But wait… there’s more!

Ons almal ken daai sinnetjie.  Dit het die kenwysie geraak van elke Verimark of Glomail advertensie op tv.  Ek vermoed dit is ook die rede hoekom almal nie val vir hierdie wonderlike aanbiedings nie.  Die produk op sy eie is net NOOIT genoeg nie.  Daar moet altyd ‘n sakkie of ‘n ekstra lem of een of ander heeltemal ander produk saam met dit gegee word.  So half of hulle sy waarde moet regverdig.

Ek was nog nooit werklik ‘n “fan” gewees nie.  Die matras wat ek gekoop het, was nie meer nie na 3 keer se lê (lees bietjie terug) en my “non stick pan” het selfs aan die olie vasgesit!  So jy sal verskoon as ek dalk effens sinies is oor enige van hierdie wonderlike produkte.

Kom ons begin by die produk self.  Weet hierdie plekke dat meeste mense op die planeet relatief normaal is, en normale goed by hulle huise doen?  Of is dit net ek wat nie weekliks my kar aan die brand steek om te kyk of die politoer van ‘n goeie gehalte is of elke koeldrank blikke in my huis met ‘n mes in vlarde kap nie?  Doen mense dit?  En waar bly hierdie mense?  Het ons hierdie goed nodig?

Vir my is dit groot pret om te kyk na die “before” en “after” tonele van hierdie advertensies.  Die arme, afgesloofde huisvrou staan en sukkel om ‘n verbrande pot skoon te kry, of om ‘n hele jaar se vullis uit die mat te stofsuig met ‘n halwe stofsuier, of om ‘n knoop aan te werk met ‘n gewone naald.  Hierdie tonele is gewoonlik in swart en wit, die vrou lyk of sy ‘n maand laas geslaap het, en daar is fout met haar sig, want sy kry nie die verdomde gare in die naald nie!  Maar dan met die “after” toneel, is die hele vertrek sommer silwerskoon, en natuurlik in kleur.  Die vrou het intussentyd geslaap, mooi vars klere aangetrek, make-up gedoen en werk nou knope aan teen die spoed van witlig!  Wel, ek is nie so seker nie.  Hoekom moes sy ‘n stofsuier koop voor sy besluit het om te bad en ordentlike klere aan te trek?

Mens moet ook die mense se invals tegniek bewonder.  Hulle begin altyd met ‘n vraag.  Are you tired of having to clean the carpets twice a day? (nope, ek het vir my teels laat insit) Are you tired of constantly looking for the right knife, only to find it needs sharpening? (my plek is nie baie groot nie, so ek soek nooit ‘n mes nie, hulle is almal bymekaar, en werk fine) Want to sit in the sun & read? (ja, en jou punt is?) Tired of dry cracked heels and rough calloused skin? (sies man!)

As ek ‘n gunsteling moet kies, op grond van hoe absoluut nutteloos en dom dit is, dan is dit defnitief Glomail se EZ Cracker.  Vir R200 kry jy ‘n ongelooflike uitvindsel.  Hy kan vir jou eiers breek.  Jip, en dit is dit.  Een van die ekstra attachments kan die geel agterhou sodat jou eiers kan skei, maar dit is pretty much wat die ding doen.  En ons almal weet hoe moeilik is dit om ‘n eier te breek!

Moet my nie verkeerd verstaan nie, daar is heel moontlik produkte wat baie goed werk.  Ek sal dit netnie koop nie.  Maar as jy regtig R600 wil spandeer sodat jy op jou bank kan sit en skud terwyl jy 7de Laan kyk, go for it.  Maar om net vinnig om die blok te gaan stap gaan jou niks kos nie, and wait… there’s more! Jy gaan baie beter voel ook!