Koebaai Facebook

Ek het eerlikwaar gedink dit gaan moeiliker wees.  Toe ek ‘n week terug my Facebook profiel delete het, het ek verwag dat ek angstig gaan wees oor alles waarop ek uitmis.  Mens doen tog nie iets vir langer as 10 jaar en stop dan sonder dat dit jou op een of ander manier raak nie.  En voor jy verder lees wil ek net dit baie duidelik maak dat ek niks teen enigiemand het wat Facebook gebruik en dit geniet nie.  As jy heeldag op Facebook is, en dit maak jou gelukkig, dan is ek bly vir jou. As jy dit kan gebruik tot jou voordeel, go for it!  Regtig, no hard feelings.

HOEKOM HET EK MY FACEBOOK PROFIEL DELETE?

Basies twee redes.  Eerste een kom al vir ‘n rukkie aan, ek het hierdie knaende gevoel gehad dat Facebook baie meer van my tyd opneem as wat dit moet.  Ek sal ‘n whatsapp op my foon kry, dit lees/antwoord maar dan sommer gou ook loer wat gaan op Facebook aan.  En dan partykeer eers my foon 10 minute later neersit.  Dit nadat ek advertensies gesien het van goed wat ek nie nodig het nie, politieke kommentaar gelees het wat my vreeslik irriteer en videos gekyk het van ‘n arme tone-deaf Korean wat aan ‘n sangkompetisie deelneem.  Niks daarvan het my lewe beter gemaak nie, ek het niks nuuts geleer nie, en om eerlik te wees was ek meeste van die tyd net ‘n klein bietjie minder gelukkig as ek my foon neersit.  As jy ook wonder oor hoeveel tyd dit van jou neem, gaan laai iets soos APP USAGE af en kyk bietjie.  Die tweede een was ‘n impuls, en vir my iets wat ingemeng het met my waarde sisteem.  Facebook het die Saterdag voorgestel dat ek vriende raak met ‘n vrou wat ek nie juis ‘n goeie geskiedenis mee het nie.  Sy het egter ‘n publieke profiel, en ek gaan loer toe bietjie rond.  Haar eerste post vir die jaar was ‘n pragtige Christen quote gewees, die mooiste stukkie met bybel aanhalings ens.  En wragtag, net die volgende post is ‘n prentjie met woorde op wat basies sê dat sy hierdie jaar NET vir haarself gaan lewe, en ^&$% almal wat ‘n probleem daarmee het, en as jy nie van haar hou nie moet jy ^%$&.  Die kontras tussen die twee posts was vir my so groot, ek kon nie ophou dink daaraan nie.  En ja, ek weet ek hoef dit nie te lees nie, maar is alles op Facebook nie maar eintlik so fake nie?  Hoeveel passive aggressive posts lê my timeline vol, terwyl ‘n vorige een amper engelagtig was.  Hoeveel fotos wys iets heel anders as hoe dit eintlik was. Hoeveel van my ‘friends’ se nommers het ek, en hoeveel van hulle sal my kom help as ek in die moeilikheid is.

So, toe druk ek delete

WAT MIS EK OF IS SLEGTER?

Ek mis die verjaarsdag funksie op Facebook.  Dit was handig, elke oggend net ‘n klein icon wat vir my wys iemand verjaar sodat ek ‘n generic post kan gaan maak met ‘n gelukwensing.  En dit is regtig al!  Ek het gedink ek gaan die posts mis van mense se kuiers en vakansies, maar ek doen nie.  Die mense wat vir my belangrik is nooi my in elk geval na die kuiers toe.

WAT MIS EK NIE OF IS BETER?

Ek is mal oor die afwesigheid van passive aggressiveness in my dae.  Ek mis gladnie die advertensies nie en ek het hierdie weird gevoel van ‘vryheid’.  Ek neem fotos van goed wat vir my mooi of interessant is, nie omdat dit goed gaan lyk op Facebook nie.  Ewe skielik weet 444 mense nie wat ek oor die naweek gedoen het nie en terselfdertyd weet ek nie wat hulle gedoen het nie.  Ek hoef nou nie meer vir 444 mense ‘n generiese verjaarsdagboodskappie te stuur nie.  En alhoewel ek nie my daaglikse Facebook gebruik alles in een batch op ‘n dag gedoen het nie, voel dit tog of ek meer tyd het in die aande.  Sien, ek kry my werk vinniger gedoen, en het dan tyd om gou ‘n epos te stuur, of ‘n rekening te betaal, of iemand te bel in my middagete.  Ek het tyd om my Xhosa kursus te doen, boeke te lees en ‘n glas wyn te drink saam met my buurvrou.  En my foon se battery is eintlik baie beter as wat ek gedink het.

 

Sal ek weer teruggaan?  Miskien eendag. Maar vir eers nie.  Vir eers wil ek genuine connect, met die mense gesels wat by my is, en nie met die in die foon nie.  Ek wil nie enigsins voel dat my lewe minder opwindend en minder gelukkig is as die outjie saam met wie ek 30 jaar terug op skool was nie. Ek wil waardeer wat ek het, sonder om in ‘n advertensie vertel te word dat ek eintlik nie genoeg het nie.

Ek wil leef…

PS: Ek is nogsteeds op Instagram, maar gebruik dit meestal as argief vir my fotos, en ek ‘volg’ accounts wat vir my iets positief beteken, mooi fotografie, geloof inspirasie en resepte.  Dalk geniet ek dit so om sonder social media te wees, ek delete daai account sommer ook.