As grootte saak maak… (Size Matters!)

GPs2[1]Ek is tans op daai aaklige, maar nietemin dankbare stadium van gewigsverlies waar jy so tussenin sizes is.  Jy is nie helemal seker wat jou grootte môre gaan wees nie, en moenie dink as hy jou vanaand gaan pas gaan jy hom more kan aantrek nie.  Baie dodgy ek sê jou!

Dit gebeur toe nou so dat ek my netjiese swart broek moet aantrek vir ‘n geleentheid en na ‘n effense soektog moet ek ontdek dat hy slegs gaan werk as ek nog ‘n persoon kry om hom saam met my te dra.  Hy bied ook nie eers die opsie van ‘n belt nie, so winkels toe met my vir ‘n ander broek.

My timing is egter taamlik pateties en ek eindig op ‘n Saterdagoggend rondom payday in die winkels.  Die rye is kilometers lank, kinders skree en daar is mense orals… so baie mense.  Toe ek dus ‘n netjiese, swart broek sien in die grootte wat ek DINK ek nou behoort te wees, is daar nie tyd vir aanpas nie, ek betaal, en skiet huistoe.

En toe pas hy nie.

Die bleddie broek is met letterlik ‘n sentimeter te klein rondom my maag.  Ek kry hom ook maklik aan in die oggend, maar gladnie in die aand nie.  En ek moet hom in die aand dra, so iets moet gedoen word.  Vir die volgende twee weke probeer ek alles.  Ek eet so min dat ek van kos begin droom, of dalk was dit eerder hallusinasies.  Ek doen sit-ups en gebruik die vibrashape en hoop maar my bure verstaan.  Ek drink selfs groentee… en ek haaaaat groentee.

En die dag van die funksie wil die broek nogsteeds nie pas nie.

Helemal raadop vaar ek die oggend weer die winkels in, om ‘n broek te kry wat pas, of enige alternatief wat sal maak dat ek nie vir die res van my lewe in skande hoef te leef nie.  Met 5 swart broeke vaar ek die aantrekhokkies by Edgars in (want ek het ‘n rekening daar, so kan darem afbetaal).  En ek pas in al 5 en moet toe besluit watter een gaan my die beste laat voel.  Dis toe ek sien die een se label sê ‘petite’ dat ek besluit hierdie is ‘n broek wat nie net die regte grootte is nie, maar ook my selfbeeld ‘n geweldige hupstoot gaan gee.  Ek dink nie ek was al ooit in my lewe ‘n ‘petite’ size gewees nie!!

Met die stap na die till om te betaal loop ek verby die onderklere afdeling.  Ek het nie regtig onderklere nodig nie, maar die advertensie by die een spesifieke paar vang my oog.  Dit is dalk al wat ek nodig het om daai broek by die huis te laat pas.  Wel, volgens die advertensie is dit beslis wat ek nodig het!  So aangesien dit heelwat goedkoper is as die ‘petite’ swart broek, hang ek hom terug, en neem toe die hanger met hierdie onderklere.  Is sommer gelukkig toe ek sien dat dit twee pare insluit, en die grootte is dieselfde as my normale onderklere EN dit is seamless!  Ek loop sielsgelukkig na die betaalpunt.

Die normale reël geld blykbaar ook hier, hoe meer mense in die ry, hoe minder mense wat die tills beman.  Teen die tyd wat ek voor kom is daar 2 dames wat hierdie diens lewer, en seker 15 mense in die ry agter my.

Ek het egter skaars my item op die toonbank gesit, of ‘n mini pandemonium bars los.  Die vrou agter die till het die hanger uitgehaal, en ten aanskoue van almal lig sy die effens onooglike, maar vreeslik praktiese onderklere in die lug op en verklaar luidkeels dat dit te groot is.  “Too big for you, this is my size”  Ek probeer myself onsigbaar maak, maar is nou ook nognie SO klein nie.

Asof die public display van my onderklere nie genoeg is nie roep hierdie dame haar vriendin wat die ander till beman.  In Xhosa, en met die onderklere steeds in die lug bespreek hulle hoe ek daarin gaan lyk.  Ek is teen die tyd bloedrooi, en vra die vrou of ek dit asb kan gaan omruil, dan nou maar vir ‘n kleiner nommer.  “I’ll wait for you” verklaar sy, en ek spring daar weg met die hoop dat die ander vrou AL die mense agter my klaar gehelp kry voor ek terugkom.

Tot my ontsteltenis moet ek toe ontdek dat daar nie ‘n size kleiner is nie.  Daar is wel 2 nommers kleiner.  Bogger dit, besluit ek.  Daai vrou agter die till is groot, en as daai haar size is kan hierdie my size wees.

Met die nuwe, kleiner maar steeds onooglike, dog praktiese onderklere kom ek terug by die till.  Dieselfde mense staan steeds in die ry, en ek oorweeg dit om vir die ander vrou te vra of sy enigsins iets gedoen het terwyl ek weg was!  En pleks ek dit gedoen het, man, ek moes sommer aangedring het om met haar bestuurder te praat!

Want sy verlaat haar pos, en sluit haar aan by die dame wat my help.  Saam leun hulle oor die toonbank, met die nuwe, kleiner onderklere in die lug en betrag my ‘onderstel’ vanuit alle hoeke, lig selfs my bloes so effens om beter te sien, voordat hulle blykbaar moed opgee en ek net ‘n waarskuwing kry dat ek dit nie kan terugbring as dit nie pas nie.

Nou ek verstaan nognie so lekker Xhosa nie, so is nie seker of hulle gedink het die nuwe, kleiner onderklere is steeds te groot, of dalk te klein nie.  Al wat ek weet is dat ek daai aand in die broek kon pas!  En dat ek vir die eerste keer in my lewe in ‘n ‘petite’ broek gepas het!  En dan maak die ander goed nie eintlik so erg saak nie.