Die storie wat jy sien kom het…

Hoe weet jy wanneer jy die skrywery regtig geniet? Wanneer jy in ‘n ongemaklike/scary/ongewone situasie is, en jy nie uitfreak nie, maar eerder dink “ek kan nie wag om by die huis te kom om hierdie neer te skryf nie!”  En dis presies wat vandag gebeur het.

Ek het die afgelope ruk vreeslik hard gewerk, en vat toe twee daggies af vir ‘admin’.  Jy weet, die selfoonkontrak uitsort (wat ek nie gedoen het nie), kar was (wat ek nie gedoen het nie), tuinmaak (wat ek nie gedoen het nie)… Ag, wie probeer ek fool… Ek wou in winkelsentrums sit en koffie drink, boeke lees en laatslaap.

So beland ek vanoggend in Tygervallei Sentrum.  Ek is nognie lekker seker oor waar wat nou is na die verbouings nie, maar gelukkig is die plekke met koffie darem alles bymekaar, so nie te moeilik nie.  Na ek moed opgegee het met die selfoonkontrak (sien, ek het probeer) gaan ek vir ‘n lekker koppie koffie.

En kort voor lank toe soek ek ‘n badkamer.

Ek dink nie die ‘signage’ is al so lekker nie, want ek het eers in een rigting geloop, en toe wys die bordjie ek is nou heeltemal verkeerd, en toe draai ek maar om.  Uiteindelik vind ek die nuwe toilette.

Nou kyk, dis massive!  Amper ‘n mall op sy eie!  Met ‘n foyer.  Jy stap ‘n hele entjie af in ‘n kronkelende gang, en eindig dan op in ‘n ronde ‘vertrek’ (die foyer).  Uit hierdie vertrek is verskeie deurlose ingange met bordjies wat aandui wie waar moet gaan.  Vroutjie, Mannetjie, Vroutjie met baba, Mannetjie met baba, Disabled Mannetjie, Disabled Vroutjie, Skoonmakers, Aliens…  ok, jy kry die idee.

Die ingaan is heel eenvoudig, alhoewel die gebrek aan deure maak dit ietwat riskant, sou jy by die verkeerde gangetjie ingaan.  Die uitgaan is egter ‘n ander storie!

Wag, eintlik is die hele toilet-aksie ook ‘n storie op sy eie.  En alhoewel ek nie graag oor my ablusies praat nie, was hierdie nogals snaaks.  So ‘n rukkie terug het ek ook toilet toe gegaan in Tygervallei, en my byna doodgeskrik toe die toilet homself flush.  Blyk toe daar is ‘n klein ogie wat jou dophou en die oomblik as jy opstaan, dan flush hy.  Oulik.

Ek dog toe egter AL die toilette doen dit, aangesien hulle almal dieselfde lyk, met hierdie ogie gedoente.  En toe ek nou vanoggend in hierdie doolhof toilet is, toe wil die ding nie flush nie.  En ek het gewaai, en weer gaan sit en opgestaan… niks.  Dis toe dat ek agterkom dat die ene moet jy self flush.

Ja, ek het vir ‘n toilet gewaai.

Anyway, terug by my storie. Toe ek uitstap by die Vroutjie toilette, toe is ek nou weer terug in hierdie ‘foyer’. En skielik kan ek gladnie uitfigure watter een van die tonnels ek nou moet neem om hier uit te kom nie.  Die een wat duidelik sê EXIT is nie die regte ene nie, dis ‘n nooduitgang, ook bekend as die rokers-ontsnappings-roete.  En al die ander het bordjies.

Ek wou nou nie regtig stupid lyk nie, so ruk toe my foon uit, en lyk vreeslik geinteresseerd daarin.  Wel, eintlik wou ek die GPS aansit om te kyk of die grand foon my kan help.  Gelukkig stap daar op daai oomblik ‘n gesinnetjie in die ‘foyer’ in, en red my uit my ellende.  Ek speed walk sommer daar uit, en gaan kry summier nog ‘n koppie koffie.

Ek weet nie of daar ‘n beroep soos winkelsentrum-badkamer-ontwerper is nie, maar ek is seker ek sal ‘n beter job gedoen het as die dude wat Tygervallei s’n gedoen het!

Ontbyt Opwinding

image

Ek hou van uiteet, nogals baie!  Nie dat ek dit gereeld doen nie, ek wil hê dit moet opwindend bly, en nie ‘n gewoonte raak nie.  En my gunsteling is ontbyt.  Ek sal ontbyt eet vir middagete, vir aandete, vir brunch, vir tee… En as ontbyt nie reeds ontbyt was nie sou ek dit ook verander het na ontbyt toe. En niks fancy nie, toast en ‘n eiertjie, dalk chippies & bacon as ek vrygewig voel, maar defnitief koffie. Ek dink ek is seker in die oggend gebore.

Nou hier naby my is ‘n klein restaurantjie.  Dis ook ‘n drive-in en by tye ‘n bar.  Dit blyk ‘n familiebesigheid te wees, want die oom noem almal ‘my meisiekind’. Die plekkie se grootste trekpleister is verseker sy pryse, dis spotgoedkoop! R60 vir 4 hamburgers & chips.  Heel skaflik.

So het hulle ‘n HUGE ontbyt (eiers, toast, bacon, chips, tamatie, uie, pattie, boerewors & koffie) vir R35. En dis mos nou asof dit gemaak is vir my! Ek het toe hoeka lanklaas uitgeëet, het niks wat my jaag nie, en daai advertensie roep my.  So gaan ek vir ‘n Sondagoggend ontbyt.

Nou as jy by ‘n plek instap op ‘n Sondag 9:30, en in die hoek sit ‘n outjie met ‘n bier vir jou en loer, dan draai jy om en stap uit. As dit klink of daar ‘n tribal spitbraai van een van die personeel plaasvind in die kombuis, dan staan jy op en loop! As die waitress besluit dis te stil, en dan Stamp Jou Mielie Treffers 2003 opsit, dan is dit waaragtig ‘n teken dat jy die verkeerde dag gekies het!

Maar nee, Adéle is een van daai tipiese Afrikaanse mense wat tog maar net te dankbaar is vir ‘n bietjie diens, al beteken dit die waitress bied vriendelik aan om jou koffie te ruil vir ‘n Black Label (ek het decline).

Wel, om ‘n lang storie en groot ontbyt kort te knip, dit was heel lekker.  Die groepie rooikop ooms in die hoek moes nou wel mekaar uit die booth uit help, ek weet nie of dit ‘n manne ding is, en of hulle net te lank gesit het en toe bietjie geset het nie.  Die vroegoggend bierdrinker het vir 4 biere betaal toe hy loop, dit was 10am.  Die waitress het begin vensters was terwyl ek eet, en by elke liewe een vir my gewaai as sy klaar is, ek reken sy het haar werk getoets.

En terwyl ek met my rekening (‘n A5 papier met ‘R35’ daarop geskryf) sit en wag kom ‘n baie ou tannie in. Sy is so oud, sy het in twee tafels vasgeloop, dra super dik brille, het ‘n crimplene rok aan en praat in ‘n Shakespeare-agtige manier. Die volgende oomblik gooi sy my persepsie egter helemal omvêr toe sy vir die waitress (wat ook ‘n vaardige vensterwasser is) vertel dat sy haar op Facebook geadd het.  En net daar gee sy vir die waitress ‘n les in die nuwe Timeline en hoe om fotos van haar foon af op te laai.

My mond het oopgehang.

En dit was maar net ontbyt.  Kan jy imagine hoe opwindend middagete kan wees?