‘n Social op die internet

Ek onthou nog hoe opgewonde ek was toe ek internet by my huis gekry het, en ook ‘n Facebook profiel kon begin.  Uiteindelik kon ek mense vriende noem wat ek nog nooit ‘n woord mee gepraat het nie!  Ek kan elke oomblik, van elke vriend (en nie-vriend) herleef, asof ek daar is, asof ek daar wou wees, en asof ek welkom is daar.

Uiteindelik weet ek waar my vriende (en nie-vriende) elke dag is, wat hulle vir aandete gehad het, en sommer ook dat dit vandag die 3de anniversary is van die dag toe hulle kat vir die eerste keer uit die toiletbak gedrink het.  Saam raak ons opgewonde oor ‘n nuwe eetkamertafel wat gekoop is, by mense wat jy nie ken nie, by ‘n plek waar jy nognie was nie.

Ek kon fotos kyk van troues waarheen ek nie genooi was nie, en as ‘n bonus ook fotos van gras, stoptekens, skoene en motors.  Daar is fotos van honde en katte en kinders, net vir ingeval jy ooit by die mense se huis kom, dat jy nou nie vir Pietie met Jannie misgis nie.  Fotos van kinders is so volop, mens raak deurmekaar! Toe ek nou die dag vir die eerste keer ‘n ‘vriendin’ se dogtertjie sien was my eerste reaksie “maar het jy nie ‘n seuntjie op Facebook gehad nie?”

En dan kry jy daai albums, getiteld “ons ete by die spur” wat propvol is met 489 fotos van die keer toe einste Pietie uitgevat is vir ‘n random hamburger by die Spur in Voortrekkerweg.  Daar is geen snaakse goed soos verjaarsdag sterretjies nie, net 489 fotos vol glimlagte en mense wat baie duidelik ‘n wonderlike tyd het!  Ek wonder of hulle ooit die hamburgers geëet het?

Op Facebook kan ons plase en restaurante besit, die wêreld red van gangsters en vir jou vriende varke present gee.  Jy weet ook presies wanneer is dit ‘gee-jou-baas-‘n-drukkie-dag’ of ‘was-jou-buurman-se-motor-dag”.

Met Facebook is ons ook almal bietjie verander.  Skielik word wat jy van jouself dink gemeet aan die hoeveelheid ‘likes’ wat jou gedagtes kry.  Jy worry as niemand jou nuutste foto like nie, is ek dalk vet op die foto, gee iemand nog om vir my, ek moet emmigreer!  En ek sal maar nie begin met hoe passief agressief ons almal nou is nie, ja, jy weet van wie ek praat, en wag maar, ek gaan jou kry!

En toe ek my eerste blackberry kry het ek by Twitter aangesluit.  Nou daai is nou eers freaky! Jy volg honderde mense wat jy gladnie ken nie, en heel moontlik nooit sal ontmoet nie.  Jy volg hulle! Soos ‘n stalker en lees wat hulle geëet het, hoeveel keer hulle in die nag opgestaan het om toilet toe te gaan en kan sien presies waar in hulle huise hulle rondbeweeg met al die foursquare checkins.

Nou hoop ek nie ek het dalk op tone getrap nie.  Ek gaan nie my Facebook of Twitter profiles toemaak nie.  Daarvoor geniet ek dit te veel.  Daar is gelukkig die opsie om mense te ‘hide’, en dis tog lekker om te sien as vriende lekker goed doen.

Mag ons lewens tog eendag so opwindend wees as wat ons dit op Facebook laat klink…

Draai links… Herbereken!

Party dae wonder ek waar ek op hierdie oomblik sou gewees het as dit nie vir my GPS was nie.  Heel moontlik nie hier besig om te skryf nie!  Want wragtag, daai klein dingetjie het my al gered uit verskriklike situasies.  Lewensgevaarlike situasies om eerlik te wees.

Soos die keer toe ek Durban toe moes gaan vir werk.  My direkte hoof was daar, en ek moes gaan vir opleiding.  Hulle het my in ‘n baie fancy hotel ingeboek, en ‘n splinternuwe Polo gegee om mee rond te ry.  Ek het maar vir ou Garmin saamgevat, is darem soveel makliker as ‘n kaart.  So tik ek al die vorige aand die adres van die tak in soos aan my deurgegee, deur my baas.  Sommer die hotel se adres ook.  En ek voel heel gerus, want dit lyk nie of dit moeilik gaan wees nie.

Nou alles sou mooi uitgewerk het, as my baas nie ‘vergeet’ het dat die tak reeds 6 jaar terug geskuif het, en hy vir my die verkeerde adres van ‘n ou briefhoof af gestuur het nie.

En waar die vorige tak was, is nou ‘n massiewe, xenofobiese, volksvreemde plakkerskamp.  En ek met my wintervelletjie en splinternuwe Polo ry straight-bang binne-in die kamp in.  Want Garmin het so gesê!

Bygesê, dit was nie Garmin se skuld nie, dit was my baas s’n.

Ek dink nie ek het in my lewe al so dringend gebid soos op daai oomblik nie!  Daar is nie eintlik paaie nie, meer gat as pad.  Langs die pad lê ‘n dooie koei… ‘n Fries koei!  Ek moet uitswaai na ‘n ander gat om nie bo-oor hom te ry nie.  ‘n Duisend hoenders loop oor die pad, en een van die inwoners wys ek kan maar ry.  Ek onthou nou nog die gedagte wat by my opgekom het: “Kill your own lunch!”

Wel, lang storie kort, my Garmin het my gered.  In desperaatheid het ek “HOME” gaan kliek, al is dit ‘n duisend kilometer vêr.  Hy het my daar uitgekry, en ek het langs die hoofweg gestop (ja ja, ek weet dis onwettig) net om my asem weer terug te kry.  Ek was 2 ure laat vir werk, maar het hom gekry na 3 oproepe en ‘n internet search!

Daar ry nou die dag iemand saam met my in my kar, en die persoon het het nog nooit ‘n gps gesien nie.  Ons moet deur vreeslike draaitjies ry, en my Garmin is geweldig spraaksaam.  My passasier kyk vir Garmin so, en sê “jislaaik, jy praat baie!”  Ons klim toe daarna op die hoofpad, en Garmin is tjoepstil, want daar lê 30km van reguit pad voor.  My vriend lyk baie bekommerd, en draai na my en vra: “Dink jy sy is nou kwaad vir my?”.

Ek probeer nogals deesdae om op te let hoe ek ry, sodat ek die pad ‘n tweede keer dalk sonder die Garmin kan ry.  Ek wil tog nie soos daai ou in Duitsland wees wat sy gps so slaafs gevolg het, dat hy gedraai het, reg deur ‘n padversperring gery het en in ‘n opslaan toilet tot stilstand gekom het nie.

En ek kan darem nou al self, sonder gps my huis kry van die werk af 😉