‘n Gereformeerde glips

Na ‘n paar jaar waar ek die kerk van ons selgroep bygewoon het, is ek nou weer terug by die kerk wat ek nog my hele lewe aan behoort.  En nie veel het verander nie.  Daar was wel ‘n paar veranderinge aan die binnekant, maar dit is nogsteeds die NG kerk waaraan ek gewoond was, met die orrel, die min parkeerplek en die koekies na die diens.  En ons stig toe sommer ons eie selgroep by die kerk, so nou kom ek ook daar vir ‘n mid-week byeenkoms.

Iets snaaks gebeur egter met my as ek by die kerk aankom.  My brein stop.  Genuine!  Hy hou helemal op met werk.  Die wat my ken sal weet dat ek baie presies is in hoe ek my goed doen, en dat ek ‘n geheue het wat salusa 45 sal laat bloos.  Maar as ek by die kerk land, dan wil hy nie werk nie!

Die eerste keer wat ek werklik bewus geword het van hierdie probleem, was so ‘n rukkie terug tydens Pinkster.  Ek het betyds, en rustig by die kerk arriveer, gewag vir vriende en familie om te kom, en toe gaan sit.  Nice diens gewees, lekker gesing, en alles was fine, tot die dominee by die afkondigings aan die einde van die diens kom.  In sy hand het hy ‘n bestuurslisensie, en sonder dat ek eers hoef te kyk, weet ek dit is myne.  Hy was gelukkig baie subtiel,  maar met die uitstap vra my suster mooi hier van bo die gallery af “is dit joune?”  My cover is geblaas!

Na die voorval is ek elke keer geweldig versigtig as ek by die kerk kom.  Ek check dat elke sakkie deeglik toe is, alles stewig verpak is, en ek vermy dit om met enigiets in my hande te loop.  Vreemdes keer my voor en vra of ek my lisensie het, wat my onmiddellik laat skarrel, en dan vir ‘n oomblik kom nog ‘n gedagte by my op… WTF?  Ken ek jou?

Maar iewers, in al die versigtigheid het ek nie rekening gehou daarmee dat my brein iewers weers gaan staak, en my onkant vang nie.  En toe laas Sondag breek die staking toe mos hoeka aan, so saam met die petrol ouens.

Weereens het ek betyds by die kerk arriveer, rustig, kalm.  Groet een van my “instant vriende” in die voorportaal, en wag vir die res.  Geen snaakse insidente tydens die diens nie, en weereens ‘n mooi diens.  Met die uitslag raak ek egter koud.  My sleutel is nie in die sakkie waar hy gewoonlik is nie!  In fact, hy is nêrens nie!  Ek raak so mildly paniekbevange.  Mildly, want daar is darem ‘n spaarsleutel by my ma’le wat nie te ver weg is nie, en my kar is nog hier.

Die vriende vorm ‘n vinnige soekgeselskap, die familie verdwyn (blykbaar min gespin).  Ons besluit die beste manier om die sleutels te kry (siende dat hulle nie hierdie keer dit vir my in die kerk afgekondig het nie) is om my spore terug te trace van my kar na waar ek gesit het.  En net voor ons wil begin, kyk almal soos een man na waar die sleutel normaalweg is, en wragtag!  Daar sit hy!  En ek het een van daai remote-central-locking goed, so kon nie eers die sleutel toegesluit het nie, het hom net daar gelos!

Ek weet regtig nie wat dit met daai plek is nie.  Dalk een of ander teken?  Dalk verloor my brein suurstof omdat die kerk so hoog teen die bult op lê?  Dalk raak ek oud? Of dalk is dit maar net ‘n verskriklike gereformeerde toeval.

Die Apteek se vibrator

So stop ek gou vinnig by die apteek die ander aand om ‘n voorskrif op te tel.  Dieselfde apteek waar ek nog altyd gaan.  Sommer lekker gerieflik dat hulle 24/7 oop is, en dit vat darem gewoonlik nie langer as 5 minute nie.  EN hulle het Steri Stumpies…

Ek neem my plek in die regte ry in, en begin met my gunsteling tydverdryf… mense kyk.  Apteke het altyd die snaakste karakters!

Sommer baie gou is ek voor in die queue, en gee my voorskrif vir die apteker.  Goed geoefen tik sy die besonderhede in, en ek wat net so goed geoefen is rammel my adres af nog voor sy daarvoor kan vra.  Mooi geleer…

En toe kom dit by die deel wat sy die drie g’s moet doen – gee, glimlag en groet.  En sy gee, en glimlag, en groet,  en ek is so in gewoonte, draai om en begin wegloop (nadat ek ook geglimlag en groet het) en kyk toe af na die ding in my hand.

En ek het nog nooit so iets gesien nie.  Dis so ‘n groen gadget, met ‘n nommer 26 op.  En ek is nie seker wat moet nou gebeur, en of sy dalk my order verkeerd gekry het nie.

Toe ek egter bietjie begin rondkyk, sien ek daar eenkant by ‘n ander toonbank staan nog 2 mense met soortgelyke gadgets.  En ek is nie een wat hou van te veel kollig op my nie, so gaan staan maar toe ook daar rond.  Ek wil nie te stupid lyk nie, so terwyl ek vreeslik belangstellend kyk na die rak hier voor my, loer ek darem so uit die hoek van my oog wat gebeur.  Dis eers na ‘n goeie minuut of drie wat ek agterkom dat hierdie nou nie ‘n rak is waarin ek moet belangstelling toon nie.  Heavy lakseermiddels!

Skielik begin die een ou se liggies flikker, en hy stap na die toonbank.  Sy pakkie word oorhandig, en hy is gone.  Ek ontspan, dis net liggies, en hy maak darem nie ‘n geraas nie.

En skielik begin die ding in my hand vibreer en ligte flits!  Ek skrik so groot, ek laat val hom.  En asof dit nie erg genoeg is nie, stap daar op daai oomblik iemand by een van die massiewe apteek se deure uit met iets wat nie gescan is nie.  En die alarm gaan af.  Toeval was nog nooit so erg TEEN my nie.

Uiteindelik kry ek darem die dingetjie opgetel, gee dit vir die tannie, en kry inruil daarvoor my pakkie.  Blitsig skiet ek deur na die till, bly dat ten minste hulle nie die oomblik beleef het nie.  Pakkie betaal, en uit by die deur.  Steri Stumpie vergete.

As ek nou terugdink is dit eintlik ‘n heel werkbare oplossing, veral as dit besig is.  Die apteker moes my net beter ingelig het.  En die storie van hoe ek met ‘n vibrator saam met ‘n groep ander mense in die apteek rondgestaan het, is nogals ‘n goeie conversation starter…

Instant Vriende

Het jy al gesien hoe ‘n baie klein, gemeenskaplike “iets” van iemand ‘n instant vriend kan maak?  Ek is seker jy het al!

Dink bietjie terug (party verder as ander) na jou skooldae.  Jy moet aan ‘n eisteddfodd gaan deelneem, maar by ‘n vreemde skool in die stad, en jou gewone vriende gaan nie saam nie, want jy’s die enigste een in daai kategorie.  Jy arriveer, en die plek is gepak in allerhande kleure skoolbaadjies.  Jy voel taamlik verlore en alleen, maar dan sien jy dit.  Iemand anders het dieselfde baadjie aan as jy.  Hy/sy sien jou ook raak, en die baadjies raak magnete wat julle outomaties na mekaar aantrek.  Nevermind dat jy nog nooit die kind gesien het nie, julle het daai “iets” wat julle dieselfde maak, en raak dadelik aan die gesels.  En julle bly bymekaar deur die hele event,  soos ou vriende.

Daar is baie sulke geleenthede.  Enige plek waar jy moet wag vir iets skep die geleentheid om ‘n instant vriend te maak.  En daai “iets” kan enigiets wees.  Dit kan jou taal wees, of jou ras, of waar jy werk, of jou skool, of jou klere, of jou manier van vervoer, of selfs net die plek waar jy parkeer.

Onlangs het ek agtergekom ek het die gewoonte om soos meeste ander mense op dieselfde plek by die kerk te parkeer.  En toe kom ek ook agter dat die oom wat langs my parkeer dieselfde gewoonte het.  Elke keer.  En al arriveer ons op verskillende tye, sal ons mekaar opsoek om hello te sê.  Want ons karre hou mekaar geselskap.  Instant vriendskap, al is dit nie baie diep nie.

Tog kan ek nie help om te wonder wat sal gebeur as jy daai instant vriende omsit in permanente vriende nie.  Dalk vind jy iewers jou soulmate?  Of net ‘n baie goeie vriend?  Dalk is dit ‘n mors van tyd, maar net dalk is dit die moeite werd.

Dalk moet ek bietjie moeite doen, en die oom se naam vra.  Of dalk net sy van, want ek gaan hom nie op sy naam noem nie, daarvoor verdien sy jare baie meer respek.  Maar dalk sal ons lekker gesels oor ‘n koppie koffie.  En dalk is dit die begin van ‘n vriendskap.

 

Geluide in die nag

Ek is ‘n taamlike ligte slaper.  Eintlik is dit ‘n bietjie weird, want ek sal waarskynlik dwarsdeur ‘n massiewe partytjie by my bure slaap, maar is oombliklik wakker op ‘n Sondag as die koerantverkoper sy eerste “RAPPORT!!!” uiter, 3 blokke vêr!

Ek het genuine al my share van snaakse oomblikke gehad so in hierdie nagtelike wakkerwordsessies.  Van ‘n boemelaar wat vir ure gehuil het oor sy bottel OBS wat in die gutter geval het, tot twee vriende wat in ‘n oomblik van dronkenskap in mekaar vasgery het, toe daaroor stry, en toe nie kan onthou wie se kar wie s’n is nie! (let wel, dit was nie my vriende nie!)

So gebeur dit een nag dat ek wakker word van ‘n kardeur wat klap.  Ek loer so na my selfoon, en sien dit is 1:45. Seker iemand wat bietjie uit was, alhoewel dit nogals laat is vir ‘n weeksaand.

In die verte hoor ek hoëhakskoene wat klak-klak oor die teer.  Maar dis vêr, en siende dat dit ‘n windstil aand is kan ek nogals mooi skat dat die kar daar iewers by die wasgoedpale geparkeer het.

Maar die skoengeknal hou nie op nie.  Ritmies en sekuur stap die vrou (of man).  En na ‘n rukkie kom ek met ‘n skok agter dat die skoendraer dan nou al onder my venster verbystap.

Ek kan nie dink hoekom jy nou regtig so vêr van jou plek af wil parkeer nie, maar ek gee haar (hom) die voordeel van die twyfel, ek meen, dalk is dit ‘n jongetjie wat pa se kar gestamp het…

En skielik begin die skoene trappe klim.  My trappe! Op sigself nie ‘n krisis nie, behalwe dat my bure op daai stadium bestaan het uit ‘n ouerige getroude couple, ‘n computer nerd en twee gays met ‘n baba. Hoogs onwaarskynlike ontvangers van ‘n middernagtelike, hoëhaakskoendraende besoeker.

En toe lui my klokkie…

En ek gaan in dentist-mode in.  Jy weet, waar jy so bang is iets gaan gebeur, dat jy nie meer jou ledemate kan voel nie?  En tjoepstil lê ek. Wie de dinges is dit?  Net ‘n nugter persoon kan so mooi ritmies loop, so wat soek ‘n nugter persoon die tyd van die nag by my?  Sonder om te laat weet?

Uit vrees en verwardheid het ek toe nie die deur oopgemaak nie. Angsbevange het ek lê en luister hoe die skoene al die pad terugstap tot by die kar, inklim en wegry.

Tot vandag toe is dit ‘n mystery.  Niemand het nog gebel en gevra hoekom ek nie oopgemaak het nie, en dit het ook nognie weer gebeur nie.

As jy dus die middernag sluiper is… skuus.  Gee my tog maar ‘n ou luitjie.  Ek vermoed ek kan nogals bietjie leer by iemand wat so netjies op daai skoene kan loop!