Die hanswors voorlegging

Jare gelede werk ek by een van hierdie groot corporates.  Jy weet, een van daai waar jy maar elke dag netjies aantrek en jou teetye klokslag 10 uur en 3 uur is.  Ek was nie eintlik veronderstel om by die hoofkantoor te sit nie, maar dit het toe so gebeur en die enigste plekkie wat hulle vir my en ‘n kollega kon kry, was ‘n klein hokkie oorkant die kombuis, deesdae ‘n stoorkamer as ek dit nou reg het.  Buiten vir die ‘closeness’ was daar darem die voordeel van eerste tee kry.

Ons kantoor (!?) was op die boonste vloer, met aan die linkerkant om die hele finansiële afdeling en regs om die direkteure.  Ons het die direkteure maar min gesien.  Hulle het meestal die hysbak gebruik, en baie selde die kombuis betree.

En toe een dag sit ek met my pinstripe suit in ons hokkie, toe ek skielik ingelig word dat ek een van ons voorstelle aan ‘n direkteur moet gaan voorlê.  Nou dit klink geweldig, maar dit was nie regtig so groot nie.  Alhoewel ek maar nog ‘n junior was, en om na ‘n direkteur se kantoor te gaan is bietjie skrikwekkend.

En ek was net baie bly dat ek vandag my pinstripe aangehad het!

Nou moet ek ook bysê, dit was winter gewees.  So ek pluk toe vinnig my strawberry Labello uit my sak, maak die lippies mooi ordentlik vogtig, en met die voorstel gewapen skiet ek af in die stil, breë gang om die direkteur te gaan sien.

Dit het baie goed gegaan met die voorstel, die direkteur was baie vriendelik en het gelyk of hy ‘n wonderlike dag het.  Het vir my flou grappies gelag asof dit skreeusnaaks is.  En dit het gladnie lank gevat om hom te oortuig van my voorstel nie.

Heel verbaas maar ook baie chuffed met myself stap ek terug na die hokkie toe.

Toe ek by die hokkie instap, bars my kollega uit van die lag.  Sy wil onmiddellik weet waar ek nou net was.  En toe ek vir haar vertel dat ek by ‘n direkteur was, krul sy behoorlik!  Want het ek dalk in ‘n spieel gekyk voor ek gegaan het?

Sy hardloop saam met my na die badkamer, en dis met afgryse dat ek myself bekyk!  Want strawberry Labello is nie soos gewone Labello nie.  Dit is rooi.  En dit maak ook jou vel rooi.  En ek het dit bietjie oordoen.

Die gesig in die spieel is die van ‘n hanswors.  RERIG!!!  Een met ‘n bloedrooi mond, wat strek tot amper by die ore, en halfpad op teen die neus.  En hierdie hanswors het nou net ‘n voorstel gedoen aan ‘n direkteur.  And pulled it off!!!

Dis seker nie nodig om te vertel wat ek met daai Labello gedoen het nie.  Dis ook nie nodig om te vertel dat ek vir ‘n redelike tydjie daarna maar ‘n lae profiel gehandhaaf het nie.  Ek het nie eers na regs gekyk by die werk nie en met groot versigtigheid in die gange rond beweeg.

Een ding weet ek egter tot vandag toe.

As ‘n hanswors ‘n voorlegging kon nail, dan kan ek ook!