Komkommertyd

pg-42-cucumber-1-alamyEk het nog nooit aan myself gedink as ryk nie. Wel, nie op dieselfde manier as wat die wêreld rykdom definieer nie.  Ek het die beste klomp vriende ooit, en ons familie is een groot, mal spul vir wie ek baie lief is.  Maar ek het nog nooit soveel geld gehad dat ek randomly goed soos parmesan en kiwivrug in die yskas het nie.

Daar is mos egter so nou en dan daai tyd wat jy ‘n ou bietjie meer as gewoonlik het.  Jy weet, bonustyd of verhogingtyd (dis nou voor dit verhogingtyd vir die bediende en tuinman word).  Vir daai oomblik is jy ryker as die vorige maand, en kan jy maar jouself bietjie treat.

Het ek mos ook gedink…

Kyk, ek is baie goed om myself so nou en dan te treat.  Ek is mal oor elektroniese items van hoë waarde, en my voorkeur winkels lê almal mooi in gelid daar in die noordelike vleuel van Tygervallei.  Geen probleem.

Ek het egter hierdie blok teen ‘n sekere winkelgroep wat begin met die letter W.  Regtig, dit is presies dieselfde as die blok wat ek gehad het teen Fin Rek 388 en ook soortgelyk aan die blok wat ek het teen basies enige wyn met “Premier Grand Cru” op die boks.

Ek kan nie daar koop nie!

En ja, ek weet my ma sweer dat jy jou slaai by geen ander plek kan koop nie, want jy kan die HELE kropslaai gebruik, en heelwat mense vertel my ook dat jy net bietjie die pryse moet gaan vergelyk, want dis eintlik maar dieselfde.  ‘n W tjoppie proe ook net beter en niks kom by hulle wortelkoek nie.  En regtig, ek het probeer.

Een mooi dag was ek nou net al siek en sat vir al hierdie kropslaaie wat ek halfgeëet moet weggooi en vir die slegte wortelkoeke wat ek altyd koop (!?!?!?), en dit was ook mooi bonus maand, so ek besluit toe om net hierdie week se goedjies by die W winkel te gaan koop.  Net as ‘n treat, jy weet.

Met my vet beursie stap ek toe by die winkel in, opgewonde oor die kosse wat ek gaan geniet tot die laaste vars happie.  En vir die volgende halfuur loop ek dromerig rond.  Dis perfek gekloonde tjops wat my aandag probeer trek, met massiewe bloedrooi aarbeie wat waai.  Die yogurt se verpakking skree kwaliteit en die beskuit op ‘n stokkie laat my wonder hoekom niemand nog ooit daaraan gedink het nie!

Na ‘n halfuur het ek steeds ‘n leë mandjie.  Elke item wat ek insit word net so weer teruggesit op die rak.  Mense begin my snaaks aankyk.  Hierdie weird vrou wat paniekerig raak en teen die tyd aan amper alles in die winkel gevat het.  Maar ek KAN NIE!! Regtig nie!!

Dis toe ek met ‘n moewiese komkommer in die hand staan en wonder op hoeveel maniere ek hom kan voorsit (want sien, ek gaan hom in sy geheel kan gebruik) dat ek besef hoe simpel ek eintlik is.

Nog nooit vantevore het dit vir my, of enige van my gaste saak gemaak waar ek my kos koop nie.  En ek bedien ook nie my kos in die verpakking nie, so daar is geen wow faktor nie.  Die W kosse is ook omtrent ‘vry’ van alles (gluten, lactose, fat, strychnine, arseen…).  En ek wetie of ek eintlik daai goete nodig het nie.

Ek het die mandjie leeg gaan terugsit, en met ‘n “I am Free” gevoel terug gery huistoe, na my cheap kaas en no-name yogurts.  My tuisgemaakte lasagne proe beter as ooit, en ek deel my sakkie appels met buurvrou, dan gaan dit nie af nie.

En ek was tog nooit so ‘n groot komkommer eter nie….