Koebaai Facebook

Ek het eerlikwaar gedink dit gaan moeiliker wees.  Toe ek ‘n week terug my Facebook profiel delete het, het ek verwag dat ek angstig gaan wees oor alles waarop ek uitmis.  Mens doen tog nie iets vir langer as 10 jaar en stop dan sonder dat dit jou op een of ander manier raak nie.  En voor jy verder lees wil ek net dit baie duidelik maak dat ek niks teen enigiemand het wat Facebook gebruik en dit geniet nie.  As jy heeldag op Facebook is, en dit maak jou gelukkig, dan is ek bly vir jou. As jy dit kan gebruik tot jou voordeel, go for it!  Regtig, no hard feelings.

HOEKOM HET EK MY FACEBOOK PROFIEL DELETE?

Basies twee redes.  Eerste een kom al vir ‘n rukkie aan, ek het hierdie knaende gevoel gehad dat Facebook baie meer van my tyd opneem as wat dit moet.  Ek sal ‘n whatsapp op my foon kry, dit lees/antwoord maar dan sommer gou ook loer wat gaan op Facebook aan.  En dan partykeer eers my foon 10 minute later neersit.  Dit nadat ek advertensies gesien het van goed wat ek nie nodig het nie, politieke kommentaar gelees het wat my vreeslik irriteer en videos gekyk het van ‘n arme tone-deaf Korean wat aan ‘n sangkompetisie deelneem.  Niks daarvan het my lewe beter gemaak nie, ek het niks nuuts geleer nie, en om eerlik te wees was ek meeste van die tyd net ‘n klein bietjie minder gelukkig as ek my foon neersit.  As jy ook wonder oor hoeveel tyd dit van jou neem, gaan laai iets soos APP USAGE af en kyk bietjie.  Die tweede een was ‘n impuls, en vir my iets wat ingemeng het met my waarde sisteem.  Facebook het die Saterdag voorgestel dat ek vriende raak met ‘n vrou wat ek nie juis ‘n goeie geskiedenis mee het nie.  Sy het egter ‘n publieke profiel, en ek gaan loer toe bietjie rond.  Haar eerste post vir die jaar was ‘n pragtige Christen quote gewees, die mooiste stukkie met bybel aanhalings ens.  En wragtag, net die volgende post is ‘n prentjie met woorde op wat basies sê dat sy hierdie jaar NET vir haarself gaan lewe, en ^&$% almal wat ‘n probleem daarmee het, en as jy nie van haar hou nie moet jy ^%$&.  Die kontras tussen die twee posts was vir my so groot, ek kon nie ophou dink daaraan nie.  En ja, ek weet ek hoef dit nie te lees nie, maar is alles op Facebook nie maar eintlik so fake nie?  Hoeveel passive aggressive posts lê my timeline vol, terwyl ‘n vorige een amper engelagtig was.  Hoeveel fotos wys iets heel anders as hoe dit eintlik was. Hoeveel van my ‘friends’ se nommers het ek, en hoeveel van hulle sal my kom help as ek in die moeilikheid is.

So, toe druk ek delete

WAT MIS EK OF IS SLEGTER?

Ek mis die verjaarsdag funksie op Facebook.  Dit was handig, elke oggend net ‘n klein icon wat vir my wys iemand verjaar sodat ek ‘n generic post kan gaan maak met ‘n gelukwensing.  En dit is regtig al!  Ek het gedink ek gaan die posts mis van mense se kuiers en vakansies, maar ek doen nie.  Die mense wat vir my belangrik is nooi my in elk geval na die kuiers toe.

WAT MIS EK NIE OF IS BETER?

Ek is mal oor die afwesigheid van passive aggressiveness in my dae.  Ek mis gladnie die advertensies nie en ek het hierdie weird gevoel van ‘vryheid’.  Ek neem fotos van goed wat vir my mooi of interessant is, nie omdat dit goed gaan lyk op Facebook nie.  Ewe skielik weet 444 mense nie wat ek oor die naweek gedoen het nie en terselfdertyd weet ek nie wat hulle gedoen het nie.  Ek hoef nou nie meer vir 444 mense ‘n generiese verjaarsdagboodskappie te stuur nie.  En alhoewel ek nie my daaglikse Facebook gebruik alles in een batch op ‘n dag gedoen het nie, voel dit tog of ek meer tyd het in die aande.  Sien, ek kry my werk vinniger gedoen, en het dan tyd om gou ‘n epos te stuur, of ‘n rekening te betaal, of iemand te bel in my middagete.  Ek het tyd om my Xhosa kursus te doen, boeke te lees en ‘n glas wyn te drink saam met my buurvrou.  En my foon se battery is eintlik baie beter as wat ek gedink het.

 

Sal ek weer teruggaan?  Miskien eendag. Maar vir eers nie.  Vir eers wil ek genuine connect, met die mense gesels wat by my is, en nie met die in die foon nie.  Ek wil nie enigsins voel dat my lewe minder opwindend en minder gelukkig is as die outjie saam met wie ek 30 jaar terug op skool was nie. Ek wil waardeer wat ek het, sonder om in ‘n advertensie vertel te word dat ek eintlik nie genoeg het nie.

Ek wil leef…

PS: Ek is nogsteeds op Instagram, maar gebruik dit meestal as argief vir my fotos, en ek ‘volg’ accounts wat vir my iets positief beteken, mooi fotografie, geloof inspirasie en resepte.  Dalk geniet ek dit so om sonder social media te wees, ek delete daai account sommer ook.

Die spook skop gat!

Twee van my kollegas neem selfverdedigings klasse. En ek het altyd gedink dit is nogals ‘n heel handige ‘skill’. Taamlik intens, maar steeds handig. Soos ‘first aid’ of ‘n PDP. Jy hoop jy gaan dit nooit nodig kry nie.

Ek self het bietjie skopboks gedoen en ek is seker die dansklasse voor my suster se troue kan ook as selfverdediging gesien word. Vir die res slaan ek net oor na Engels toe. Dit werk meeste van die tyd.

Onlangs moet een kollega toe egter bietjie laat werk, en ek bied aan om ook laat te bly, want almal weet ons gebou spook en dis darem ‘n effense vertroosting as hier nog ‘n asem is, al is jy ‘n expert in selfverdediging.

Gou vyf uur ‘n glas wyn gedrink (don’t judge, ek werk op ‘n wynplaas!!) en ‘n pizza gehap (ja, ons het ‘n pizza oond ook!) saam met die ander kollegas voordat hulle die pad vat huistoe, en ons terugkom kantoor toe. Nie regtig baie lus vir die taak wat voorlê nie, en na die bietjie wyn en carbs voel ons nou eers lui.

Ons sluit die deure en maak vensters toe, en trek met mening weg. En ons kry verskriklik baie gedoen, skink nog ‘n bietjie wyn vir morele ondersteuning en werk vir ‘n vale.

Dit is toe ons nie meer ons bene kan voel van die koue nie dat ons besluit om gou ‘n break te vat en bietjie buitentoe te gaan. Ons gebruik die sydeur, dit loop uit op ‘n klein stoepie wat reg langs die funksie lokaal is. Dit is doodstil op die plaas, en BAIE donker. Daar is nie ‘n buite lig nie, ek dink nie dit was al ooit nodig vir een nie. Doodrustig staan ons bietjie rond en rek en strek, toe iets my oog vang.

“Haai kyk”, sê ek, “daai mense werk ook bietjie laat”.

My kollega het baie duidelik nie gesien wat ek sien nie, sy trek weg, alle selfverdediging vergete en hardloop dwars deur my (net my sterk been struktuur het gekeer dat ek nie plat neergeploeg het nie) binne in die gebou in.

Dit is toe wat ek besef die ‘mense’ wat ek gesien werk het in die funksie lokaal is ons, in perfekte refleksie. En dat ons werklik alleen hier is.

As jy ander mense vra sal daar waarskynlik verskillende variasies van die storie wees. Goed soos dat sy my eintlik wou beskerm, en nie plat hardloop nie. Of dat ons meer wyn gehad het as wat ons besef het. Of dat dit Maria, die spook was.

Al wat ek weet is dat ek maar sal bly by my eie selfverdedigings tegnieke, en as niks werk nie, dan sal ek maar net op die aanvaller gaan sit…

Kamp x 2

Ek is onlangs gebyt deur ‘n gogga wat mens nogals duur kan kos as jy nie mooi te werk gaan nie.  Die kamp gogga.  As kind het ons baie rondgetoer vir vakansie, en baie plekke gesien, maar nooit gekamp nie.  Ek is egter mal oor die hele buite slaap, buite kosmaak en buite kuier idee.  Noem my maar ‘n kind van Afrika.

Terwyl ek egter nog altyd die meeste goed geleen het as ek gaan kamp, het ek nou vir my goedjies van my eie begin aanskaf, onder andere ‘n awesome tent!  Wat ek so baie van hom hou is dat hy baie eerlik is.  Hy claim dat dit 2 sekondes vat om hom op te slaan, en wragtag!  Hy het my amper plat geslaan in die 2 sekondes, maar niemand het gesien nie, so ons praat ook nie verder daaroor nie.  Dis bietjie meer na 20 sekondes om hom op te slaan, maar ook nie so moeilik nie, so ek is baie happy.

‘n Week terug gaan kamp ek toe saam met sus, swaer en die tweeling.  Die weervoorspelling lyk goed, ek pak sommer alles in die kar die vorige aand want die kampterrein is naby aan my werk. Kindle gecharge, genoeg drinkgoed, wat meer kan mens voor vra!

As jy die kort opsomming soek, here goes:  Die Vrydagaand het goed gegaan, behalwe dat dit geklink het of daar ‘n groep mans reg voor ons tente sit en kuier… tot dit begin om kliphard te reën! Die Saterdag het ons heerlik gekuier en die aand ‘n kampvuur konsert deur die tweeling geniet.  Behalwe dat daar nie ‘n vuur was nie, want ons het almal by een tent ingebondel teen die koue en die bure het gedink my suster hulle het die een van die tweeling gesteel. En Sondag was goed ten spyte van Olivia wat besluit het sy hou nie baie van Route 44 nie en ek my GROOT bier baie vinnig moes sluk.

Dit klink dalk of ons bietjie ongeluk getref het, maar die lag en lekker was baie meer as die bietjie baie reën, die koue en die bure.

Die oomblik wat my egter die meeste laat lag het was natuurlik in die ablusie blokke.  Ek en die tweeling het ‘n uitstappie gevat na die speelparkie.  Hulle is heel ok om te hanteer so saam, maar toe ek besef dat ek nou, en nie ‘n oomblik later nie, moet toilet toe gaan, toe besef ek hoekom mense ‘n nanny het, of hoekom ouers in pare kom!

Die eerste keer toe dit gebeur, toe los ek hulle twee net buite die deur en roep heeltyd hulle name.  Eers het hulle mooi saamgespeel en teruggeroep, maar hulle het later seker gedink ek is bietjie mal, en bly toe stil.  Ek worry toe want is bang iemand vat hulle, so moes halfpad die proses kortknip om hulle te gaan soek.

Toe ek dus weer badkamer toe moet gaan, met altwee (en hulle poppe), toe besluit ek dan vat ek hulle maar saam in die cubicle in.  Nou kan ek net noem, hulle is besig met potty training, maar het gelukkig hierdie naweek doeke gedra, wat dit baie makliker gemaak het!

So is ons al drie in die cubicle in.  Eintlik al 5, want die poppe moet ook saam.  Ek laat hulle almal teen die deur staan sodat ek darem my ding met ‘n effense mate van privaatheid kan doen.  Wat ek egter nie verwag het nie is die applous en uitroepe van “mooi!” toe hulle sien/hoor hoe mooi ek die pot gebruik!

Party dae weet ek wragtag nie hoe ouers dit doen nie!

En as jy dalk die persoon in die cubicle langs my was… Ek het jou hoor lag…

Die New World

1526929_10151805931971570_1660314504_n‘n Ruk gelede het ek taamlik afgeskaal op ‘n klomp goed.  Hulle noem dit “minimalism”, waar jy ontslae raak van die goed in jou lewe wat geld kos en spasie opneem, sonder dat dit jou werklik gelukkig maak. Hier is die link, sommer vir interessantheid.

Nou deel van hierdie proses was ook om my pragtige, luukse kar (waaroor ek al selfs geblog het!) in te ruil vir iets goedkoper en kleiner.  Ek sal eerlik met jou wees, ek mis daai pragtige gevaarte, hy was beeldskoon, maar ek het dit nie nodig gehad nie, en buiten vir my paaiement, bande en onderhoud wat nou die helfte is van wat dit was, ry ek ook baie gemaklik ‘n maand uit op ‘n R1000 se petrol.  Maar hy bly maar vrek klein, en ek lyk waarskynlik soos ‘n walvis wat in ‘n perlemoendop probeer wegkruip.

Die kleingeit is egter nie altyd so sleg nie. Ek kan byvoorbeeld gemaklik op die halwe parkeerplek by Spar stop en met sy klein enjin is dit baie moeilik om die spoedgrens oor te steek. Mens moet net positief bly!

Die ander dag toe moet ek na werk vir ‘n afspraak gaan by ‘n winkelsentrum daar in die suide.  Net om die vorige sin hardop te sê maak my sommer bietjie benoud.  Kyk, ek is gewoond aan die noorde se breë paaie en duidelike aanwysigings van hoe om in ‘n parkeerarea in te kom.  Nie die doolhof speletjies en super nou paaie in die suide nie.  Maar ek is mooi beduie van regs daar, links daar en dan weer regs… en met daai aanwysigings behoort ek blykbaar reg binne in ‘n perfekte parkeerplek in te ry.

So ry ek toe, prewel sommer hardop die aanwysigings.  Selfs in my super klein karretjie is die rit ‘n benoude besigheid en ek moet myself so nou en dan herinner om net asem te haal… iets in my bly vir my sê ek gaan makliker deur ‘n gapingtjie kom as ek my asem inhou!

Die volgende oomblik besef ek dat ek eintlik al verby die afrit is, maar vat toe dadelik die volgende een en omdat my brein so geprogrammeer is tydens die rit, doen ek ‘n pragtige regs, links, regs.  En ry in ‘n ander wêreld in…

Die pad onder my het verander in ‘n spierwit, blink iets….  Alles blink… Mense, almal in dieselfde klere staan op aan weerskante van my en staar my aan.  En ek?  Ek maak asof dit alles doodnormaal is, en hou aan met ry.  Daar is immers ‘n parkeerplek aan die einde belowe!

En die volgende oomblik is ek uit hierdie New World plek, en staan ek in ‘n tipe van kampie langs ‘n treinspoor, tussen ‘n klomp karre.  Wel, actually kan jy dit nie karre noem nie, ek meen, hulle is so groot, ek kan nie sien hoe ‘n average size persoon by hulle gaan kan inklim nie!  En daar is wragtag parkeerplek.  Maar iets sê vir my dat dit nie vir my bedoel is nie.

Ek draai toe maar om, en gaan weer die New World binne… Die keer waai een van die skare vir my, die res lyk of hulle lag.  En ek?  Ek maak asof dit alles doodnormaal is, en hou aan met ry.

Nou teen die tyd dink jy seker al dat ek die kluts kwyt is, of baie gedrink het voor ek hierdie storie geskryf het.  Wel, nee.  Sien, almal maak seker maar iewers in hulle lewe ‘n fout (veral in jou kar) wat jy eers weke later oor kan praat.  Daai fout wat jou ‘bliksem’ (of iets ergers) laat sê net nadat jy dit gemaak het.  Party mense stamp hulle kar, ander ry ingedagte oor ‘n rooi lig en party beland verkeerd om in ‘n one-way.

Ek doen nie daai nie, altans, nie wat ek van weet nie.  Ek?  Ek ry by ‘n Jeep dealership se voordeur in, dwarsdeur die showroom, dwarsdeur die workshop (dis waar die mense opgestaan het) reguit tot in die agterplaas waar die gevaartes gewas word… met my baba karretjie.

Ek het nie NET ‘bliksem’ gesê daai dag nie…

PS: Weet enigiemand dalk of Jeep my karretjie as ‘n trade-in sal vat? Vra maar net.

Badspeelgoed

Oor hierdie Kerstyd het ek weer die voorreg gehad om ‘n bietjie tyd saam met familie en24-12-15 (15) vriende te kon deurbring, en buiten vir die geweldig baie, en lekker kos was daar ook die lekker lag en gesels, en dinge doen wat soms verlore gaan in die allerdaagse gejaag.

Ek is natuurlik ook in die baie bevoorregte posisie om tannie van 3 te wees, en wat ‘n absolute vreugde is dit nie!  Adriaan lyk of hy heel happy is om my as tannie te hê, en die tweeling is nou al op ‘n punt waar hulle lang gesprekke met my voer en selfs argumenteer.

Tydens hierdie verskriklike kort tydjie (letterlik 3 aande!) wat ek vakansie kon noem, word ek toe die amptelike badtyd bestuurder van die tweeling.  Beste job ooit!! Hulle is mal oor bad, en as ek hulle nie vinnig genoeg uittrek nie sal hulle sommer maklik met klere en al inklim.

Nou die van julle wat al daar was sal weet dat die onderste badkamer by die strandhuis ‘n genuine kindervriendelike outjie is.  Daar is Nemo’s orals, en die mure is so ‘n bright oranje dat dit ‘n goeie idee is om jou sonbril saam te vat vir die eerste rondte in die oggend.  Daar is ook badspeelgoed, onder andere ‘n Nemo en dan ‘n paar outjies wat ek vermoed deur McDonald’s versprei is.

Daai speelgoed kan egter ‘n bietjie gagga raak na ‘n tydjie, veral as jy die water binne los, en daarom is daar ‘n reël dat jy elke speeding wat jy gebruik eers moet ‘uitspuit’ voor jy jou badtyd as voltooi kan sien.  In kort, squeeze al die water uit by die gaatjie.  En ja, dit geld vir grootmense ook.

Elke bestuurder het egter ook ‘n assistent, en ek het elke aand ‘n ander lid van die gesin gehad om my by te staan met die proses… Glo my, twee van dieselfde ouderdom is baie moeiliker as ander situasies.

Gisteraand toe is dit my ma se beurt.  Ons het op al die nodige plekke gewas en ook bietjie gespeel en grappies gemaak.  Toe word die speelgoed se water uitgedruk en toegevou in handdoeke dra ons hulle na die kamer om aan te trek.  Hulle mamma het darem elke keer vir ons die regte klere, doeke en ander middele reg neergesit vir gebruik.

En dis toe ek vir Emily net klaar afgedroog het, en my hand uitsteek na die poeier dat ek dit sien…. Daar loop water uit by die gaatjie!!  My ma staan so en lag, sy probeer beduie hoe ek dit moet keer en dat ek asseblief NIE die handdoek moet wegvat nie!

Jy’t reg geraai ja…. My eerste reaksie was ook dat ek AL die speelgoed se water uitgedruk het, maar wragtag hierdie een vergeet het!

Aan die tweeling, tannie Del is jammer….

Aan Adriaan, don’t even think about it….

Kyk, kyk!! Ek het ‘n blog!

Dit was toe gladnie so moeilik gewees nie.  Met my ISP wat sommer baie vinnig reageer het toe ek hulle vra, en ‘n neef met ‘n rekenaar vir ‘n brein, en daar het ek ook ‘n webtuiste.  Dit is wonderlik! Ek kan die naam verander, ‘n prentjie of twee inbring, en as ek ‘tweet’ vanaf my foon, word dit sommer dadelik gewys op die blad!  Ai, die tegnologie.

Wat ek egter nie op gereken het nie, is hoe verslawend dit vir hierdie Generation Y kind, wat mal is oor goed met knoppies, liggies en manuals gaan word.  Na wat soos ‘n paar minute gevoel het, het my horlosie gewys dit is nou 16:00, my hande was stokstywe stompies, die televisie het in Xhosa geblêr en my maag het my herinner dat ek nognie vandag geëet het nie!

Ek wou baie graag vandag al iets “leesbaar” soos ‘n kortverhaal of artikel hier pos, maar aangesien die dag iewers heen verdwyn het, sal ek dit moet uitstel, en nou iets produktiefs gaan doen.  Dalk wasgoed…