‘n ‘Warm’ Plantjie

Rawit-Chillie

Daar is die baie mooi gebaar dat wanneer jy by mense gaan kuier (lees: eet) dan neem jy ‘n klein geskenkie saam om dankie te sê.  Dit hoef gladnie groot te wees nie, ‘n klein blommetjie, ‘n sjokolade of ‘n pakkie mooi servette.  Net ietsie wat sê ‘ek waardeer die uitnodiging’.  Dit helder werklik die gasvrou se dag op, en verseker sommer ‘n volgende uitnodiging.

My susters doen dit ook.  Ons kuiers is nooit regtig formeel nie (behalwe vir die Come Dine with Me episodes), maar daar is altyd ‘n klein geskenkie.  En dit is fantasties!

So kom die jongste sus en haar man ‘n rukkie terug by my eet.  Ek is lus vir uithang, en maak ‘n massa kos.  Lasagne, garlic broodjies, slaai en ‘n banoffee pie vir nagereg.  ‘n Lekker wyn daarby, en met die goeie geselskap is alles reg vir ‘n lekker kuier.

Sussie bring vir my ‘n chillie plantjie as ‘n geskenk, die pragtigste plantjie, met ‘n paar helderkleurige chillies wat klaar hulle verskyning gemaak het.  Nogals met ‘n rooi strik omgebind.  Dit lyk absoluut pragtig in my plek.  Met die gee van die geskenk is haar woorde “hou hom net aan die lewe”.

Nou kan ek dalk net ‘n sê, my geskiedenis met plante is nie te waffers nie.  Ek sal die gier kry om ‘n groentetuin te begin, en dan gaan dit fantasties, tot ek net 1 oggend vergeet daarvan, dan kan ek maar die potte weer oppak en die droeë blare uitgooi.  Ek het egter 1 plant, so ‘n palm-agtige ene wat ek nie eintlik weet wat sy herkoms is nie.  Hy oorleef al vir 10 jaar.  Bygesê, die plant wys my presies hoe hy voel, hy lig sy armpies op as hy genoeg water het, en lyk sommer hartseer as ek weer ‘n slag moet gee.  Hy kan selfs plastiek wees, ek sal nooit seker wees nie…

So maak ek dit my mission om hierdie plantjie aan die lewe te hou.  Ek gaan lees op oor sy gunsteling omstandighede, en so eindig hy op langs my wasbak, tussen die ketel en die blik beskuit, waar hy voldoende lig/son kry.  Ek gee ook vir hom afgemete hoeveelhede water, en praat selfs bietjie met hom (hy is Chilliaans, dink nie hy verstaan my nie).

Ek doen alles reg, en vir ‘n rukkie gaan dit goed, totdat al die chillies mooi rooi is, en reg vir pluk….

Ewe skielik begin die blaartjies afval en niks wat ek doen, nie eers mooipraat wil help nie.  Ek gaan lees weer op, en probeer verskillende plekke in die huis, maar dit is asof die plantjie netnie meer ‘n wil het om te leef nie.  Ek wil sommer huil!

Uit desperaatheid gaan ek na ons tuinman by die werk, en vertel vir hom van my probleem.  Hy luister mooi aandagtig, en ek maak my nogals gereed vir ‘n wonderkuur wat die ou plantjie tot nuwe hoogtes gaan aanspoor.

“Die plantjie is klaar, hulle is nie meerjarig nie, eet die chillies en plant iets nuut in die bak”

So sussie, ek is jammer, ek het regtig my bes probeer.  Ek gaan nou maar vanaand ‘n lekker warm pesto maak met daai chillies, en môre sal ek by Stodels gaan kyk vir ‘n nuwe plantjie om in die pot te plant.

En dalk moet jy maar eendag net ‘n ogie hou oor my kinders… seblief.