Onskuldig…

Glo my, daar is niks beter om jou dankbaar te maak vir jou eie lewetjie en die mense daarin as om in so ‘n groot kompleks te bly nie. En party dae is jy selfs dankbaar om in die kompleks te bly!

In die jare wat ek nou al in die kompleks bly het ek al baie dinge gesien.

Daar was die Tennessee Wals tannie wat nie net vir arme Liani May ‘n paar aandele gekos het nie, maar ook vir haarself ‘n nuwe skuifdeur bekom het in die proses. Eintlik wou sy net alleen na haar gunsteling liedjie luister… net jammer die res van die kompleks bewoners het nie so baie daarvan gehou nie, en die dat Bellville, Brackenfell en as ek my nie misgis nie, Parow se volle polisie mag toe hier opdaag.

Hier bly ‘n omie met net een arm. Hy is dierbaar, bestuur self sy motor en versorg sy tuin baie mooi. Moet netnie vir hom waai as hy tuin natmaak, en sy vrou staan langs hom nie…

Die volksvreemde doop ‘n paar jaar gelede in die woonstel langs my was hartroerend. So ook die eetgoed wat ek na die tyd ontvang het vir my geduld. Eintlik is geskenke vollop… van ‘n oats koekie tot ‘n week oue koerant.

Ons kompleks spog nie net met ‘n reenboog van nasies wat meestal in harmonie saamleef nie, maar ons is ook die voogouers van ‘n swerm vrugbare kolganse. Hulle wag geduldig by die hek, en tailgate enige voertuig as hulle wil inkom.

Mense hier ry ook enigiets van ‘n datsun 1400 bakkie, ‘n ducati motorfiets (jip, hy’s rooi) en party stap sommer. En omdat spasie beperk is was jy maar jou buurman se kar ook saam met joune.

Maar ek het nou lanklaas iets gesien soos wat ek verlede Vrydag gesien het. Dit het my so gegooi, eintlik was ek gefassineerd, en kon nie wegkyk nie! ‘n Aantreklike jong man, wat ek nognie voorheen gesien het nie stap verby terwyl ek my kosblik agter die sitplek probeer uitkry, met sy voël… vir almal om te sien!!!

Mense het gekyk, en gegiggel, en weer gekyk. Ek meen, vrek man, dis darem baie koud, veral in die aande! In die blok oorkant keer ‘n vrou woes om haar kind terug te hou, die wil met alle geweld agter die man aangaan, amper soos die rottevanger in daai storie!

Nou miskien was dit die skok of die koue, of miskien het ek netnie mooi gekyk nie, maar ek weet eerlikwaar nie of dit ‘n budgie of ‘n kanarie was wat die knaap op sy skouer gehad het nie. Net dat hy geel was.

En ons mag mos nie troeteldiere aanhou nie…

Die dag toe my water gebreek het

Julle… hierdie hitte is nie goed vir my gestel nie.  Ek vermy die studeerkamer by die huis soos ‘n pes… dit is immers waar my oefenfiets staan.  Ek het ‘n week laas my bed opgemaak… want dis nie nodig as jy bo-op die komberse slaap nie.  En die enkele plant in my besit (al vandat ek 13 jaar oud is) kry elke dag ‘n beroerte en dit vat mooi praat en baie water om hom aan die gang te hou.

Ek verkies om in my kamer te bly, waar daar aircon is en die mure ‘n koel blou geverf is.  Dis goed vir die siel en ek sit ook nie aan alles vas nie.

Daar kom egter daardie tye wat jy noodgedwonge die koelte moet agterlaat en die hitte aandurf vir noodsaaklikhede… jy weet… soos toiletpapier.  Dis gewoonlik dan wat ek winkels kies waar ek weet voldoende aircon is sodat ek die blootstelling aan die hel so kort as moontlik kan hou.

Die naweek toe is die winkel wat ek toe kies se aircon gebreek.  Of een van daai koulike mensies was in beheer van die knoppie en het dit toe op heating gaan sit… terwyl dit 42 grade buite is… in die koelte.

Maar ek het die goed nodig, het al die pad gery so druk toe maar deur.

Ek soek ‘n paar goed, onder andere die bestanddele vir jalapeno poppers wat ek by vriende geproe het en wat ongelooflik lekker is!  Een van die bestanddele is Danish Feta, die parmesan geur.  En ek is taamlik beindruk toe ek dit wel kry!  Ek kan ook bysê, ek haat ‘n trollie, so ek vat altyd daai goed met die mandjies.

Nou kyk, die oomblik toe ek by daai winkel ingestap het, toe het ek besef dat ek hier met ‘n plan moet shop.  Ek kan nie my koue goed eerste inlaai nie, dié moet vir so lank as moontlik in die veiligheid van hulle koelkaste bewaar word.  Ek begin dus toe aan die anderkant van die winkel, en loop soos wat dit vir my voel heeltyd stroomop teen die massas wat blykbaar gevoelloos is teen die hitte, hulle trollies vol koue goed.

Twintig minute, toe is ek klaar, en gaan staan in een van die lang rye.  Almal het seker maar gehoop vir ‘n koel winkel, maar nou lyk hulle net bedonnerd.

Die volgende oomblik hoor ek ‘n pop-geluid… en skielik is my voete nat.

Die gedagtes wat deur my kop flits wissel van ‘hoe het ek nie geweet ek verwag ‘n baba nie’ tot ‘nie hier in die winkel nie’.  Ek kyk verward na die persoon voor my in die ry… maar dis ‘n jongerige ou wat lyk of hy nognie wakker is nie.  Ek vlieg om, net om in die gesig van ‘n taamlike bejaarde dame vas te kyk. My verwarring het nie einde nie.

Dis eers toe ek die logiese doen, en afkyk na my mandjie-trollie dat ek besef wat gebeur het.  Die bietjie hitte waaraan ek my Danish Feta, parmesan geur blootgestel het, het hom laat besluit tot hier toe en nie verder nie, hy pop.

So as jy ooit in ‘n winkel staan by die 5de till punt rond, en jy kry so ‘n parmesan geurtjie, veral op ‘n warm dag, dink tog aan my.  En as jy wonder wat die regte noodprosedure is om te volg sou jou parmesan gegeurde Danish Feta ooit pop… die antwoord is dat ek nie weet nie.  Maar wees verseker dat jy al my simpatie het!

Die dinge van ‘n kind

Vroeër die week besoek ek toe ‘n health centre & spa.  Mens kan amper vir enigiets soontoe gaan, van jou toonnaels laat knip (die hemele behoed my dat iemand ooit aan my tone moet vat) tot ‘n massage ontvang of iemand kry wat vir jou ‘n eetplan uitwerk.  Jy kan ook hare knip en make up doen.  ‘n Baie smart plek, maar in ons ekonomiese klimaat nie sommer iets wat ek baie doen nie.

Nou by hierdie spesifieke sentrum is die ‘wagkamer’ heel afgesonder.  Jy word deur ‘n gangetjie geneem om daar uit te kom.  Hier kan jy rustig wag vir jou afspraak, tydskrifte lees en koffie drink.  En dit is gelukkig geensins soos ‘n dokter se wagkamer nie, almal hier het iets om na uit te sien.

So word ek na die kamer begelei, en sit en blaai verveeld deur ‘n tydskrif toe ‘n vriendelike vrou met haar dogtertjie instap.  Ek skat die kleinding so 5 of 6 jaar oud, die pragtigste blonde hare.  Haar ma wys vir haar baie mooi waar die tan can vertrek is, en vertel haar dat sy net ‘n klein rukkie daar gaan besig wees, en dat die dogtertjie gladnie mag rondloop nie, en ook nie moet raas nie.

Die kleintjie belowe te plegtig dat sy dit sal doen, en met haar poppie en boek op die skoot kon dit nou net sowel ‘n engeltjie gewees het wat daar sit.  Ek glimlag vriendelik vir die dogtertjie, versigtig om nie bietjie soos ‘n freak te lyk nie.

En die gewag raak toe nou ‘n bietjie lank.  Tjoepstil sit ek en die dogtertjie daar.  Haar ma het immers gepraat, en nadat ek lank my vriendinne wat kinders het dopgehou het (om eendag ‘n super ma te kan wees) weet ek dat jy nooit ‘n ma se opdrag verontagsaam nie.  Never!

Dis toe ek weer loer na die dogtertjie se kant toe wat sy oorleun na my, behoedsaam rondkyk en fluister: “Why do you have to sit here?”

PS: Aan al my vriendinne met kinders, ek respekteer julle so baie!

Stealth Mode

best_friends_for_girlsSo is ek toe die afgelope naweek langs die rivier. Eintlik moes ek nie gegaan het nie, ek is immers op standby by die werk maar het maar gehoop dat niks pype bars nie (daar het) en dat alle kontrakteurs opdaag (hulle het nie). Maar dit was ‘n vrek lang jaar en dis spesiale memories saam met hartsvriende.

Die Saterdagoggend het heel rustig begin, daar was ‘n koeltetjie in die lug en die voorstel word gemaak dat ons gaan kayak. Nou ek het lank terug my les geleer met enigiets wat ‘n spaan insluit. En net omdat jy al baie op ‘n boot was en gereëld die akwarium besoek beteken nie jy is ‘n kenner nie. Ook nie dat jy enigsins weet wat om met die spaan te maak nie.

So is ek eers heel beskeie met “ag gaan julle maar”. Dit word egter summier doodgepraat en so land ek alleen op ‘n massive geel gevaarte. Sonder opleiding en sonder ‘n life jacket of safety video. Netso! Dit is rondom hierdie oomblik wat ek begin vermoed dat ek nie helemal so simmetries gebou is as wat ek gedink het nie. My regterkant, en spesifiek die regter boud is baie baie swaarder as die linker ene. Maar ek is in, ek is regop en ek kan die geel ding beweeg. My roeibeweging is ietwat komies… ek het nog net ‘n paar dragon boat races gedoen. Nou sien jy daai prentjie…

Die roeiery is toe egter baie lekker, die uitsig is fantasties, die water spieëlglad en elke nou en dan is daar ‘n impulsiewe resies (wat ek natuurlik elke keer wen), maar vanweë die kompeterende geaardheid van my roeimaat hou ek maar bietjie terug.

(Ok, hierdie is MY storie, laat ons dit nie spoil met nietige feite nie)

Ons maak grappies en gesels en ek raak gemaklik. Ek word gewaarsku dat daar ‘n effens briesie gaan wees as ons omdraai, maar ek is so chuffed dat ek nog binne (alhoewel bietjie nat agv my roeimetodes) in die kayak is dat ek geen beswaar maak teen die bietjie verder roei nie.

Dis toe ons omdraai wat ek die ware betekenis van eufemisme verstaan. Die elemente is ewe skielik kwaad! Die stroom vloei so sterk (heaven knows waarheen, want ons is in ‘n freakin kanaal) en die briesie is sommer net plein wind. Ewe skielik moet ek roei vir my lewe. Want ek weet nie of daar watervalle in die kanaal is nie, en ek het nognie ontbyt gehad nie! En ek kan sommer klaar voel waar ek die volgende week orals gaan styf wees.

So kom ons by die jetty aan. Almal klim mooi uit en beduie presies waar ek watter liggaamsdeel moet plaas om ook uit te klim. Ek probeer my uiterste bes om die maneuvers so vroulik moontlik uit te voer. En die volgende oomblik is ek binne-in die water! My mater en die kinders lag so, die flippen geel kayak word amper verloor!

Ek ervaar ‘n oomblik van absolute verbystering, hoe kan so ‘n dierbare vriendin so ‘n wrede ding aan my doen! Ek kan haar laaste woorde nog hoor… “lig jou boude, ek het die kayak”. Kort daarna het ek desperaat probeer om onder die jetty uit te bly (daar is mossels en goeters wat glibberig op ‘n nie-goeie manier is daar onder!!). En die geel gevaar wat ek vir meer as ‘n uur kon balanseer, onewe boude ten spyt tip toe ek wil uitklim!! Ek weet darem nie. Dalk het ek verkeerd gehoor. Dalk was haar woorde eintlik “lig jou boude sodat ek gou die kayak kan tip, want jou manier van roei alleen was nie snaaks genoeg nie!”.

Anyway… ons is nog vriende.

En dit sê nogals baie.

Want later daardie selfde dag is ek deur die einste mater (vir die eerste keer in my lewe) by ‘n supertube afgeboender. En ek verdrink toe amper haar kind! Ek self het meer as my week se kwota water gesluk in die proses, maar moes skaars 30 sekondes later WEER die proses herhaal! So asof niks gebeur het nie, en ek gewoonlik so nat is!  (By the way, die trippie het ‘n stop by Pepstores ingesluit vir droeë onderklere)  Sadistic of Masochistic, ek wetie. Maar ek burp steeds bietjies soutwater as ek daaraan dink.

Vir die res van die naweek was ek nie veel droeër nie… maar het tussen die snot en konfyt en spoeg en creme caramel oorleef en groot pret gehad. Ek het wel battle scars as bewyse, my lyf is so ‘n ligblou/groen skynsel op plekke en sekere aksies waaraan ek baie waarde heg is gladnie moontlik nie.

Nou sal jy vra hoekom ek skryf oor hierdie misfortune.  Buiten vir die vele resies wat ek gewen het op die kayak was daar nie juis ander wen situasies vir my in die storie nie.  Ek skryf egter omdat ek iets baie waardevols geleer het.  Life operates in stealth mode.  Die lewe het ‘n manier om die speelveld gelyk te maak.  Elke keer as jy dink jy is beter as wat jy eintlik is, dan dop hy vir jou uit die kayak.  Elke keer as jy net ‘n bietjie te cocky raak, dan slinger hy jou by ‘n onbekende supertube af.  Maar as jy die regte vriende het, (en mooi genoeg na hulle kyk) sal jy altyd onder die jetty kan uitkom en daar sal altyd ‘n handdoek wag as jy daar staan in druppende klere.

Wees lief vir mekaar…

 

 

Komkommertyd

pg-42-cucumber-1-alamyEk het nog nooit aan myself gedink as ryk nie. Wel, nie op dieselfde manier as wat die wêreld rykdom definieer nie.  Ek het die beste klomp vriende ooit, en ons familie is een groot, mal spul vir wie ek baie lief is.  Maar ek het nog nooit soveel geld gehad dat ek randomly goed soos parmesan en kiwivrug in die yskas het nie.

Daar is mos egter so nou en dan daai tyd wat jy ‘n ou bietjie meer as gewoonlik het.  Jy weet, bonustyd of verhogingtyd (dis nou voor dit verhogingtyd vir die bediende en tuinman word).  Vir daai oomblik is jy ryker as die vorige maand, en kan jy maar jouself bietjie treat.

Het ek mos ook gedink…

Kyk, ek is baie goed om myself so nou en dan te treat.  Ek is mal oor elektroniese items van hoë waarde, en my voorkeur winkels lê almal mooi in gelid daar in die noordelike vleuel van Tygervallei.  Geen probleem.

Ek het egter hierdie blok teen ‘n sekere winkelgroep wat begin met die letter W.  Regtig, dit is presies dieselfde as die blok wat ek gehad het teen Fin Rek 388 en ook soortgelyk aan die blok wat ek het teen basies enige wyn met “Premier Grand Cru” op die boks.

Ek kan nie daar koop nie!

En ja, ek weet my ma sweer dat jy jou slaai by geen ander plek kan koop nie, want jy kan die HELE kropslaai gebruik, en heelwat mense vertel my ook dat jy net bietjie die pryse moet gaan vergelyk, want dis eintlik maar dieselfde.  ‘n W tjoppie proe ook net beter en niks kom by hulle wortelkoek nie.  En regtig, ek het probeer.

Een mooi dag was ek nou net al siek en sat vir al hierdie kropslaaie wat ek halfgeëet moet weggooi en vir die slegte wortelkoeke wat ek altyd koop (!?!?!?), en dit was ook mooi bonus maand, so ek besluit toe om net hierdie week se goedjies by die W winkel te gaan koop.  Net as ‘n treat, jy weet.

Met my vet beursie stap ek toe by die winkel in, opgewonde oor die kosse wat ek gaan geniet tot die laaste vars happie.  En vir die volgende halfuur loop ek dromerig rond.  Dis perfek gekloonde tjops wat my aandag probeer trek, met massiewe bloedrooi aarbeie wat waai.  Die yogurt se verpakking skree kwaliteit en die beskuit op ‘n stokkie laat my wonder hoekom niemand nog ooit daaraan gedink het nie!

Na ‘n halfuur het ek steeds ‘n leë mandjie.  Elke item wat ek insit word net so weer teruggesit op die rak.  Mense begin my snaaks aankyk.  Hierdie weird vrou wat paniekerig raak en teen die tyd aan amper alles in die winkel gevat het.  Maar ek KAN NIE!! Regtig nie!!

Dis toe ek met ‘n moewiese komkommer in die hand staan en wonder op hoeveel maniere ek hom kan voorsit (want sien, ek gaan hom in sy geheel kan gebruik) dat ek besef hoe simpel ek eintlik is.

Nog nooit vantevore het dit vir my, of enige van my gaste saak gemaak waar ek my kos koop nie.  En ek bedien ook nie my kos in die verpakking nie, so daar is geen wow faktor nie.  Die W kosse is ook omtrent ‘vry’ van alles (gluten, lactose, fat, strychnine, arseen…).  En ek wetie of ek eintlik daai goete nodig het nie.

Ek het die mandjie leeg gaan terugsit, en met ‘n “I am Free” gevoel terug gery huistoe, na my cheap kaas en no-name yogurts.  My tuisgemaakte lasagne proe beter as ooit, en ek deel my sakkie appels met buurvrou, dan gaan dit nie af nie.

En ek was tog nooit so ‘n groot komkommer eter nie….

Die ding by die pot…

Nie dat ek daarvan hou om oor my toiletbesoeke te skryf nie, maar om een of ander rede gebeur die snaakste goed op hierdie uitstappie wat ons almal maar van tyd tot tyd moet onderneem.  Ek is weer ernstig op die gesond eet en oefen regime (ja ek weet, been there done that) en neem dus ook baie water in.  My besoeke is effe meer as gewoonlik.

Nou die toilet in ons kantore is ‘n ‘no-go’, behalwe as jy op onmenslike tye werk en alleen in die kantoor is.  Niks fout met die arme pot nie, maar hoekom hy ‘n deur het sal niemand weet nie, die ding is so ‘oop’ en ‘hoorbaar’ dat jy net sowel jou ding kon doen daar op jou stoel, reg in die ontvangsarea.

Gelukkig hoef jy darem nou ook nie heeldag te knyp nie, want  by die eetsaal is twee dames hokkies en agter die kombuis is ook ‘n ekstra een.  Laasgenoemde voldoen egter nie altyd aan my streng standaarde nie, so ek time my besoeke vir wanneer die hele eetsaal nie beset is nie.

So is dit een pragtige dag laasweek weer sulke tyd, en ek loop vinnig eetsaal toe.  Dié is leeg, maar tot my skok en ontsteltenis moet ek uitvind altwee toilette is beset! Dan maar oorstap na die toilette by die swembad.  Nie my eerste keuse, maar is beter as die kombuis toilet.

Die swembad toilette het ook 2 hokkies.  Ek het iewers, lank terug in ‘n tydskrif gelees dat as jy na ‘n publieke toilet gaan moet jy altyd die 1ste hokkie gebruik.  Tipies is dit die een wat die minste gebruik word aangesien mense altyd mik vir die verste, mees weggesteekte ene.

En ek pluk aan die eerste hokkie se deur, en kry ‘n ligte gilletjie van binne, “beset!”.  Ek mompel ekskuus en gaan toe maar na hokkie nommer 2.  Simpel vrou wat nie kan toemaak en sluit nie.

Ek het net mooi my sit gekry, toe begin die vrou wragtag met my praat! Ek wil my eers vererg, want wie doen dit nou in ‘n toilet? Haar woorde laat my egter oombliklik die rede vir my besoek vergeet: “Jy moet sien, hier is ‘n REUSE spinnekop hier by my”.

Ek verstik in my tong, vlieg op en begin soos ‘n wafferse troep my hokkie secure. Deur die dun muur probeer ek noodsaaklike inligting kry oor hierdie spinnekop. Presies waar sit hy, hoe groot is ‘reuse’ en lyk hy moerig?

Toe my bewende vingers uiteindelik die hokkie oopkry staan die dame by die spieel en haar grimering doen.  Kyk, sê sy, mens kan sy pootjies deur die gleufie sien.  En sy beduie na iets wat lyk soos daai dik swart liquerice wat by die deur se opening uitsteek.  Ek kom net daar agter dat ek eintlik ‘n sopraan is, en los die dame met haar make-up net daar.

Dankie tog die swembad het ‘n reëling om, anders het ek sweerlik op water geloop.  Ons kelner, Michael was my held toe hy alles los en die ding gaan vang.  En vir daai vrou… ek ken haar nie, maar het ‘n grote respek vir haar.  Daai hokkies is klein, en die spinnekop was groot!

En ek belowe ek sal nie weer oor ‘n toilet of ‘n spinnekop skryf nie…

My kar se klingel

Hyundai-i30_2013_800x600_wallpaper_06Jy weet mos hoe dit is as jy iets nuuts koop.  Vol opgewondenheid toets jy hom uit, en uiteraard verwag jy dat alles sal werk.  Soos in 100%.  Niks mag missing wees nie en hy moet presies werk soos die verpakking sê hy sal.  As een van sy eienskappe is dat hy ‘stil’ is, dan moet hy nie raas nie.

So koop ek toe mos ‘n nuwe kar.  ‘n Baie grand ene, met meer gadgets as enigiets wat ek al ooit besit het, en my absolute droomkar.  Ek eye hom al van 2010 af.  En hy is presies soos wat ek verwag het ‘n splinternuwe kar sal wees, pragtig, skoon en stil.

Tot so 2 maande gelede…

Nou moet ek natuurlik net vir jou ‘n klein bietjie geskiedenis ook gee.  Ek ry tans die Hyundai i30.  Voor hom het ek die i20 gery.  Vir ‘n jaar.  En hom ingeruil oor hy raas.  Jip, sy koppelaar het iets allerverskrikliks gesqueek.  Ek moes wag tot die hele kompleks wakker is voor ek kon ry en ek kon nie meer deur drivethru’s ry nie, want daai freakin afdakkies laat die squeek weergalm.

Nou ek het die hele Wes-Kaap se Hyundai’s probeer en op die Somerset Wes ene gesettle. En ek gaan ruil toe oombliklik die i20 in by die verkope afdeling toe die vroutjie by die diensafdeling vir my die kwotasie gee om van hierdie squeek ontslae te raak.  In die haas sommer my ou sonbril in die kar vergeet… hulle hou hom nou nog vir my.

Maar so het ek ‘n nuwe kar (en kry toe maar ‘n nuwe sonbril) en ek LOVE dit.

En toe kry hy ‘n squeek.

Eers wou ek dit nie glo nie, gedink dis dalk die klippies op die pad.  Maar selfs op ‘n klippielose pad het hy so ‘n rattle.  En dit irriteer my so dat ek vir ‘n hele week lank sonder my radio ry om te probeer uitfigure waar die rattle presies sit.  Dis iewers links van my, en ek bly dink dis die passasiersdeur.

Ek probeer alles, ry verskillende paaie, ry vinniger, ry stadiger, klim by die passasiersdeur in, maak die deur toe op ‘n lappie, verstel die spieeltjie, maak die cubby leeg, maak die cubby vol, en laat selfs die kar deur ‘n intense super valet & politoer sessie gaan.  Niks makie…

Uiteindelik maak ek ‘n afspraak by Hyundai, dis nog ‘n tydjie voor sy eerste diens, en my bloedruk gaan dit nie maak nie.  Vriendelik soos altyd vat hulle hom sommer eerste in, en sê ek kan wag, hulle maak hom gou reg.  ‘n Halfuur later staan daar ‘n baie omgekrapte mechanic na my kar en kyk, en die dametjie kom sit langs my met haar hand op my skouer.  Ek dog sy gaan nou vir my vertel my kar het die gees gegee.

Sy praat simpatiek.  Hulle het nou alles wat moontlik los kon wees weer vasgedraai, en sommer gelubricate ook.  Maar dit lyk nie of daar iets los was nie, maar ek is welkom om enige tyd weer terug te kom.

Die middag ry ek huistoe, en die rattle is weg.  Ek bel summier die vroutjie om tog net te sê vreeslik dankie vir die moeite, hy is tjoepstil.

Die volgende oggend ry ek bietjie later, en dadelik is die squeek terug.  Stilletjies vloek ek eers my kar, toe Hyundai Somerset Wes.  En toe (met my radio af) begin ek hard dink.  Hoekom squeek hy net in die oggende as ek werk toe ry?  In die middae is hy dan doodstil.  Is dit dalk die winter se oggendkoue? Is ek net semi doof in die middae?

En soos ek oor die polkadraai heuweltjie gaan kom die son op, en hier links bo my kop haal ek my nuwe sonbril uit sy rakkie.  En skielik, met die son uit my oë raak my verstand helder.  Die squeek is weg!

Dat die ding nou die hele tyd hier reg voor my oë moes wees!

PS: Ek wonder nog oor wat ek nou moet doen. Hou mechanics van blomme?

A is vir Adéle

animalalphabet‘n Paar weke terug het ons my werk se AGM gehad.  Nou as jy nie weet waarvoor AGM staan nie… dan bly jy tien teen een in ‘n lekker gemaklike huis, vêr genoeg van jou bure om nie te weet wat hulle aandete is nie.  Jy werk waarskynlik ook nie.  (Annual General Meeting, vir as jy ook nie weet hoe om google te gebruik nie).

Nou ek is goed vertroud met hierdie tipe vergaderings.  Ek bly immers NIE in ‘n groot huis nie, en moet elke jaar so een bywoon.  En ons het hom nou al so reg gekry dat jou koppie koffie by die huis nog so lou sal wees teen die tyd wat ons klaar is.  Chop chop.

Nou die werk se vergadering was ‘n ander storie.  Nou nie uitermate lank nie, maar ek bly nie by my werk nie, so het nou nie regtig ‘n saak oor of die geboue duifblou of duifgrys geverf gaan word nie.  Maar nogtans is dit ‘n belangrike geleëntheid vir die mensies.

Met die nader kom van die vergadering is ek toe nou so rofweg 4 maande daar, en darem al permanent aangestel.  Almal stres vreeslik, en weke voor die tyd al word daar gewerk aan powerpoint slides en toesprake en volmag vorms.  Projektors en mikrofone word getoets, en weer getoets. Ek en my bestuurder het lang gesprekke oor persentasies en grafieke.

Uiteindelik breek die dag aan, en dit voel amper of daar vanaand ‘n internasionale produksie van Phantom gaan plaasvind, reg daar in ons eetsaal.  Die kostannies trek hulle nuutste uniforms aan, nuwe tafeldoeke word aangery en die projektor skerm kry eers sy staan nadat ‘n komitee gestig is vir hierdie doel.

En toe gaan sit hulle wragtag vir my ‘n stoel reg voor, so skuins na links neer.  Nou moet ek ook net noem dat in die land van die blindes, of in my geval die bejaardes, is ek blykbaar die enigste een wat die powerpoint presentation kan beheer sonder dat die rekenaar opblaas of alles uitgevee word. Vandaar dan nou hierdie unfortunate posisie.

So stroom die mense in, natuurlik meer vir die sop, brood en wyn na die tyd.  Want wragtag, dit stormreën buite, maar die mense kom!  En die eetsaal bars uit sy nate.  Ek sit soos ‘n sirkus apie reg voor met die laptop en smile dat my wange lam raak.

My 3 kollegas neem stelling in aan die agterkant van die saal, reg met ‘n spaar mikrofoon, batterye en ‘n noodhulpkissie.  Jy kan die spanning in die lug voel.

Alles loop klopdisselboom, regtig goed, ek druk my knoppie op presies die regte oomblik, die sprekers praat kort en kragtig, en die sop roep duidelik hard, want niemand vra vrae nie. Buiten vir die oomblik toe die voorsitter van instandhouding komitee almal meëdeel dat die uitgang na die gronde vir 3 maande gesluit sal wees, is daar ook nie enige gevaar oomblikke nie.

En toe moet die voorsitter van die finansies komitee sy 2 sinne sê…

Innig bedank hy eers my bestuurder vir die harde werk wat in die voorlegging ingegaan het, en toe vir my:  “En baie dankie vir jou harde werk en geduld Adeeelhuh”

Soos een man ruk my drie kollegas se koppe op uit hulle semi-slaap daar agter, en ek probeer alles en almal om my uitblok.  Jy kan verwarring sien op die see van gesigte.  Party wonder of hulle my nog die hele tyd verkeerd aanspreek, ander sit en lag, en party staan amper op uit hulle stoele om te probeer sien wie hierdie ‘nuwe’ persoon is wat so hard werk en so geduldig is. Die kollegas en verskaffers begin oor en weer whatsapp, en ek moet my foon in my sak druk om die flikkerende liggie weg te steek.

Wel, ons het almal heel en in een stuk aan die anderkant van daai vergadering uitgekom.  Die sop was heerlik, die wyn het gehelp en ek kon nog my beauty sleep inkry voor die volgende oggend se werk.

Dis meer as ‘n maand later, en my kollegas (asook die tuinman, kostannie en handy man) begin nou nog eposse of sms’e na my met “Adeeelhuh”.  Die inwoners is verward, en noem my enigiets van Adéle tot Adeil tot Adeelhuh tot Aaaadill.

Ek reageer maar op alles.

Dankie tog ek het net een naam …

‘n ‘Warm’ Plantjie

Rawit-Chillie

Daar is die baie mooi gebaar dat wanneer jy by mense gaan kuier (lees: eet) dan neem jy ‘n klein geskenkie saam om dankie te sê.  Dit hoef gladnie groot te wees nie, ‘n klein blommetjie, ‘n sjokolade of ‘n pakkie mooi servette.  Net ietsie wat sê ‘ek waardeer die uitnodiging’.  Dit helder werklik die gasvrou se dag op, en verseker sommer ‘n volgende uitnodiging.

My susters doen dit ook.  Ons kuiers is nooit regtig formeel nie (behalwe vir die Come Dine with Me episodes), maar daar is altyd ‘n klein geskenkie.  En dit is fantasties!

So kom die jongste sus en haar man ‘n rukkie terug by my eet.  Ek is lus vir uithang, en maak ‘n massa kos.  Lasagne, garlic broodjies, slaai en ‘n banoffee pie vir nagereg.  ‘n Lekker wyn daarby, en met die goeie geselskap is alles reg vir ‘n lekker kuier.

Sussie bring vir my ‘n chillie plantjie as ‘n geskenk, die pragtigste plantjie, met ‘n paar helderkleurige chillies wat klaar hulle verskyning gemaak het.  Nogals met ‘n rooi strik omgebind.  Dit lyk absoluut pragtig in my plek.  Met die gee van die geskenk is haar woorde “hou hom net aan die lewe”.

Nou kan ek dalk net ‘n sê, my geskiedenis met plante is nie te waffers nie.  Ek sal die gier kry om ‘n groentetuin te begin, en dan gaan dit fantasties, tot ek net 1 oggend vergeet daarvan, dan kan ek maar die potte weer oppak en die droeë blare uitgooi.  Ek het egter 1 plant, so ‘n palm-agtige ene wat ek nie eintlik weet wat sy herkoms is nie.  Hy oorleef al vir 10 jaar.  Bygesê, die plant wys my presies hoe hy voel, hy lig sy armpies op as hy genoeg water het, en lyk sommer hartseer as ek weer ‘n slag moet gee.  Hy kan selfs plastiek wees, ek sal nooit seker wees nie…

So maak ek dit my mission om hierdie plantjie aan die lewe te hou.  Ek gaan lees op oor sy gunsteling omstandighede, en so eindig hy op langs my wasbak, tussen die ketel en die blik beskuit, waar hy voldoende lig/son kry.  Ek gee ook vir hom afgemete hoeveelhede water, en praat selfs bietjie met hom (hy is Chilliaans, dink nie hy verstaan my nie).

Ek doen alles reg, en vir ‘n rukkie gaan dit goed, totdat al die chillies mooi rooi is, en reg vir pluk….

Ewe skielik begin die blaartjies afval en niks wat ek doen, nie eers mooipraat wil help nie.  Ek gaan lees weer op, en probeer verskillende plekke in die huis, maar dit is asof die plantjie netnie meer ‘n wil het om te leef nie.  Ek wil sommer huil!

Uit desperaatheid gaan ek na ons tuinman by die werk, en vertel vir hom van my probleem.  Hy luister mooi aandagtig, en ek maak my nogals gereed vir ‘n wonderkuur wat die ou plantjie tot nuwe hoogtes gaan aanspoor.

“Die plantjie is klaar, hulle is nie meerjarig nie, eet die chillies en plant iets nuut in die bak”

So sussie, ek is jammer, ek het regtig my bes probeer.  Ek gaan nou maar vanaand ‘n lekker warm pesto maak met daai chillies, en môre sal ek by Stodels gaan kyk vir ‘n nuwe plantjie om in die pot te plant.

En dalk moet jy maar eendag net ‘n ogie hou oor my kinders… seblief.

 

 

Versekering dek alles!

Gou ‘n vinnige storietjie voor ek bietjie sal tyd spandeer om van die aftree oord en sy dinge te vertel. Ek en my ma het gisteraand vir Dirty Dancing gaan kyk, en sy vertel toe hoe sy altyd so ‘n oomblik pause voor sy antwoord as mense vra watter parfuum sy aanhet. Nie omdat sy nie kan onthou nie, maar sy dra Organza, en mens kan tog so maklik met die tong glip. En om vir kerk mense te vertel jy dra Orgasm is nie cool nie!

Dit herinner my toe aan lank terug toe ek my beurs teruggewerk het by ‘n groot kettingwinkelgroep.  Ek was deel van die ‘plebs’. Ons het nie ons eie kantore gehad nie, maar almal (omtrent 20 in ons afdeling) het in klein boksies gesit, boonop met glas afskortings.  Jy het maar prentjies met motiverings opgeplak vir ‘n bietjie privaatheid. Dit was ook baie erg korporatief, jy het 10 uur en 3 uur teetyd gehad en ‘n halfuur middagete, stiptelik om 1 uur. Enigiets net ietwat persoonlik moes jy in hierdie tye afhandel.  En ja, dit sluit toilet besoeke in.

Ek het kort vantevore uitgetrek by my ouers, en was besig om my voete te vind in die ‘grootmenswêreld’. My kop was vol met elektrisiteits vouchers, gebrande aandete en goedkoop koffie.  Ek het ook my eerste selfoonkontrak gekry.  ‘n Nokia teen R9 ‘n maand.

En toe lui hy.

En dis my pa, om my te sê dat die versekering my nou nie meer kan cover nie, want ek studeer nie meer nie, en ek bly ook nie meer by hulle aan huis nie.  Hy het nog aangepraat, maar my brein het gaan stilstaan.  Want hoe gaan ek die 2km huistoe ry met ‘n onversekerde kar!  Almal gaan weet, en aspris in my vasry!

Nou daai tyd al het ‘n sekere versekerings maatskappy net so baie advertensies gehad soos vandag, en die nommer spring in tussen die koffie en elektrisiteits voucher… 0860…

Ek het die oggend lugtyd gekoop, en laai dit toe net voor middagete.  Toe die klok 1 uur slaan toe bel ek.  Vriendelike mannetjie, Christo (sal dit nooit vergeet nie), en hy help my baie mooi, wil alles weet oor my kar, my tv en my yskas, want dit is al wat ek besit het!

Nou moet jy mooi verstaan, ‘n oop kantoor is nie klankdig nie.  My maag sal grom en dan bel die meisie 5 blokke ver om te vra of ek haar broodjie wil deel!  So my kollegas was deeglik bewus van wat ek gedurende middagete moet doen.  Hulle was simpatiek, het mooi stilgebly en almal het vooraf probeer raad gee.

01:29 toe is my airtime op, reg in die middel van Christo se ‘gelukwensing’ sin.  Maar ek was verseker, en kon maar ‘n bietjie vinniger die middag huistoe ry.  Watwou, ek kon dalk selfs vir ‘n taxi toet!!

Selfvoldaan sit ek die foon neer, en ‘swing’ om met my stoel met ongeveer 8 kollegas en my baas wat met ‘n EN? op hulle gesigte sit en wag.  Ek glimlag, en sê:

“Nou is ek gedek!”
‘n Paar notas:
1) Ek is steeds by dieselfde versekerings maatskappy, ten spyte van hulle irriterende advertensies.
2) Ek werk lankal nie meer by die plek nie, maar dink steeds dit was die beste tye ooit.
3) Ek sal nooit ooit die gesigsuitdrukkings van my kollegas vergeet na die uitlating nie. Dit het gewissel van lag tot skok en verbasing. Een outjie het later erken hy het regtig gewonder hoe dit moontlik is… en dit oor ‘n foon tydens middagete.