kantoor (die raadsaal).  So sit en lees ons koerant, en bespreek sommer goed wat ons mag raaklees.  Ek draai ewe onskuldig na die een, en vra “where is Nyami today?”, met die bedoeling dat sy dalk weet hoekom Nyami nie ingekom het nie, of daar dalk siekte is, of sy haar kind moes versorg, of so iets.  Die antwoord gooi my eers, en laat my toe lag.  “I don’t know, I don’t think she is here”.  Wel, is jy seker? Moet ons dalk onder die lessenaar gaan kyk?

Dit is sulke dinge wat mens bybly, lank na jy by ‘n werk weg is.  Ek eis egter om te dink wat sal gebeur as ons nog ‘n taal by die mix ingooi…

Dudes on Horses, Hamburgers en ‘n Workshop

En so het dit dan ook gekom en gegaan…

Die trippie na Washington DC het so vinnig op my afgekom, daar was nie tyd gewees om eers behoorlik opgewonde te raak, of die dae af te tel nie.  Home Affairs het my geweldig beindruk deur binne ‘n week my paspoort reg te kry, sonder ‘n ekstra fooi en met ‘n vriendelike glimlag daarby.  Die Amerikaanse konsulaat was ‘n bietjie meer van ‘n uitdaging,maar nietemin ook heel vinnig en sonder probleme.  Grootste fout daar was seker dat ek op al my vorms ingevul het dat ek Washington DC besoek, in die staat Washington! En vir die van julle wat ook nie al 50 state van Amerika uit julle koppe ken nie, die twee is nie eers naby aan mekaar nie!

Die pret het sommer op die eerste vlug begin, toe ek gou agterkom dat ek nie in hierdie klein spasie gaan kan slaap nie.  Jislaaik, ek kan nie eers ordentlik sit nie!  Die fliek wat wys is Invictus, en ek se vir ons CEO (wat saamgegaan het) dat dit nou ‘n fliek is om te kyk vir alle Suid Afrikaners.  Ek het dit reeds gesien, so hou my besig met leeswerk en musiek.  So 3/4 in die fliek in, nogals op ‘n hoogtepunt, sien ek sy begin kop knik, en die volgende oomblik slaap sy!  Ek is teleurgesteld, want watter persoon vind juis daai deel so vervelig!  Dis eers met die afklimslag wat sy na my draai en vra of die hele Invictus dan ‘n musical is.  Huh??  Sy het vir amper 2 ure haar oorfone op die verkeerde stasie gehad!  Met die gevolg dat sy amper die hele Invictus as ‘n Jazz konsert gekyk het!  Nou dit verdien respek!

En hoe fantasties was ons hotel nie!  Elke kamer het ‘n massiewe HD televisie, en al die kanale is ook HD.  Ongelooflik!  Daar is gratis Wi-fi, die smartste koffiemasjiene, ‘n bar met ‘n heerlike vibe en ongelooflike personeel wat vir jou die beste plekke reel om te besoek, en blitsvinnig ‘n taxi bestel.  Ja, die Hilton het my nie teleurgestel nie!

‘n Vinnige manier om die stad te verken is defnitief een van die open top busses.   Alhoewel dit elke dag by die 35 grade celcius gaan draai het, het ons van skroeiende sonskyn tot ‘n donderstorm bo-op die bus ervaar!  En wees gewaarsku, elke ou wat ooit iets gesê of gedoen het, het ‘n monument of museum in DC!  Flip, die ou kon net iets gedink het, dan is daar al ‘n plaatjie, of ‘n muurtjie of ‘n klippie vir hom.  Dit raak bietjie erg, so ek kon later net die bekendstes onthou.  En ja, ons het die withuis gesien, en Obama se bloulig brigade het ons amper omgery.  Praat van dramaties!  Ek het tydens die werkswinkel genoem dat die plek baie “dudes on horses” het.  Die beskrywing het gebly, en aan die einde van die week het my mede kursusgangers (US en UK) vir mekaar die rigting aangedui met “at the dude on the horse you turn left”.

Kos is duur.  Wel, seker nie volgens hulle standaarde nie, maar as jy in ‘n ander geldeenheid dink, dan neig jy om gedurig dollars om te skakel na rande, en dan verstom te staan!  Ek meen, $10 vir ‘n hamburger klink nie te erg nie, maar skakel dit om!  Kos is ook nie baie gesond nie!  En Mcdonalds het geen betowering meer nie, in fact, dit lyk maar taamlik vervalle.  Die beste kopies in terme van eet en drinkgoed was die slaaie wat individueel gemaak word hier voor jou, na jou smaak, en die koffies in die boekwinkels.  Slegste was seker daai keer toe ons tipies Amerikaans probeer wees het, en ‘n hamburger en chips, met ‘n milkshake by die diner op die hoek gekoop het.  ‘n Hartaanval in ‘n pakkie!

Ons het ook vreeslik baie geloop!  Weereens ‘n omskakeling probleem.  Ek het 6 myl geloop om die eerste klient te wees by die nuwe Apple store in Georgetown.  Dit is amper 10 km!  Nie so erg nie? Probeer dit in plakkies, in 37 grade celcius met ‘n baie hoë humiditeit!  Ons het egter met ‘n taxi gery van die eerste aand se hotel tot by die Hilton, letterlik om die draai!

Aaah, en dan was daar die workshop, die eintlike rede hoekom ons gegaan het.  Nog nooit het ek so iets ondervind nie.  Elke spreker was ‘n expert in sy/haar gebied, en het op die minuut by die tyd gehou.  Die onderwerpe was interessant, en die networking geleenthede wonderlik.  Die kos was lekker, daar was ‘n konstante vloei van vars koffie en aan die einde kry jy ‘n flash drive met alles wat behandel is mooi netjies daarop.  En alhoewel dit 3 baie vol dae was, en ons hard gewerk het, was ons energiek in plaas van moeg na elke dag.

Een ding wat egter net weereens bewys is, is dat jou huis maar die beste bly!  Met die afklim op Kaapstad was die eerste ding wat jy hoor ‘n Vuvuzela, jy kan die Spur kos ruik, en die outjie by Paspoort beheer het my in Afrikaans gegroet met ‘n “welkom tuis Adele”.  Wie wil dan nou nie hier bly nie!

Wat? Dis in Amerika?

Jip, dit was my reaksie gewees toe ek hoor waar hierdie ‘workshop’ is wat ek moet bywoon. Vir ‘n week lank werk ek myself in ‘n toestand in oor ek elke dag gaan moet inry stad toe, vir 3 dae!

En toe kom die agenda, en so ewe casual staan die adres van die konferensie saal as iewers in Washington DC! Ek hardloop deur ons gange na die baas se kantoor, het sy besef die ding is in DC? En net so casual sê sy ja, sy weet! Asof ek nou net vir haar gevra het of sy weet dat Egoli nie meer wys nie.

Nou dit was so 3 weke terug! My paspoort het ‘n maand terug verval, om ‘n visa te kry vir Amerika vereis amper 3 universiteits grade en dis nou somer daar anderkant!

Alles het egter net so in plek geval. Binne ‘n week na aansoek het Home Affairs my paspoort. Twee dae, ‘n klomp dollars en regulasie fotos later het ek ‘n visa. Vliegkaartjies en hotel besprekings stroom my inbox in, en my bank is wonderlik met die geld ruil ding.

En nou vertrek ek more op United Airlines om vir oom Barrack te gaan kuier! Wel, nie regtig, maar my hotel is baie naby, so wie weet!!

Ek bly die eerste aand in die Carlyle Suites, en dan vir die res van die week in die Hilton Hotel! Beide lyk ongelooflik, en moet sekerlik ‘n aardige bedraggie kos, maar aangesien ek deur die Amerikaners genooi is, betaal hulle. Jip, ek kry selfs ‘n allowance!

Carlyle Suites
Hilton Hotel

So vir eers groet ek. Moet begin pak, die Franse se sokker kyk, en sielkundig begin voorberei vir 20 ure in ‘n klein spasie!  Ek is oor ‘n week en ‘n bietjie terug.

Hou twitter en facebook dop. Ek sal dit gebruik as die Amerikaners internet het 😉