Die dag toe ek amper gesing het

Eendag, lank gelede… Nee, dis die verkeerde begin.  Dis nie so lank terug nie, en dit is verseker nie ‘n sprokie nie!  Dit was die grootste lewensles wat ek ooit geleer het, en ek sal dit vir ewig onthou.  Dit was die les in EQ, oftewel, emosionele intelligensie.

Die maatskappy waar ek op daardie stadium gewerk het se beleid was om sy werknemers absoluut enige opleiding te gee wat hulle mag help in hulle werk.  En die beste was dat jy self tot daardie besluit kon kom.  Na deeglike oorweging het ek onder andere besluit op EQ en “assertiveness”.

Nou oor die “assertiveness” training sal ek maar liewers nie praat nie.  Duidelik was dit ‘n flop van epidermiese proporsies.  Maar die EQ het iets by my agtergelaat.

Dit was ‘n pragtige lente oggend, voëltjies wat sing en daai dinge.  Die kursus sou 9 uur begin by Sanlam se hoofkantoor in Bellville.  Vir my wat op daardie stadium in Stellenbosch gewerk het, was hierdie ‘n welkome laatslaap oggend, aangesien ek gewoonlik al 6:30 uit die huis was soggens.  Op die oog af ‘n perfekte dag uit die kantoor.

Ons was 9 in die kursus.  Almal outjies wat of self besluit het of wie se base vir hulle besluit het.  En almal daar met ‘n doel, ons wil emosionele super heroes raak.

Die lokaal was nice, flippen groot vir ons 9, maar ten minste sou dit nie een van daai bedompige gedoentes hier by lunch word nie.  En Sanlam se diens by sulke trainings was nog altyd fantasties, ons welcome snacks het gelyk soos kos langs ‘n rooi tapyt.

Die eerste helfte van die oggend was maar taamlik gewoon, in fact, dit het op die randjie van verveling gaan draai.  Ons sit en maak notas en luister na die klein mannetjie wat met eindelose energie en hope EQ daar voor rondtrippel.

En die volgende oomblik kondig hy aan dat ons nou 2 minute het om aan ‘n liedjie te dink, na die 2 minute gaan ons individueel voor die groep kom staan, en die liedjie vir 2 minute sing.  Jy mag nie korter as 2 minute sing nie, en jy MOET die regte woorde sing.

Ewe skielik is ek nie meer in ‘n mooi training lokaal met genoeg aircon nie.  Ek is vasgevang in die bedompige, kan-nie-asem-haal hel van sang.  Kyk, die koor juffrou het my in sub A en sub B toegang tot die koor geweier en later toe ek weer lesse probeer neem is vir my vertel ek moet nou maar regtig eerder ‘n ander talent soek.

Wel, so sit ek daar, angsbevange vir my 2 minute van hel, en al bleddie liedjie waaraan ek kan dink?  Grace Kelly van Mika.  En net die koortjie!  (Gaan kyk, ek het dit onder liedjie van die week gesit).

Nou hoe de dinges gaan ek, wat nie KAN sing nie, vir 2 minute lank die koortjie van Grace Kelly sing, wat by the way oor iets soos 20 oktawe strek!  En voor al die mense?  Want ewe skielik lyk die ander 8 soos ‘n skare by Nuweland!

Die meisie aan my regterkant gaan aan die bewe, sy het 3 weke gelede getrou, en kan om die dood toe nie die liedjie onthou waarop hulle die dansvloer geopen het nie.  ‘n Entjie verder af in die ry klink die een ou of hy hier en nou gaan siek word.  Ek sing oor en oor en oor in my kop “I could be brown, I could be blue”.

Die 2 minute is verby, en die meisie aan my linkerkant spring fluks op, en trek weg.  Ek sien net spierwit mure, en weet skielik hoe dit voel om in ‘n gestig te wees.  Die liedjie wat sy sing is onbekend, maar sy sing woorde.  Verskilendes, nie net die koortjie nie.  En ek kom skielik tot die besef dat ek volgende is.

Ek begin wonder of mens jouself kan dwing om flou te val.  Maar sê nou ek val en kap my kop, dan is die IQ sommer ook daarmee heen.  Ek begin bid, vir enigiets, voedselvergiftiging, dak-ineenstorting selfs ‘n aanval van diarree sou welkom wees.

Sy is klaar gesing, en ek is KLAAR!  Ek knyp my oë styf toe, haal diep asem en…

Toe is alles verby.  Die meisie is in die klas geplant vir effek.  En dit was alles deel van die oefening.  Die meisie langs my begin histeries lag, ek wil amper huil, en die naar ou hardloop uit die klas uit, om nooit weer sy verskyning te maak nie.

Ons is daarna in detail geleer hoe om sulke situasies te hanteer.  Ek moet eintlik weer bietjie gaan lees deur my notas, wel, die wat ek gemaak het na daai episode.  Sekere goed het ek bietjie vergeet.

Maar een ding het ek daai dag besluit.  Nooit ooit weer, nie by ‘n karaoke nie, nie by die kerk nie, nie eers vir iemand se verjaarsdag, sal ek gedwing word om alleen te sing nie.  En al is dit dan nou die hoogste vlak van “assertiveness” en EQ wat ek ooit sal bereik… So be it!!

Die Groot Vloed

Ek het onlangs begin water drink.  Nou nie vir die eerste keer nie, maar ewe skielik het ek besef hoe min water ek gewoonlik drink deur die dag.  Want ‘n ou koffietjie eerste ding in die oggend is mos baie lekkerder as 2 glase water.  En dit word “teetyd” vir ‘n rede genoem.

En ek moet sê, na ek oor die aanvanklike detox hoofpyn gekom het, voel ek great!  Water is regtig goed vir jou.  Ek is nie seker hoekom nie, maar die kenners sê so, so dit moet so wees!

Daar is net EEN newe-effek… jy is permanent in die toilet!

By die werk is dit ok.  My kantoor is langs die badkamer, en ek kan die deur sien, so weet ook wanneer hy oop is.  By die huis is dit ook nie ‘n probleem nie, ek bly nou nie juis in ‘n mansion nie.  Die probleem kom in as jy iets moet doen waar jy vir meer as ‘n uur nie toegang tot ‘n toilet gaan hê nie.

Ewe skielik begin jy jou roetes wat jy ry beplan volgens die hoeveelheid wit-hasie-petrolstasies wat langs die pad is, die afstand tussen hulle en die algemene lengte van die rit.  Jy dink twee keer voor jy ‘n uitnodiging van vêr aanvaar, en jy wens jy was nog klein genoeg dat ‘n potjie in die kar as normaal beskou sou word.

Sovêr kom ek nog mooi reg.  Geen ongelukkies nie.  Ek het wel al ‘n paar keer my trappe letterlik uitgehardloop in die haas om by die huis te kom, maar ek skryf dit af aan oefening.

Vanoggend sit ek toe egter met ‘n nuwe uitdaging.  My kar se wheel bearings of cv joints of iets anders net so belaglik is besig om te gaan, en dit moet vervang word.  So karretjie is by die mechanics, en ek besluit om werk toe te stap.  Dis so 5km, en darem ‘n veilige pad.

Maar wat nou gemaak met die baie water?  Daar is nie toilette langs die pad nie, en ek verspoel eerder voor ek my ding net daar doen!  So ek besluit toe maar om eerder my 2 “starter” glase by die werk te drink as voor die staptog.

Wel, om ‘n lang storie (want dit is nogals ver in werksklere) kort te maak, ek het veilig en in een stuk by die werk aangekom.  Ek was egter nie droog nie, maar dis die reën se skuld.  Want ja, die sluise open toe so duskant 7:15 en ek is papnat!  En my bril het nie wipers nie, so kan toe boonop ook nie te lekker sien nie!  Wat miskien goed is, my ego sou nie die laggende motoriste kon hanteer nie.

Ek moet meer dankbaar wees vir dinge soos ‘n kar.

Ek verneem dit raak beter.  Jou liggaam raak gewoond aan die baie water en jy hardloop nie meer so gereeld nie.  Tot dan sal ek maar volhou.  Maar ek sal twee keer dink voor ek weer werk toe stap in die reën!

 

 

My niggie is ‘n paaldanser

My niggie is ‘n paaldanser.  Ja, nou weet ek wat jy dink.  En jy’s verkeerd!  Sy is ‘n rekenmeester, en die gedraai en swaai om pale is net vir oefening.  En jy moet flippen sterk en in beheer wees om daai moves te kan doen!

Maar so is dit toe die 1ste “showcase” verlede Vrydagaand.  Verskillende studios se mense kom bymekaar, verkoop kaartjies en doen dan wat hulle tot dusvêr nog net agter geslote deure gedoen het.  En as venue kies hulle die 2 Oceans Akwarium in die waterfront.

[slideshow id=11]

Nou as deel van my volunteerwerk was ek al so baie by die akwarium, ek het telling verloor.  Ek ken die visse persoonlik!  Om te gaan kyk hoe dames aan pale swaai, voor die einste visse wat al soveel kinders laat glimlag het, gaan BAIE intimiderend wees.  Maar hoekom nie!

En dit was lekker!  Ek het ongelooflike mense daar ontmoet, ‘n heerlike wyntjie gedrink, en selfs die skaam skilpad het ‘n draai kom maak terwyl die danse aan die gang was.  Hy’t defnitief probeer hande klap!

So sit ek met die program in my hand, en draai na die tannie wat agter my sit.  Trots wys ek dat die volgende item op die program my niggie is!  Nogals ‘n solo.  Die musiek begin speel, en wat die tannie terugwys en sê raak ietwat verlore, maar ek kan net-net uitmaak, en dit klink soos  asof die act daarna haar “great aunt” is wat optree.

Ek is so stomgeslaan, mis amper my niggie se optrede, maar ruk my betyds reg, en neem ‘n stukkie video en ‘n paar fotos.  Sy is goed!

En toe sit ek reg met alles tot my beskikking om die volgende act af te neem, want nooit in my lewe weer gaan ek seker die kans hê om iemand se “great aunt” te sien paaldans nie!

En hier kom ‘n jong meisie op, en begin dans.  Heel goed, maar ek sukkel om die stambome nou uit te lê.  Dalk is daar ook sulke groot ouderdomsverskille in hulle familie soos ons s’n, maar nogsteeds, ek het nog nooit van ‘n “great aunt” gehoor wat so jonk is nie.

Toe die dans klaar is draai ek in ongeloof om na die tannie.  “THAT was your great aunt?”  Sy bars uit van die lag.  Jip, ek het verkeerd gehoor.  Want dit maak baie meer sin dat hierdie haar “god child” is, eerder as haar “great aunt”!

Ek wonder tog of dit moontlik sou wees…

Ekke, die TMO

Ek sal my nou nie self beskryf as ‘n groot rugby “fan” nie.  Ek was altyd mal daaroor gewees om Nuweland toe te gaan, maar vandat my pa skoonseuns gekry het is dit nie meer vir my beskore nie.  Ek moet dus staatmaak op die radio en tv.

En so gebeur dit dan partykeer dat ek ‘n game helemal mis.  Ek hoor eers die volgende dag dat WP gisteraand gespeel het, of dat die bokke ook iewers ‘n game verloor het. En weet jy wat?  Ek het nog niks oorgekom daarvan nie!  In fact, met al die hartseer tellings deesdae is ek nogals elke keer verlig as ek agterkom dat ek 2 ure van my lewe vir iets nuttig kon gebruik.

Die interessante ding egter van op die radio luister is dat die spanne altyd baie fikser klink as wat hulle op die tv lyk.  Seker maar omdat die omroeper konstant praat, en daar nie altyd konstant iets plaasvind nie.  So elke tree word aangekondig, wat dit dan natuurlik laat klink asof die arme speler verskriklik vêr hardloop.  As jou game op die radio uitgesaai word, is die veld ook groter… luister maar, dit is so.  G’n normale veld het soveel hardloop spasie nie.

Gister kom ek toe ook agter dat rugby op tv ook geweldig snaaks kan wees.  Ek het my sit en doodlag!  Sit eerstens die klank af.  As jy nou mooi daaroor gaan dink, wat vertel die kommentator jou nou eintlik.  Wie nou net aan die bal gevat het?  Dit kan jy self sien, en ek kan jou waarborg niemand gaan jou by die werk vra wie het almal die bal hanteer in die 23ste minuut van die game nie.  Dis net die drieë wat belangrik is, en daar kom in elk geval so ‘n dingetjie op met die ou se naam wat gedruk het.

Nou met die klank af, hou bietjie die spelers se lyftaal dop.  Sonder om name te noem, party van die ouens is wragtag super melodramaties!  Jy sal die een speler kry wat maar eerder ‘n ref moes wees.  Hy is gewoonlik ‘n skrumskakel.  En hy het nie ‘n saak met waar die bal is nie, maar staan en waai so met sy arms om vir die ref te wys dat die een ou iets horribaals verkeerd gedoen het, dat dit sonder klank genuine gelyk het of hy probeer opstyg!

Die opstaan na ‘n val is vir my ook net die beste, veral as daar in die proses ‘n aanslaan was.  Dan kry die skuldige gewoonlik so ‘n gepynigde uitdrukking op sy gesig, maar hy het nie noodwendig seergekry nie.  Sonder klank om jou aandag af te trek kom die ware rede vir die gesig deur, hy het ‘n piepie!  Ek dare jou, gaan kyk!

Losskakels is ook ‘n spesie op hulle eie.  Met klank weereens as die aandag afleier lyk dit gewoonlik of hulle skop, en dan baie beskeie is daaroor terwyl hulle terugdraf (nooit loop nie).  Maar gaan kyk sonder klank.  Daai gesig is een wat baie chuffed is met homself!  En as hy kon, sou hy heel moontlik die skare opgesweep het om vir hom hande te klap soos ‘n WWE stoeier!

Ek het maar opgegee met die rugby op tv ding.  En die radio ook.  Ek soek net die eindtelling, en sal ‘n youtube video van ‘n spectacular drie gaan kyk, as daar so iets is.  Maar ek mis tog vir Nuweland…

 

 

Langeraat, duimpie se maat

As jy my al ontmoet het sal jy weet ek is nogals lank.  Nou nie freakish lank dat die rekord ouens my drumpel deurtrap nie, maar steeds lank.  En dit is nou een van daai bittersoet goed, want ek kan my mikrogolfoond bo-op my yskas sit, maar ek kan nie lekker manage in party dele van die Kango grotte nie.  Ek kan my boonste kaste gebruik maar kan nie slaap in my kar nie.

Meeste van die tyd pla dit my nie.  Ja, my rug raak bietjie seer van afbuk na al die kort vriende wat ek het, en ek kry partykeer hoogtevrees as ek te vinnig afkyk, maar oor die algemeen kies ek om die positiewe eerder as die negatiewe raak te sien.  En op so ‘n hoogte kan mens nogals mooi sien…

Die enigste keer wat my lengte my ooit gepla het, was in standerd 3.

Dit was sonnige dag.  (daai sin was net vir effek)  Dit was tyd vir die laerskool se massa groepfoto.  Die hele skool word in rye ingepak op die rugbyveld, en oom Tom kom neem die foto.  Dit was nie so ‘n groot skool nie, so mens kan nogals almal se gesigte uitmaak op die fotos wat mooi hang in die voorportaal.

Hulle het ons oor die interkom geroep, in klasverband.  Basies maar sodat ‘n klein sub A’tjie ook raakgesien kan word, en nie agter ‘n standerd 5 kind beland nie.  Hier en daar is daar ‘n verstelling gemaak aan die ry, sodat die langeres in die standerd darem nader aan die volgende standerd staan, en ons nie soos ‘n brekende brander lyk nie (alhoewel ons dit toe hoeka een jaar moes doen!).

En toe raak dit tyd vir die standerd 3’s.  Ek kan nog die plek onthou!  Dit was tussen die biblioteek en die tennisbane waar ons moes deurstap, en ‘n juffrou trek my uit die ry uit.  Damn, was my eerste gedagte, nou kan ek nie staan en chat by my vriende nie.  So ‘n fotonemery kon nogals ‘n tydjie vat.

So staan ek toe nou maar en wag om weer in die ry gesit te word.  En na ‘n rukkie raak ek bietjie angstig, want die kinders wat nou verbystap, is in standerd 4!  En steeds loer die juffrou net so nou en dan na my, meet my en vind my te lank.

En toe kom die standerd 5’s.

Nou die storie sou nie so vars in my gedagtes gebly het as die juffrou my iewers ingedruk het in die ry nie.  Dan was alles fine.  Self al het sy my ingedruk voor die laaste persoon in die ry, dan was dit ook fine.  Maar sy los my tot die hele ry verbystap, en dit net die terreinpersoneel is wat oorbly, wat gewoonlik heel agter gestaan het, en toe mag ek loop.

En op laerskool is dit nou nie ‘n prestasie om die langste in die skool te wees nie!

Wel, die foto is geneem en dis darem nou nie asof ek enige blywende letsels oorgehou het van daai dag nie.  Ek twyfel ook of ek enigsins anders sou wees vandag as ek daai tyd tussen my vriende kon staan en nie soos ‘n uitgeworpene moes wag vir ‘n plek wat nooit gekom het nie.  Maar ek het ‘n ruk terug daai foto weer gesien.  En ek het daar gestaan, trots, perfek in die middel met die skoolhoof se kop in ‘n perfekte simmetriese lyn.  En agter my, met hulle hande op my skouers het twee van die terrein werkers gestaan. Ek kan hulle name onthou, en hulle myne. En miskien het DIT my verander.