Ek het mooi gekyk!

Daar is nie eintlik iets wat ek haat nie.  Daar is heelwat goed waarvan ek nie hou nie, soos spinnekoppe, taxis en daai simpel corned beef blikkies wat ek nooit kan oopkry nie.  Ek is ook nie mal oor tamatiebredie nie en voel ongemaklik in klerewinkels.  Maar ek haat dit nie.  Wat ek wel haat, is karwagte!

Dit maak netnie vir my sin nie.  Ek gaan na taamlik ordentlike areas toe, meeste van die tyd.  ‘n Netjiese winkelsentrum, die Spar om die hoek, sulke plekke.  En daar is altyd karwagte.  Dis tog nie asof ek nou na ‘n oorloggeteisterde gebied gaan vir my inkopies nie?  Hoekom is hulle daar?  As die plek in die eerste plek gewemel het van kriminele sou ek dit mos nie besoek het nie.

En ek het my lisensie, my spieëls werk en ek kan perfek parkeer, uit alle hoeke.  Sonder hulp!!

Nou hoor ek al mense sê dat dit werkskepping is.  Se voet!  Hulle werk nie.  Hulle staan/sit heeldag tussen karre rond.  En kyk daarna.  En wil dan daarvoor betaal word.

En sonder nou om snaaks te wees, maar het jy al gesien hoe van daai karwagte lyk?  Hier in Bellville is dit ‘n sirkus!  Ek gaan mos nou volle vertroue hê in die afbeen, dronk ou wat sukkel om regop te bly.  Is dit nie juis die ou wat jy wil weghou van jou kar nie?

Ek moes egter lag.  Ek het van die werk af gestap na Shoprite hier op kerkplein in Bellville.  ‘n Taamlike dodgy area, en daar is nooit parkeerplek nie, veral nie as dit daai tyd van die maand by SARS is nie.  Ek het die nodige gekoop, en terwyl ek deur die parkeerterrein stap terug werk toe val hierdie ou met ‘n geel bib amper oor homself om by my uit te kom.  “Ek het mooi gekyk na mevrou se kar”.

Nou hy kan dalk ‘n super hero wees, en my kar vir my dophou waar dit veilig agter hekke staan by die werk, maar dis hoogs onwaarskynlik.  “Waar is my kar, ek kan dit nie kry nie” was my antwoord.  Hy’t bleek geraak, en my kar begin soek.

As mens iets haat, moet jy werk maak daarvan.  Ek gee niks meer vir karwagte nie.  Ek vermy selfs winkels waar karwagte is, en sal eerder betaal om onderdak te parkeer voor ek vir ‘n karwag betaal.

Wonder tog of daai ou ooit my kar gekry het…

3 thoughts on “Ek het mooi gekyk!

  • September 6, 2011 at 13:04
    Permalink

    Ek voel dieselfde oor hulle! En ek LOVE die video!

  • September 6, 2011 at 16:20
    Permalink

    Baie goed! Deesdae is al wat leef en beef karwagte en soos jy tereg opmerk; van hulle lyk vir my juis na die dodgy tipe wat jy juis nie naby jou kar wil hê nie! As jy maklik wil geld maak; kry net vir jou ‘n bip. So by the way; kan almal net eenvoudig instap en bips koop en waar koop jy dit? Daar is wel baie van hulle wat ek respekteer, maar oor die algemeen is hulle ‘n verskriklike irritasie! Jy kan nie jou g@t draai nie, of jy is omring deur “karwagte” en dan voel ek skuldig en ongeskik as ek in my kar klim sonder om hulle ‘n ietsie in die hand te stop!

  • February 2, 2015 at 22:55
    Permalink

    Naand se Dame.
    Ekt jou kommentaar gelees en ek stem nie saam n,ek self is n karwag hier in Pretoria,ek weet presies wie waar parkeer op my lyn waar ek werk die dag….nie almal van ons is “dronkgatte” nie,ekt n agtergrond in elektriese konstruksie,ek was die health en safety manager by n bekende band versolings fabriek…en glo my,Dame,daar is nie werk vir my nie,ek stuur ongemiddeld 30 cv’s uit n dag,nadat ek vir 12ure mense se karre oppas,en ek kan jou waarborg dat nie een voertuig op my lyn gesteel was nie. Laat ek Dame n vraag vrae….Se nou Mevrou ry we’ll met U voertuig na Spar of een of ander winkel sentrum toe,Mevrou gaan doen jou inkopies,Mevrou kom terug met 2 stootwaentjies se kruideniersware,Jy soek jou kar,en jy kry hom nie,WIE IS DIE EERSTE PERSOON WIE U,MEVROU,VRA WAAR IS JOU KAR? Natuurlik die karwag. Ek weet mense verwyt ons,probeer om ons te vermy,maar dink so daar aan Mevrou,ons is ook maar net mens,so asseblief Mevrou,die volgende keer wat U gaan inkopies doen,glimlag net vir die karwag.
    Voor ek vergeet,ek is tans besig met my kode 14 lisensie,ek het my leerlingslisensie geslaag,en dit als met die vrymoedigheid en barmhartigheid van die mense wat hul voertuie by Die karwag los om na te kyk.
    Mag U n lekker aand verder geniet,en mag die Here U en U gesin seen

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *