Die Xhosa Toilet

Ek het al voorheen oor taal en die verwarring wat dit kan veroorsaak geskryf.  Ek het ook al voorheen oor toilette geskryf.  Maar gister het ek ‘n oomblik gehad waar taal en toilette netnie wou saamwerk nie!

Ons het ‘n stuk grond in Khayelitsha.  Ek was nog nooit voorheen daar nie, maar ons neem nou van die bedrywighede daar oor, en ek moes gaan files optel.  Kan ek ook net bysê dat ek aangenaam verras was met die plek.  Dit is baie mooi, en ons het selfs ‘n dowe skool, en ‘n sentrum vir outisme daar.  Als baie mooi.

Maar dit is nogals ‘n entjie se ry van ons gewone kantore af, en toe ek daar aankom groet ek almal so knyp knyp.  Die kantoortjie waar ek moet wees lyk bitter klein van buite, gladnie asof daar ‘n badkamer binne kan wees nie.

Gelukkig af in die gang sien ek die teken van verligting, mooi in bold, Times New Roman staan hy, “TOILIT”.

Die spelling worry my nie, en ek glip in.  En dis toe ek die deur toemaak wat ek oorweldig word deur 3 plakkate agterop die deur.  Ook almal bold, Times New Roman, maar bietjie kleiner gedruk.  Een so skuins bo die handvatsel, ene mooi in die middel, en ‘n laaste so skuins bo hom.

En hulle is almal in Xhosa…

Nou kyk, ek het myself al toegesluit vantevore (en ook daaroor geskryf) so ek is bitter versigtig as dit by vreemde ‘toilits’ kom.  Sal hierdie plakkaat langs die handvatsel dalk sê “moenie die deur sluit nie”?  En dalk sê die een in die middel “moenie die toilet gebruik nie”?  En wat gaan gebeur as ek enige van die goed doen?

Wel lang storie kort, ek het die kans gevat en die deur gesluit, en wonder bo wonder het hy gemaklik weer oopgesluit.  Die toilet was weliswaar ‘n taamlike dodgy affere, maar niks het weggespoel of afgeval of middeldeur gebreek terwyl ek daar binne was nie.

Nou dit mag dalk na ‘n stupid storietjie klink.  Maar vandag het my laat besef dat ek regtig ‘n poging moet aanwend om bietjie Xhosa te leer.

En nee, ek het nie fotos geneem van die posters nie.  Wie gaan met sy selfoon/kamera toilet toe?

Dinge

Dit is vir my baie interessant om in mense se huise te kom, en te sien watse ‘dinge’ hulle het.  En ek bedoel nou niks weird nie, goed soos yskaste en mikrogolwe en stowe en wasmasjiene.  Jy weet.  Al daai goed wat ons lewens so bietjie makliker moes maak.  En ek onthou toe ons op skool was, hoe ons gedink het die wêreld gaan lyk by 2012.  Karre wat vlieg en ‘n robot in jou kombuis wat alles doen.  Ons het verseker nie gedink ons gaan steeds yskaste, mikrogolwe en stowe hê nie.

As ek my nou self moet indink ‘n hele paar dekades terug, voor daar stowe was, dan sien ek nogals hoe mense vure maak en hulle kos daarop gaar maak, en die wat bietjie meer styl, klas en geld het, gebruik gas.  Maar toe kom elektrisiteit, en met die draai van ‘n knoppie het jy ‘n warm plaat.

En wat doen mense nou?  Ons bou braaikamers sodat ons ons kos op vure kan gaarmaak, en vervang die elektriese stowe met gas.  Wat dan nou van al ons wonderlike uitvindsels?

Yskaste is amper dieselfde.  Dit was veronderstel om kos ‘n bietjie langer te laat hou.  Ons het egter nie opgehou om ingelegde botteltjies te maak en by kersmarkte te verkoop nie, en die kos wat ons deesdae in die winkels koop is so vol preserveermiddels, dit het amper nie eers ‘n yskas nodig nie.  As jy enigsins twyfel oor daai ene, gaan kyk hoe lank kan jy ‘n McDonalds burger laat hou…

En dit is deesdae die in ding om yskaste te hê wat lyk asof hulle van die eerstes is wat gemaak is.  Ek praat natuurlik van SMEG.  Regtig?  Hoekom wil mens so baie geld spandeer op ‘n yskas wat lyk asof dit oud is?  En jy weet natuurlik dat as jy nou hierdie yskas (wat OUD lyk) het, dan gaan jy nie meer geld oorhê om kos in te sit nie?  Of mis ek nou die punt van ‘n yskas?

Ketels ook maar… Dit blyk deesdae die in ding te wees om een van daai fluit-ketels te hê wat jy op jou gasstoof kan neersit.  Dan moet jy tog net jou Voortrekker kappie onthou.

Oh, en blykbaar is die kleur van jou ‘dinge’ ook belangrik.  Maak ‘n silwer mikrogolf jou kos vinniger gaar?  Was ‘n silwer wasmasjien jou klere skoner?  En hou ‘n silwer yskas jou kos langer vars?  Ek twyfel.

Onwillekeurig kyk ek na my ‘dinge’.  Hulle is almal wit (want dis toevallig ook goedkoper as silwer) en werk heel fine.  My stoof is ‘n ou kalant, maar laat gelukkig nie meer goed flop nie.  Ek dink ons moes mekaar net eers leer ken in daai eerste jaar.  Die ketel kom nog van universiteit af, en die mikrogolf werk nog al die pad van dag 1 af.

En my yskas, sjoe, hy is smart!  Nie net hou hy kos koud nie, hy maak ook sy eie crushed ice!!  Elke 6 maande kan jy maar net met ‘n spatula in die vriesdeel inklim, dan skraap jy pragtige crushed ice van die kante af.

Lekker!