Die New World

1526929_10151805931971570_1660314504_n‘n Ruk gelede het ek taamlik afgeskaal op ‘n klomp goed.  Hulle noem dit “minimalism”, waar jy ontslae raak van die goed in jou lewe wat geld kos en spasie opneem, sonder dat dit jou werklik gelukkig maak. Hier is die link, sommer vir interessantheid.

Nou deel van hierdie proses was ook om my pragtige, luukse kar (waaroor ek al selfs geblog het!) in te ruil vir iets goedkoper en kleiner.  Ek sal eerlik met jou wees, ek mis daai pragtige gevaarte, hy was beeldskoon, maar ek het dit nie nodig gehad nie, en buiten vir my paaiement, bande en onderhoud wat nou die helfte is van wat dit was, ry ek ook baie gemaklik ‘n maand uit op ‘n R1000 se petrol.  Maar hy bly maar vrek klein, en ek lyk waarskynlik soos ‘n walvis wat in ‘n perlemoendop probeer wegkruip.

Die kleingeit is egter nie altyd so sleg nie. Ek kan byvoorbeeld gemaklik op die halwe parkeerplek by Spar stop en met sy klein enjin is dit baie moeilik om die spoedgrens oor te steek. Mens moet net positief bly!

Die ander dag toe moet ek na werk vir ‘n afspraak gaan by ‘n winkelsentrum daar in die suide.  Net om die vorige sin hardop te sê maak my sommer bietjie benoud.  Kyk, ek is gewoond aan die noorde se breë paaie en duidelike aanwysigings van hoe om in ‘n parkeerarea in te kom.  Nie die doolhof speletjies en super nou paaie in die suide nie.  Maar ek is mooi beduie van regs daar, links daar en dan weer regs… en met daai aanwysigings behoort ek blykbaar reg binne in ‘n perfekte parkeerplek in te ry.

So ry ek toe, prewel sommer hardop die aanwysigings.  Selfs in my super klein karretjie is die rit ‘n benoude besigheid en ek moet myself so nou en dan herinner om net asem te haal… iets in my bly vir my sê ek gaan makliker deur ‘n gapingtjie kom as ek my asem inhou!

Die volgende oomblik besef ek dat ek eintlik al verby die afrit is, maar vat toe dadelik die volgende een en omdat my brein so geprogrammeer is tydens die rit, doen ek ‘n pragtige regs, links, regs.  En ry in ‘n ander wêreld in…

Die pad onder my het verander in ‘n spierwit, blink iets….  Alles blink… Mense, almal in dieselfde klere staan op aan weerskante van my en staar my aan.  En ek?  Ek maak asof dit alles doodnormaal is, en hou aan met ry.  Daar is immers ‘n parkeerplek aan die einde belowe!

En die volgende oomblik is ek uit hierdie New World plek, en staan ek in ‘n tipe van kampie langs ‘n treinspoor, tussen ‘n klomp karre.  Wel, actually kan jy dit nie karre noem nie, ek meen, hulle is so groot, ek kan nie sien hoe ‘n average size persoon by hulle gaan kan inklim nie!  En daar is wragtag parkeerplek.  Maar iets sê vir my dat dit nie vir my bedoel is nie.

Ek draai toe maar om, en gaan weer die New World binne… Die keer waai een van die skare vir my, die res lyk of hulle lag.  En ek?  Ek maak asof dit alles doodnormaal is, en hou aan met ry.

Nou teen die tyd dink jy seker al dat ek die kluts kwyt is, of baie gedrink het voor ek hierdie storie geskryf het.  Wel, nee.  Sien, almal maak seker maar iewers in hulle lewe ‘n fout (veral in jou kar) wat jy eers weke later oor kan praat.  Daai fout wat jou ‘bliksem’ (of iets ergers) laat sê net nadat jy dit gemaak het.  Party mense stamp hulle kar, ander ry ingedagte oor ‘n rooi lig en party beland verkeerd om in ‘n one-way.

Ek doen nie daai nie, altans, nie wat ek van weet nie.  Ek?  Ek ry by ‘n Jeep dealership se voordeur in, dwarsdeur die showroom, dwarsdeur die workshop (dis waar die mense opgestaan het) reguit tot in die agterplaas waar die gevaartes gewas word… met my baba karretjie.

Ek het nie NET ‘bliksem’ gesê daai dag nie…

PS: Weet enigiemand dalk of Jeep my karretjie as ‘n trade-in sal vat? Vra maar net.

One thought on “Die New World

  • March 12, 2016 at 10:58
    Permalink

    Hehehe lekker lag ek nou. Wow deur die showroom se jy. Nou daars nou ‘n storie!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *