Obelix en die Kaaswors

So meld ek jare terug aan as eerstejaar by my koshuis op Stellenbosch. My kamermaat lyk na ‘n gawe meisietjie. Pas my so net duskant die middel, maar ten minste praat sy Afrikaans.

Tussen min slaap, registrasie, liedjies sing en blommetjies vou vir vlotte, is daar maar min tyd om mekaar te leer ken, maar ons kom darem agter dat ons na verskillende radio stasies luister, en dat sy avo verpes, en ek nie Bovril eet nie.

En met daardie beperkte kennis land ons saam een middag tussen hope crinkle paper en foamalite, besig met die sieldodende taak van blommetjies vou. ‘n Huiskomiteelid loop in, en met die gebruiklike rympie agter die rug, word 2 vrywilligers gevra om Saterdag tydens vlotte diens te doen by die koshuis se stalletjie, waar kaaswors en roomys verkoop sal word om die fondse aan te vul.

Nou sal ek seker nooit weet of dit was omdat sy gatvol was vir blommetjies, en of dit ‘n oordosis kaffeine was nie, maar my nuwe, vreemde kamermaat het my een kyk gegee, en ons name uitgeroep, asof my uitdrukkinglose gesig nou enigsins vir haar soos ‘n ja gelyk het! Mens kon amper die sug van verligting hoor van elke ander eerstejaar in die koshuis.

So by so breek Saterdag toe aan, en die kostuums word aan ons oorhandig, Asterix en Obelix. Nou mens hoef nognie ‘n graad te hê om te weet dat Asterix die kleintjie en Obelix die grote is nie! Terwyl my kamermaat ‘n eenvoudige hempie en broekie met ‘n beltjie en ‘n swaardjie kry, word my uitrusting in fases aangedra vir die groot opdress. Die boude is sulke layers spons, en dit word afgerond met ‘n paar rooi vlegsels.

En ek weet daar en dan dat ek nooit sulke boude wil hê nie! Met elke tree gee elke boud 3 wobbles en dit voel of ek ‘n ekstra persoon agter my aansleep. Maar ons lag lekker, en besluit dat as ons net eers tussen al die ander stalletjies is, gaan dit nie so erg wees nie.

Maar om by die stalletjies te kom, blyk toe nie so maklik te wees nie. Niemand, nie eers ‘n tweedejaar, wil vir ons in ons oulike uitrustings ‘n lift gee nie! En ons moet stap. Ek moes geweet het dit gaan ‘n prettige uitstappie wees toe een van die spons boude sommer al met die uitstap vassit in die skuifdeur.

En so stap ons (ok, ek het meer gewaggel) in Dorpstraat af na die stalletjies. Enigiemand wat al ooit in Stellenbosch was tydens Karnaval, sal weet dit is nie net locals wat kom kyk nie, maar ook vreeslik baie oorsese toeriste. En ons is toe net te snaaks vir die honderde duitsers langs die pad. Dit vat ons baie langer as normaalweg om daar uit te kom, grootliks as gevolg van my boude wat ons bietjie terughou, maar ook omdat ons elke paar tree gestop word deur ‘n toeris met ‘n duur kamera, wat nie kan glo wat hulle sien nie!

Uiteindelik by die stalletjies, en asof dit nie genoeg is dat ons klaar redelik belaglik lyk nie, word ‘n bord om elkeen van ons se nek gehang. My kamermaat se bord sê Marcel’s Frozen Yogurt, en myne, ja, jy’t reg geraai, Kaaswors!

Vir ure het ons rondgeloop, en vele mense vermaak en oorreed om roomys en kaaswors te koop. Ek en my spons boude is ‘n paar keer platgeduik deur studente wat dit netnie kon weerstaan nie en my kamermaat moes maar elke keer help om my weer op my voete te kry. Maar tussen die rondval en opstaan deur is daar elke keer ‘n versoenings offer aangebied, in die vorm van ‘n bier, ‘n chocolate of self ‘n toebroodjie.

Dit was ‘n lang dag, maar geweldige pret. Sal ek dit weer doen? Hell yeah!

Tuis Inkopies

Hoekom ek dit gedoen het, sal ek nooit weet nie. Daar is ‘n Spar en ‘n Supermark binne loopafstand van my af, en twee Pick ‘n Pay’s en ‘n massiewe Checkers, nognie eers twee kilometer ver nie. En dit is ook nie asof daar 10 mense bly in my woonstel nie, dis net ek. En ek het ‘n kar.

Maar dit lyk baie lekker, ek hou van die internet, en so besluit ek om my kruideniersware oor die internet te bestel, en te laat aflewer. Home Shopping van Pick ‘n Pay.

Dis so gerieflik, jy click net heeltyd, kan selfs kies hoeveel kilogram kaas jy wil hê, en of jy plastieksakkies wil hê of kratte! Niks rondsoek tussen rakke nie, en alles is beskikbaar! Daar is nie kinders wat moan nie, en niemand ry in jou vas met ‘n trollie nie. Nice!

So betaal ek, en gaan met ‘n lied in my hart werk toe (ry nogals verby die Pick ‘n Pay en Checkers) en sien nogals uit na die gerief wat op my wag. Kom die aand by die huis, en voel skoon snaaks terwyl ek staan en wag. Miskien was dit nie so ‘n goeie idee nie, is mos lekker om ‘n ding te sien voor jy hom koop, en wat as hulle nie die regte peanut butter bring nie, of die verkeerde soort koffie.

En die volgende oomblik WEET ek dit was ‘n fout!

Ek word semi verblind deur die son wat weerkaats vanaf ‘n reusagtige wit afleweringsvoertuig wat stadig inbeweeg in ons kompleks, en in die proses feitlik alle parkeerplekke blok, die laaste bietjie son afkeer en enige inkomende en uitgaande verkeer tot stilstand bring! Baie duidelik adverteer die trok presies van watse winkel hy is, en ook wat hy hier kom doen, net sodat daar geen onduidelikheid is nie! Hoekom het hulle nie net reguit daar gesit “ADELE IS LUI, DAAROM LEWER ONS AF” nie?

Nou blykbaar kan jy ‘n trok bestuur, maar jy hoef nie noodwendig te kan lees nie. Want alhoewel daar ‘n pragtige nommer op my deur staan, begin die manne in die trok my roep! En ek waai my arms af, maar dit blyk toe daar is nog fout met hulle sig ook! Want ALMAL in die kompleks sien my, maar hulle kry my nie!

Uiteindelik nadat helfte van die kompleks my naam leer ken het, stop die manne met die trok en begin my patetiese bondeltjie uitdra. Want wat vir my soos baie gevoel het, is toe eintlik gladnie so baie nie. En niks is in sakkies verpak nie! Met die gevolg dat my maand se inkopies ten aanskoue van die hele kompleks (wat by vensters uithang of grootoog verby stap) eers uitgestal, en toe met groot fanfare by die trappe opgedra word.

Ek het die manne nie eers ‘n glasie water aangebied nie, en kon dit nie regkry om ‘n vriendelike gesig op te sit nie. Het ook nie getip nie, en gladnie reageer op die “rate our service” epos nie. Hulle moes gewonder het oor hierdie snaakse vrou wat absoluut niks makeer nie, maar wat haar groceries laat aflewer.

Agter ‘n toe deur, en met ‘n rooi gesig het ek die paar goedjies weggepak. Ek het nie weer so ‘n stunt probeer nie. Net soos mense in glashuise nie klipgooi nie, koop mense in woonstelblokke nie hulle inkopies online nie…

Jou Kombers en my Matras…

So ‘n paar jaar terug op ‘n Sondagaand kom my twee susters by my plek oorslaap.  Nou kan ek by sê dat my swaer al sterk teenwoordigheid van gees gehad het in ons sirkeltjie, en dus ook toegelaat is om te kom.  Maar my plek is nie groot nie, en ons benodig slaapplek vir vier!

Ek het toevallig ook net ‘n nuwe Verimark matras gekoop, en hierdie sal dan die perfekte geleentheid wees om hom te gebruik.  Tussen die bank, die bed en die matras het ons dus genoeg slaapplek.

My gaste arriveer, en ons besluit sommer dadelik om eers die “werk” uit die pad te kry, en die matras op die blaas.  Ek kan gladnie onthou wanneer ek die pomp gekoop het nie, maar hy was verseker baie groter gewees!  Teenoor die matras lyk hy bitter klein, en na wat soos ure voel, kom ons agter dat ons ‘n deurnag pomp sessie (skuus!) gaan hê as ons die matras wil opblaas.

Wel, daar is altyd ‘n ander uitweg, en ons bondel almal in my Tazz en neem die matras na die petrol stasie om die draai.  En die manne daar is sommer baie vriendelik en gewillig om te help, maar daar is nog ‘n struikelblok! Hulle “valves” en ons matras is nie compatible nie.

Geen probleem, my oudste suster onthou dat die matras met ‘n ekstra fitting gekom het, en die lê op my lessenaar by die woonstel.  Ons twee spring terug in die tazz, en ry terug om dit te gaan haal, en los haar toekomstige man, en my jongste sussie by die petrolstasie met die matras.

In die sekondes wat ons weg was, het die twee agtergeblewenes met behulp van die manne, op een of ander manier (wat niemand kan onthou nie) dit reggekry om die matras op te blaas.  En hulle besluit ook sommer ons vat nou te lank, en begin met die matras op hulle koppe terug woonstel toe stap.

Nou tussen my plek en die petrolstasie is daar basies net ‘n kerk en ‘n winkel.  En toe hulle nou so die draai by die kerk vat, matras op die kop, slaan die klok 8 uur, en getrou aan NG tradisie (net ‘n uur lange diens) stroom die hele gemeente op daardie oomblik by die deure uit!

Vanuit die Tazz het ons hard probeer om ons statig te gedra, en te maak of ‘n ou en meisie met ‘n matras op die kop, op ‘n Sondagaand, die normaalste ding ooit is!  Vinnig die laaste paar meter terug woonstel toe gehelp deur die matras op die dak te sit, en almal te klou.  Vir die kerkgangers moes dit ‘n wrede ontnugtering gewees het na hulle diens, alhoewel ek heelwat glimlagte deur die verbystering gesien het.

Wel, die matras het nie lank gehou nie, my suster hulle is getroud en ons het almal nou ons eie plekkies. 

As ons net kan onthou hoe die matras toe opgeblaas is!

My huis is in 7de Laan

Ek kyk nie 7de Laan nie, rêrig nie!

Ja, toemaar, dit was altyd my reaksie ook, maar dan begin almal praat oor gisteraand se episode, en voor jy jou kom kry, praat jy saam oor Paula se manewales, Lukas se oulike gesiggie en die nuutste kinkel in die kabel van ‘n gemeenskap waar almal mekaar ken, almal van mekaar hou en almal ten minste 3 amptelike tale verstaan!

Dit het my lank gevat om te besef dit is my comic relief vir die dag.  En nou kyk ek hierdie ietwat banale, middelklas sepie!  En dit laat my lag so net voor die 7 uur nuus waar Riaan Cruywagen ons weer tot in ‘n gat van depressie in verpletter.

 7de Laan laat my voel dat daar ‘n beter, lekkerder wêreld is as die ene waarin ons woon!  Een waarin almal mooi slank en fiks is, behalwe Emma as sy pregnant is.  En daai kan jy al lank voor die tyd begin sien gaan gebeur, as sy elke dag ‘n boek voor haar vasknyp.

In hierdie laan is misdaad blykbaar ook nie ‘n faktor nie, want dit is baie maklik om enige tyd by Bruynwaves, Studio 7 of die Club in te stap, selfs Ryno se huis, en nooit word iets gesteel nie!  Selfs die Boutique se deure sal oopspring met ‘n effense stampie.  En as daar wel iets gebeur, kan dit altyd verbind word met Gita.  Hoekom niemand dit nog agtergekom het nie gaan my verstand te bowe!

Almal in ‘n perfekte wêreld/laan soos hierdie verdien natuurlik ook salarisse wat baie vêr bo die markverwante pogings van hulle maatjies in minder perfekte wêrelde is.  Altus sit en drink net heeldag koffie (ek meen, wanneer laas het hy ‘n funksie of iets gereël) en tog kan hy elke dag ‘n ander uitrusting (hoe belaglik ookal) aanhê, sommer gou ‘n duikkursus doen en naweke weggaan, en rondte na rondte koop by O’Malleys vir almal in sy gelukkige groepie.  Annelie is ‘n waitress, maar ook sy doen die duikkursus en koop haar “toppies” (want dis al wat hulle verkoop) by die boutique.  Enigste een wat werklik sukkel is Maria, en sy gaan vir ewig bou aan daai huis met die goue krane in Qwa-Qwa.

Blykbaar kan almal in die perfekte wêreld/laan ook dans, sing, boks en model!  Het enigiemand al probeer tel hoeveel sang kompetisies, modeparades of talent shows daar al was?  Die mode parades is seker die ergste – die kelners kry nuwe uniforms, hulle model – Felicity ontwerp iets aakligs, hulle model – Paula kom terug, hulle model – Errol kry sy sakgeld, hulle model.  Ok, nou seker nie só erg nie!

Owergesetsynde en desnieteenstaande het ons almal nodig om te ontsnap van die daaglikse roetine, waar boutique klere duur is, waitresses swak betaal word en misdaad ‘n werklikheid is.  Ons wil vir ‘n oomblik dink die grootste probleem in die wêreld, is dat hulle nie jou “toppie” in blou sal hê nie, of dat die Deli nie meer Sunrise Surprise Specials sal maak nie.  En ons wil lag, hardop!

My naam is Adéle, en ek kyk 7de Laan!

Vuka Scuta

Twee jaar terug besluit ek om meer omgewingsvriendelik te raak, en vir my ‘n scooter aan te skaf! Ek is naby die werk, en dit sal my beter laat voel oor die feit dat ek nie aparte glas, plastiek en kos afval drommetjies het nie.

En toe ewe skielik is daar orals specials vir die nuwe Vuka Scuta! Sommer baie cheap! En elke advertensie vertel van hierdie ligte dingetjie wat van hier tot in Egipte kan ry op ‘n halwe liter petrol, en ja, hy is in amper enige kleur beskikbaar, valhelm ingesluit! Ek verstaan nie so mooi wat hulle bedoel met “semi-automatic” nie, maar dit kan nie te erg wees nie.

Ek bestel toe enetjie, en op ‘n gawe Donderdag middag ry ek met my kar na die winkel om hom te gaan haal. En hy lyk pragtig, ‘n geletjie, met ‘n blink valhelm, en ‘n toetertjie wat klink of hy knyp! Die verkoopsman ry hom vir my huistoe, bietjie swak beplanning aan my kant.

Daai aand is ek so opgewonde, maar soos wat ek nou maar is, moet ek eers die manual lees. Die halwe bladsytjie vertel my toe nou nie baie nie, en ek besluit toe maar om die valhelm uit te toets. En kom toe gou agter dat dit iets is om aan gewoond te raak! Dis soos om een moerse bril op te hê! En so gebeur dit dan dat ek amper die hele Egoli daai aand met ‘n valhelm op sit en kyk!

Die Saterdag besluit ek dat dit nou sulke tyd is. Maar toe ek op die ding (hy is gladnie so klein en lig nie) sit, besef ek skielik wat hulle bedoel met “semi automatic”. Die bleddie ding het ratte! Wat jy met jou voete moet verander! Sonder ‘n clutch!

Ek gaan eers moet oefen…

So STOOT ek toe my Vuka Scuta die pad af na die oop grond by die kerk om te gaan oefen. Nou dit mag maklik klink, maar as jy jou hele lewe lank gewoond was om te briek met jou voete en ratte te verwissel met jou hand, is dit gladnie maklik nie!

Die eerste drie keer se wegtrek en stop het heel goed gegaan, maar ek was byna in ‘n koma van die hard konsentreer. Ek dog toe miskien moet ek net ontspan, en ‘n bietjie rustig ry. Groot Fout!

Teen hierdie tyd het ek al ‘n klein skare mense getrek. Nou nie regtig om vir my te kyk nie, maar ‘n spul skoolkinders met “fully automatic” goed het seker gedink daar gaan een of ander rally plaasvind, en hulle kom ry ook op en af op die gronde. Hulle het my bietjie snaaks aangekyk as ek elke keer afklim om die geel gevaar om te draai!

So trek ek toe ‘n laaste keer weg, en dit gaan goed, maar iewers met die konsentreer kom daar toe ‘n soort “short circuit” in my kop en soos ek die briek met my vingers trek, druk die palm van my hand die petrol oop. Ja ja, ek het skeinat geneem op skool, en wat hulle sê gaan gebeur as jy voorrem trek en versnel, gebeur toe inderdaad.

Met ‘n sierlike boog (yeah right) trek ek deur die lug, en duik in die kerkgebou vas! Ja, sien, met die skrik ruk ek toe sommer die stuur in die verkeerde rigting en onthou darem om die Scuta te los toe ek opstyg vir my kortste vlug ooit!

En daar lê ek op die grond, teen die kerk, lam geskrik! En die skoolkinders is skoonveld, seker om die draai gaan lag! En my klere lyk sleg! Lam van skok maak ek vinnig die Scuta staan, haal die valhelm af, en sit toe maar vir ‘n rukkie op die sypaadjie om tot verhaal te kom. Wat ‘n vieslike stuk geel masjien! Daar is defnitief iets fout met hom!

Nie te lank daarna nie het ek maar die Scuta op gumtree gesit en verkoop. Met 23km op die klok! Die skoolkind wat hom gekoop het kon sy geluk nie glo nie! Ek hoop hy onthou dat mens nooit sonder ‘n valhelm moet ry nie! En ek hoop sy val is nie so hard soos myne nie!

Ek koop deesdae niks meer, nie eers ‘n ketel as hy nie ‘n volledige manual in 50 tale met prentjies het nie. Ek respekteer motorfiets ryers op die pad, gee hulle baie spasie, dis nie maklik om daai goed te ry nie. En ek gaan nie meer na daai kerk toe nie…

My kind se slide phone

Ja, toe kry my kind mos ‘n selfoon. Vir die wat nie weet nie, ek is ‘n tipe voogouer vir ‘n 16 jarige engel met mood swings by Stikland Hospitaal.

Nogals ‘n Samsung wat kan slide. So dit maak die foon onmiddellik ‘n duisend keer beter as my Blackberry, want myne kan nie slide nie. My foon het ook nie vir “Make the circle Bigga” op nie, wat glo baie belangrik is vir ‘n goeie foon.

Baie opgewonde het sy my die foon gewys met ‘n “Check hierie larny phone”, die boneless KFC en pienk chips wat ek gebring het vergete. En die ogies blink en die vingers spring oor die knoppies soos sy vir my wys hoe jy musiek kan luister, en voice recording doen, en selfs ‘n foto neem met die ½ MP kameratjie.

En toe gee sy die foon vir my om te kyk. Nou moet ek byvoeg dat my kind nie kan lees nie (die koppie het gaan stil staan by 6 jaar oud) maar sy kan nogals iets baie vinnig uitfigure. En hoe sy geweet het waar alles op die foon is, sal niemand weet nie, want die taal was gestel op Italiaans! En woorde soos suoneria en casella staan op die skermpie, en ek het nie ‘n idee wat om te doen nie. En daar gaan my kind aan die lag! Die care workers kom kyk later wat gaan aan! So ‘n lekker uit-die-maag lag. Die trane loop!

Na maklik ‘n halfuur se gesukkel kom ek uiteindelik by die opsie uit om die taal te verander, en sit die ding op Engels. My kind kry haar foon terug, en sonder om eers op te let na die taal, spring die vingers weer tot daar ‘n liedjie begin speel. Doodgelukkig.

Ek sit en kyk haar so, en begin verstaan dat mens nie alles hoef te weet nie, en dat iets kleins jou baie gelukkig kan maak. Daarom vat ek nie meer boneless KFC of pienk chips nie, maar eerder ‘n R5 airtime voucher. Dit maak ook nie saak dat ek wakker gebel word omdat sy nie die verskil kan sien tussen call en discard nie.

My kind is gelukkig… sy het ‘n slide phone

Kyk, kyk!! Ek het ‘n blog!

Dit was toe gladnie so moeilik gewees nie.  Met my ISP wat sommer baie vinnig reageer het toe ek hulle vra, en ‘n neef met ‘n rekenaar vir ‘n brein, en daar het ek ook ‘n webtuiste.  Dit is wonderlik! Ek kan die naam verander, ‘n prentjie of twee inbring, en as ek ‘tweet’ vanaf my foon, word dit sommer dadelik gewys op die blad!  Ai, die tegnologie.

Wat ek egter nie op gereken het nie, is hoe verslawend dit vir hierdie Generation Y kind, wat mal is oor goed met knoppies, liggies en manuals gaan word.  Na wat soos ‘n paar minute gevoel het, het my horlosie gewys dit is nou 16:00, my hande was stokstywe stompies, die televisie het in Xhosa geblêr en my maag het my herinner dat ek nognie vandag geëet het nie!

Ek wou baie graag vandag al iets “leesbaar” soos ‘n kortverhaal of artikel hier pos, maar aangesien die dag iewers heen verdwyn het, sal ek dit moet uitstel, en nou iets produktiefs gaan doen.  Dalk wasgoed…