Die spook skop gat!

Twee van my kollegas neem selfverdedigings klasse. En ek het altyd gedink dit is nogals ‘n heel handige ‘skill’. Taamlik intens, maar steeds handig. Soos ‘first aid’ of ‘n PDP. Jy hoop jy gaan dit nooit nodig kry nie.

Ek self het bietjie skopboks gedoen en ek is seker die dansklasse voor my suster se troue kan ook as selfverdediging gesien word. Vir die res slaan ek net oor na Engels toe. Dit werk meeste van die tyd.

Onlangs moet een kollega toe egter bietjie laat werk, en ek bied aan om ook laat te bly, want almal weet ons gebou spook en dis darem ‘n effense vertroosting as hier nog ‘n asem is, al is jy ‘n expert in selfverdediging.

Gou vyf uur ‘n glas wyn gedrink (don’t judge, ek werk op ‘n wynplaas!!) en ‘n pizza gehap (ja, ons het ‘n pizza oond ook!) saam met die ander kollegas voordat hulle die pad vat huistoe, en ons terugkom kantoor toe. Nie regtig baie lus vir die taak wat voorlê nie, en na die bietjie wyn en carbs voel ons nou eers lui.

Ons sluit die deure en maak vensters toe, en trek met mening weg. En ons kry verskriklik baie gedoen, skink nog ‘n bietjie wyn vir morele ondersteuning en werk vir ‘n vale.

Dit is toe ons nie meer ons bene kan voel van die koue nie dat ons besluit om gou ‘n break te vat en bietjie buitentoe te gaan. Ons gebruik die sydeur, dit loop uit op ‘n klein stoepie wat reg langs die funksie lokaal is. Dit is doodstil op die plaas, en BAIE donker. Daar is nie ‘n buite lig nie, ek dink nie dit was al ooit nodig vir een nie. Doodrustig staan ons bietjie rond en rek en strek, toe iets my oog vang.

“Haai kyk”, sê ek, “daai mense werk ook bietjie laat”.

My kollega het baie duidelik nie gesien wat ek sien nie, sy trek weg, alle selfverdediging vergete en hardloop dwars deur my (net my sterk been struktuur het gekeer dat ek nie plat neergeploeg het nie) binne in die gebou in.

Dit is toe wat ek besef die ‘mense’ wat ek gesien werk het in die funksie lokaal is ons, in perfekte refleksie. En dat ons werklik alleen hier is.

As jy ander mense vra sal daar waarskynlik verskillende variasies van die storie wees. Goed soos dat sy my eintlik wou beskerm, en nie plat hardloop nie. Of dat ons meer wyn gehad het as wat ons besef het. Of dat dit Maria, die spook was.

Al wat ek weet is dat ek maar sal bly by my eie selfverdedigings tegnieke, en as niks werk nie, dan sal ek maar net op die aanvaller gaan sit…

Die spook van De Akkers

Die wat my ken sal weet dat ek al so lank in my woonstel bly, dit het moeilik geraak om uit te werk presies wanneer ek ingetrek het!  En die wat my regtig goed ken weet ook dat ek heel waarskynlik nog baie lank daar gaan bly!  Wie kan stry teen gemak en goeie ligging! 

Wel, so ‘n paar jaar terug, een warm somersaand besluit ek om eerder buite op die stoep te sit en staar, en so darem steeds te kan asemhaal, as wat ek binne sit en vergaan van die hitte!  Sien, alhoewel my plekkie baie oulik is, het hy nie aircon nie, so dit kan nogals warm raak! 

So het ek dan ‘n heerlike aand buite op my stoep, met ‘n boek, en glasie koue wyn.  Die volmaan kom op, en dit is beautiful!  Ek raak so ontspanne dat ek vir ‘n oomblik dit oorweeg om sommer net hier op die stoep te slaap.  Die dronk bergie wat verby slinger laat my egter vinnig afsien van daai idee! 

In hierdie ontspanne toestand besluit ek later om maar te gaan slaap, in my bed.  Boek in die een hand, en glasie in die ander draai ek na binne, en vir ‘n oomblik stop my hart, en ek laat die glas val.  In die voordeur staan ‘n baie donker persoon, bietjie groter as ek, maar sommer binne in my woonstel!!

En waarvoor ek die bangste was gebeur toe!  In daai oomblik van skok verloor ek my stem, helemal.  Ek kry ‘n bewerige, hees “help” uit, en dit voel of iemand al my wind uitgeslaan het!

Maar die persoon is goed, boots my bewegings perfek na!

Ja, ek kan myself die verdere vernedering spaar en nie verder vertel nie.  Want dit is toe inderdaad my eie skaduwee waarvoor ek so groot skrik.  Ek het regtig ‘n hele tydjie daai aand gevat om te herstel.  Ter versagting kan ek ook net bysê dat daar in daai tyd baie huisbrake was, en mens was maar ‘n bietjie nader aan die “edge” as gewoonlik.

Spoke hoef nie noodwendig dood te wees nie, en dis nie net kinders wat vir hulle skrik nie…