My Kompleks

Ja, ek weet wat jy nou dink.  Dat jy nog al die tyd reg was, en ek inderdaad ‘n kompleks het?  Wel, jy’s verkeerd.  Ek dink ek het baie komplekse.  Maar dis nie waarvan ek nou praat nie.  Ek praat van die kompleks waarin ek nou al 8 jaar bly.  My spreekwoordelike Palestina, alhoewel jy na dese mag wonder of ek dalk mal is.

Sien, hier by ons is baie snaakse en interessante mense.  Laat ek sommer begin met die woonstel langs my.  Hy is gejinx.  Niemand bly lank daar nie.  Bygese dit is altyd huurders, maar steeds.  Ek het net geleer hoe om my bure se name en vanne uit te spreek, dan verdwyn hulle alweer.  Die outjie wat tans daar bly het ek nog skaars 3 woorde mee gepraat, en hy is alklaar weer oppad.  Daar was ‘n psigopaat, ‘n vroueslaner, ‘n ou se skelmpie, ‘n gillende mal vrou wat die locks verander het, ‘n scary couple wat lyk of hulle 14 is met sulke spierwit katte, en ook die mense wat 2 keer gedoop het in hulle kort tydjie langs my.  En ek sweer ek het niks met enige van hulle se kom en gaan te doen nie.  Maar ek is nogals bly die klomp wat brood voor hulle voordeur gesit het vir die voels is nie meer hier nie!

Verder af in die kompleks bly ‘n opera sanger.  Hy vermaak ons so eenkeer ‘n maand met regtige pragtige opera terwyl hy na sy kar toe stap.  Dit is asof die kompleks gaan stilstaan as hy begin sing.  Sy bure is egter ‘n ander nasie.  Hulle gunsteling liedjie is “Jessica” van Ray Dylan.  Hoe weet ek dit?  Want hulle speel dit so baie, hulle CD het nou die aand omstreeks half een begin haak.  Toe speel hulle hom maar tot by die haak, en begin dan weer.

Ons AGM’s is deesdae heel skaflik en lekker kort, maar dit was nie altyd so nie.  Daar was ‘n tyd wat jy nie sou kon onderskei tussen ons AGM en ‘n universiteits koshuis se huisvergadering nie.  Ewe veel snert is kwytgeraak, en klagtes soos die gras wat groener is op party plekke en die breedte van trappe het aandag gekry.

Hier is ‘n hele paar mense wat al JARE hier bly, en wat vir talle komiese oomblikke sorg.  Twee is egter favourites!  Die oom met die af arm is ‘n inspirasie.  Hy bestuur sy eie motor, werk self in sy tuin, gaan elke dag werk toe en is altyd vriendelik.  Die oomblik wat ek nooit sal vergeet nie, is toe ek op my stoep gestaan het, en ek sien hy is besig om sy tuin nat te spuit.  Ek waai toe vir hom, en hy waai terug (met sy een arm), ten koste van sy vrou wat langs hom staan.  Die verontwaardiging op haar gesig toe hy haar papnat spuit, sommer so onverwags!

En my ander gunsteling is die “ou tannie”.  Sy het skuins onder my gebly toe ek ingetrek het, en is steeds daar.  As dit nie vir haar was nie, was my verblyf hier maar taamlik rustig gewees!  Ek moet gereeld haar motor om die blok gaan ry, sodat die battery nie pap word nie, sy het my al wakker gebel 2 uur in die oggend om iemand te gaan stilmaak wat net sy kan hoor, en as sy kom kuier loer sy deur my sleutelgat.  Sy weet wie en wat in elke woonstel bly, en haar missie is om op soveel  moontlik parkeerplekke te stop wat nie hare is nie.  Haar groot oomblik was sekerlik die dag toe sy my by die werk bel om te se die wind het my voordeur oopgewaai (ek het darem ‘n veiligheidshek).  Aangesien ek in Stellenbosch was vra ek toe of sy dit asseblief vir my sal gaan toetrek waarop sy antwoord “nee, die wind waai buite”.   Sy het blykbaar super powers wat haar my voordeur kan laat sien, al is sy binne haar eie woonstel…

Ten spyte van al die dinge wat al gebeur het hier, al die geraas wat ek al gemaak het (sonder ‘n enkele boete), al die bure wat ek al gehad het, al die kere wat die diaken tannie my gejaag het (genuine, ‘n storie vir ‘n ander keer) en al die kere wat iemand al op my parkeerplek gestop het, bly dit ‘n great plek om in te woon.

En ek sal dit nog lank my kompleks noem.

 

Die Spar Hunter

Ek is bang om na ons Spar toe te gaan…

Nie oor die gebou nie.  Dis in ‘n klein sentrum geleë, en lekker ruim en skoon.

Ook nie oor die karwagte nie.  Hulle is vriendelik, dring hulle nie op nie, en gee selfs komplimente!

Maar wel oor daai sekuriteitswag daar binne.  Eintlik dink ek daar is 3, en dat hulle broers is, of dalk selfs ‘n drieling.  Geen mense kan so vinnig beweeg nie.

Ek weet ook nie hoekom hy/hulle my nie vertrou nie.  Ek kan in ‘n grand pakkie daar instap, of in my draf klere, die reaksie is elke keer dieselfde.  En ek sweer, ek is nie een van daai mense wat die pakkie salami tussen die Baygon blikkies wegsteek as ek sien wat dit eintlik kos nie, wat nog te sê van iets steel!

Maar elke keer is dit dieselfde.  Ek stap met ‘n lied in my hart en ‘n smile op my bakkies daar in, net om oomblikke later die hoofrol in ‘n aksiebelaaide fliek te speel, kompleet met ‘sidesteps’ en ‘ducks’.  As ek by die speseryrak ingaan, kom hy/hulle van die anderkant af in.  Staan ek die kaas en bekyk, dan neem hy stelling in ‘n skamele meter of drie van my af.  As ek piesangs aftel, dan is dit waar jy hom/hulle sal vind!

Imagine daai toneeltjie wat afspeel as ek met my kar buite stop.

“Bravo 1, sy het arriveer, kom in posisie”
“Regso Bravo 2, ek cover die melkrak, sy kom altyd vir ‘n Steri Stumpie”
“Bravo 3 hier, ek is op standby by die Zoo koekies, sy kan dit nie weerstaan nie”
“Right, wees voorbereid, sy mag ons net probeer flous”

Hopelik kry hulle binnekort ‘n ander target.  Tot dan sal ek maar saamspeel.  Dit is nogals opwindend.  Elke sakkie inkopies wat ek huistoe bring is ‘n klein oorwinning!

“Now I want you to remember that no bastard ever won a war by dying for his country. He won it by making the other poor dumb bastard die for his country.” – Patton (1970)

 

We’re all so human, hey!

Die afgelope naweek is ek Pretoria toe.  Met die vliegtuig.  My vlug soontoe Vrydag was taamlik aksieloos, behalwe vir die feit dat ek ‘n “stopover” gehad het op Bloemfontein, en buiten vir ‘n klein gehuggie kon ek nie agterkom of daar enigsins iets anders as aanloopbane is nie.

Die interessante storie kom egter in met die terugvlug.  Ek is geboek op Kulula, vyfuur.  Ek slaan die lughawe op ‘n goeie tyd, en daar is NIEMAND by die toonbanke nie.  Ek kan kies waar ek wil sit, en settle vir ‘n emergency window seat.  Vir die beenspasie, nie omdat ek paranoid is nie.

Na die koebaais is ek ook baie vinnig deur die skaapkraal, en land toe by gate C12 saam met omtrent 10 ander passasiers.  Daar is nie baie sitplek nie, maar almal is vreeslik vriendelik, en maak gemoedelik plek vir nuwe aankomelinge.

‘n Ouer dame deel haar groot pak Lays chips met almal, en amper elke persoon sit met ‘n blackberry en update gou ‘n facebook status of stuur ‘n tweet.  ‘n Kongolees kom aangestap, en ek haal my sak af om vir hom plek te maak.  Ons raak sommer vinnig aan die gesels, en hy vertel my hoe opgewonde hy is om vir die week ‘n kursus te gaan bywoon in Stellenbosch (ek vermoed hy berou daai nou, na hierdie week se hitte).  My maak sy baadjie oop om vir my sy t-shirt te wys.  “I love Cape Town”.

‘n Paartjie met ‘n eenjarige dogtertjie kom aan, en gaan sit plat op die vloer.  Die kleintjie is gladnie skaam nie, en hardloop van die een passasier na die volgende met ‘n uitbundige lag en uitgestrekte armpies.  Almal vergeet van hulle fone, en dis sommer gou ‘n baie vrolike groep.  Ons groei tot omtrent 40 mense.

Skielik kom die afkondiging dat ons by die verkeerde hek sit, en soos ‘n wafferse toergroep gryp ons sakke en begin hardloop.  Blykbaar veroorsaak samesyn in klein plekkies ook ‘n bietjie vertroue, want almal help mekaar met bagasie terwyl ons by roltrappe af val.

By ons nuwe hek moet ons egter hoor die vlug is met ‘n uur vertraag.

Ek mission na die koffie toonbank vir lafenis, en toe ek terugkom by die hek, is almal weer plat op die vloer, die stemming nogsteeds vrolik.  Die Kongolees waai vir my, hy het vir my ‘n sitplek gehou “to return the favour”.  Saam sit ons plat op die vloer, en eet my pakkie wat ek saamgekry het, en drink koffie.

Uiteindelik het ons toe ook geboard, en na vreeslike verskonings van die kaptein en lugwaardinne, is ons oppad Kaap toe.

Maar iets het my opgeval van hierdie hele episode.  Nie een keer het iemand ongeduldig geraak nie.  Alhoewel daar alle vorms, kleure, groottes en tale was, het almal een doel gehad, om in die Kaap te kom.  Vreemdes het jou bagasie opgepas as jy toilet toe wou gaan, eetgoed is gedeel en random geselsies is aangeknoop.

En toe hoor ek die Engelse oom agter my vir die Chinese vroutjie sê:

“We’re all so human hey!”