Ek het ingeskryf vir ‘n heel interessante kompetisie. Jy kan ‘n handsak wen wat eintlik ‘n kamerasak is. Nogals mooi, en stylish, en ek hoop nogals ek wen die outjie. Om te wen moet jy 5 items noem wat jy in die handsak sal sit. Dit het natuurlik my brein in ‘n kreatiewe rigting gestoot (aangesien hy nie meer enigsins ‘werk’ wil dink nie) en ek het opgekom met ‘n lysie van wat ek dink in jou handsak moet wees. Meer as 5, maar bygesê, dis ‘n moewiese groot handsak!

1. Knoffel
Die wêreld wemel van die vampires. Hulle is orals. Selfs in die flieks en in boeke. Partykeer vang jou oog ‘n refleksie, en dit is heel moontlik net nog een wat ‘sparkle’. Knoffel sal jou beskerm.

2. Duct Tape
En dit moet die silver ene wees, enige ander tape is te swak. Duct tape maak alles wat los is, en vas moet wees, reg. En dit kan handig te pas kom as jy smag na stilte…

3. ‘n BIC Click Pen
Almal soek altyd ‘n pen. Die meisie agter die till, die petroljoggie en die ou wat jou blomme of Kalahari pakkie aflewer. Maak seker dis ‘n click pen, dan kan jy dit as ‘n wapen gebruik. Die irriterende click kan massas mense verwilder.

4. Foto van ‘n hond
Enige hond. Maak nie saak of dit joune is of nie. Hoe kleiner, hoe beter. Dit is ‘n conversation starter, en as jy by ‘n funksie land en jy en die vreemde dude langs jou het niks meer vir mekaar te sê nie, haal net die foto uit. Bang!

5. ‘n Plastiek Rekkie
Jy kan nie stry nie, maar die tyd loop vinniger as jy iets het om met jou hande te doen. ‘n Rekkie kan daarmee help. Dis ook wonderlik om een te ontdek in jou handsak as dit so vreeslik warm is, en jou haarkapper het gesê jou hare lyk mooier los.

6. Koeverte
Koeverte is beter as notaboekies. Jy kan nie jou geld in ‘n notapapiertjie toedraai as die teller nie vir jou ‘n koevert gee nie. Maar jy kan skryf op ‘n koevert.

7. ‘n Hubbly Charcoal blokkie
Dit klink dalk random, maar wat gaan gebeur as jy ewe skielik in die middel van die bos land en dit raak donker, en jy soek warmte, lig en iets om jou koffie op warm te maak? So ‘n kooltjie kan dalk net help. Onthou net ‘n lighter of vuurhoutjies.

8. Steakmesse
Nie net sal jy die hero wees as julle op ‘n piekniek gaan, en iemand het die messe vergeet nie, maar as jy ooit uit ‘n warm lugballon spring, en in Kenia se serengeti land, gaan jy baie bly wees oor daai steakmesse in jou handsak!

9. Skoon heel onderklere
Hierdie moet ‘n standaard item wees. Almal is tog baie gesteld daarop om nooit met stukkende/vuil onderklere die huis te verlaat nie, want wat as jy in ‘n ongeluk is? Wel, hierdie behoort tog die probleem op te los of hoe?

10. ‘n Vyfsent stuk
Jy gaan dit heel moontlik nooit gebruik nie, maar nou het jy iets om uit te pluk en te wys as jy weer vir die outjie wat bedel by die robot vertel ‘I’ve really got nothing with me’.

Nou moet ek net daai handsak wen!