Shooting Blanks

So noudat ek almal se aandag het moet ek ongelukkig die oorgrote meerderheid van julle teleurstel. Nee, daar is geen baba planne in die nabye toekoms nie, en nee, ek het nie ‘n wapen aangeskaf nie. Alhoewel ek dit party dae nogals sterk oorweeg. Die wapen natuurlik.

Elke nou en dan kry ek hierdie oefen gier wat my oorval. Dan gaan draf ek ‘n paar km’s, of ek trap ‘n fiets stukkend, of ek hardloop die blok se trappe ‘n paar keer uit. Maar dit doen ek nie meer nie want die oulike ou oorkant dink deesdae ek is bietjie mal met die trap hollery en loop sulke wye sirkels om my.

Een oefening wat ek egter baie geniet is Taebo. Lank terug het ek altyd die klasse by die gym bygewoon, net een keer ‘n week, want jy is so styf die volgende week, jy ry nie eers verby die gym nie.

Maar so het ek vir my die dvd gekry van ‘n ene meneer Billy Blanks. Hy is fiks en gespierd, en bied die klasse vir jou sommer so op jou tv aan, sonder enige snaakse kyke van klasmaats. En hy is ‘n wonderlike motiveerder. Hy praat mooi met jou, nie soos daai boot camp tipe vrou van die klasse destyds nie. Sy het gedink gehoop aangedring daarop dat ek my eie ore kan afskop.

En ek was bitterlik beindruk met die dvd. Daar is ‘n 8 minute klas op wat perfek by ‘n besige lewe pas. Almal van ons kan tog 8 minute afstaan om so fiks en soepel soos Billy Blanks te wees!

Net jammer dat Billy Blanks ‘n opperse leuenaar is. Ek weet nie op watter horlosie hy sy 8 minute gemeet het nie, maar dit is ‘n volle 13 minute lank op my horlosie. Plus 42 sekondes! ‘n Leeftyd as dit by oefeninge kom!

Mnr Blanks se 8 minute het my al die belangrikste openingstoneel van 7de Laan laat mis. Dit het al die ys laat smelt in my wyn. En dit maak my net lekker moerig. Want moenie vir my laat dink ek gaan vir 8 minute oefen en dan verneuk jy my met 5 minute en 42 sekondes nie!

Iewers het ek egter vrede gemaak met Mnr Blanks se swak tydsbestuur, en vir die 8 op die dvd gaan doodkrap en reg ingeskryf. Nou was ek darem voorbereid vir sy manewales en kon ek my program ook beter beplan.

Een aand skuif ek toe weer die koffietafel uit die pad, oefenklere aan, dvd in die player. Ek is reg vir die 13 minute en 42 sekondes se hard oefen, ek meen, die gier het my immers nou gepak en dis tog gerieflike in jou eie tv kamer.

Ek skop en slaan en skop en slaan na denkbeeldige goed in die lug toe ‘n amborstigheid my skielik oorval, en ek halfpad deur die een roetine op my bank neerval. Ek gryp my botteltjie water, haal diep asem en bekyk die spulletjie op die tv so wat op en af spring.

Mnr Blanks draai om, kyk my reg in die oë daar waar ek skuins op die bank lê en sê: “That was brilliant, awesome job!”

Ek weet nie mooi waar daai dvd op die oomblik is nie. Ek soek hom ook nie. Want sien, ek kon nog oor die 8 minute liegstorie kom, maar as jy sarkasties gaan wees oor my oefeninge dan kan ons nie maatjie wees nie!

En wie wil in anyway soos Billy Blanks lyk….

One thought on “Shooting Blanks

  • August 19, 2014 at 07:29
    Permalink

    Ek wou sé die 8 minute het vir my ook langer gevoel! 🙂

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *