Nie ‘n ‘fan’ nie….

My arme ou karretjie.  Hy kry vreeslik koud.  Veral in die oggende as ek werk toe moet ry, dan skree hy verwoed.  Ek maak waarskynlik die hele kompleks wakker as ek wegtrek, maar ek troos my daaraan dat ek darem nie die enigste een is nie, en meeste mense is gelukkig dan al wakker.

Ek hoor toe dat dit blykbaar die fan belt is.  Hy is te los, of te styf, ek is regtig nie seker nie.  Hy skree nooit in die somer nie, so iets sê vir my dat hy dalk netnie ‘n winter kar is nie.  Want as hy te los (of styf) is, dan moet hy mos altyd skree.  Ek het ook onlangs my kar laat diens, en deel van die diens was om die cam-belt te vervang.  Moes toe eers na die tyd hoor daar is meer as een belt in die kar…

En net op ‘n ander noot, maar met die pas afgelope diens moes my karretjie oornag, want dit is blykbaar ‘n 2 dag diens.  Hoe op aarde hulle twee dae kan spandeer aan so ‘n klein karretjie maak net nie sin nie.  Ek is seker ‘n goeie ingenieur kan so ‘n karretjie bou, van scratch af in twee dae.  Anyway…

So ek werk in ‘n taamlike ‘male dominant’ omgewing, en dog toe dan sal ek nou maar rondvra oor die klaagliedere van die fanbelt en hoe om dit stil te kry.

So kry ek toe die raad dat ek ‘n klein bietjie heuning op die fanbelt moet smeer en kyk of dit nie werk nie.  Vir my maak dit baie sin, en taamlik in my skik oor hierdie raad wat my niks gaan kos nie ry ek die aand huistoe.

Dit werk toe nou ook mooi so uit dat ek ‘n hele emmer heuning in my kas het, en gewapen met die emmer stap ek gou na my kar toe voor dit donker raak.  Ek maak die enjinkap oop, clip hom vas en…

Toe staan ek vir ‘n volle tien minute en staar na my enjin.  Want ek het nog nooit gesien hoe ‘n fanbelt lyk nie.  En dit sal nie help om vir my te sê dit is die swart ding nie.  Alles is swart.  Alles lyk min of meer dieselfde.  Ek kan die battery identifiseer weens menigte ‘ligte aan vergeet’ episodes.  En dit is dit!

Nou mag jy dalk wonder hoekom ek so lank bly staan het as ek duidelik nie weet waar die fanbelt is nie.  Wel, ek bly in ‘n kompleks.  Ek het met ‘n hele emmer heuning afgestap na my kar en vol bravade die enjinkap oopgemaak.  Ek het gelyk of ek weet wat ek doen.  Hoe kan ek nou sommer net opgee!  Die vernedering!

So ja, die volgende oggend toe skree die fanbelt nogsteeds, big surprise!

Ek het omtrent ‘n week later toe nou maar vir my pa gevra om te wys waar die fanbelt sit, en gelukkig het hy heuning gehad so het toe opgesit.  En dit werk genuine!  Die skree is stil.

So nou en dan verbeel ek my dat ek ‘n ‘bzzz’ klank hoor, maar ek is seker dit is net my verbeelding!

Bietjie baie vis

Indien jy (soos ek) ‘n aanhanger is van daai lieflike Japanese dis, sushi, dan het jy heel waarskynlik al by een van die honderde Chinese restaurante aangegaan vir hulle “Eat as Much as you Can” specials.  As jy nognie het nie is jy OF ‘n sushi snob (want dis gewoonlik nie die greatste sushi nie) OF jy gee nie om vir duur betaal vir min kos nie

Ek is so tussen die twee, want ek wil nie ‘n maand se grocery geld op een ete spandeer nie, maar aan die anderkant wil ek nie skeurbuik, salmonella of voëlgriep kry van my goedkoop kos nie.  Let wel, ek is nie ‘n dokter nie, so weet nie eers of dit moontlik is om enige van daai siektes te kry van ‘n klein bietjie rou vis nie.  Ok, soos party mense eet, BAIE rou vis.  Nogtans…

So nou die aand was ek weer saam met kleinsus uit gewees vir ons gunsteling dis, en dit is toe wat ek begin wonder oor die intelligensie van die mensdom.  Of dalk is dit onkunde of onoplettendheid.  Want ons sit in ‘n CHINESE restaurant en bestel ‘n JAPANESE dis.  En sal partykeer die vermetelheid hê om oor kwaliteit te kla.

Is dit nie maar net so goed jy gaan na Ocean Basket en bestel ‘n steak nie?  Of Burger Fair en dan hoop jy hulle bobotie gaan fantasties wees nie?  Dis amper asof mens die arme Chinees opsetlike in ‘n moeilike situasie sit.  Hy moet nou perform in ‘n dis wat nie regtig deel is van sy repertoire nie.

Chinese deepfry die hel uit alles uit, Japanese is meer delikaat en vars.  So as daar deep fried sushi op jou Eat as Much spyskaart is, dan is dit waarskynlik uit jou chef se comfort zone uit, en mag jy nie kla nie.  Niks fout met daar eet nie, vat net baie wyn saam.

Die ‘specials’ is ook altyd vir my nogals snaaks verwoord.  By ‘n gewilde Chinees-probeer-Japanees restaurant sien ek nou die dag hulle adverteer hulle Eat as Much as ‘n buffet.  Selfde ding, waiter bring steeds jou bestelling vir jou, maar dit klink fancy.  Oh, en hierdie restaurant weet dat iets wat net vir ‘n beperkte tyd beskikbaar is meer klante lok, dus staan die volgende op hulle spyskaart:

Eat as Much Sushi Special Buffet – ONLY available Mondays, Tuesdays, Wednesdays, Thursdays, Fridays, Saturdays, Sundays.

Amper te goed om waar te wees ne! Ek voel FOMO nader kruip, wat as ek op die verkeerde dag kom?

En ‘n laaste ding.  Sien ek mos nou die aand saam met sussie die dekor van die plek raak.  Die plek se naam is Tokyo.  Bietjie aardrykskunde vir die van julle wat al vergeet het, Tokyo is die hoofstad van Japan.  Gepaste naam, ons gaan immers nou sushi eet.  Daar is egter nie ‘n enkele dekor item wat iets deurgee van Japan nie.  Daar is Hong Kong posters teen die mure, en fortune cookies op die toonbank en die enigste waiter sê sy naam is Grant en hy is van Zimbabwe.

In Tokyo se verweer… daar was darem een van daai goue katjies wat vir jou waai…

Koebaai Facebook

Ek het eerlikwaar gedink dit gaan moeiliker wees.  Toe ek ‘n week terug my Facebook profiel delete het, het ek verwag dat ek angstig gaan wees oor alles waarop ek uitmis.  Mens doen tog nie iets vir langer as 10 jaar en stop dan sonder dat dit jou op een of ander manier raak nie.  En voor jy verder lees wil ek net dit baie duidelik maak dat ek niks teen enigiemand het wat Facebook gebruik en dit geniet nie.  As jy heeldag op Facebook is, en dit maak jou gelukkig, dan is ek bly vir jou. As jy dit kan gebruik tot jou voordeel, go for it!  Regtig, no hard feelings.

HOEKOM HET EK MY FACEBOOK PROFIEL DELETE?

Basies twee redes.  Eerste een kom al vir ‘n rukkie aan, ek het hierdie knaende gevoel gehad dat Facebook baie meer van my tyd opneem as wat dit moet.  Ek sal ‘n whatsapp op my foon kry, dit lees/antwoord maar dan sommer gou ook loer wat gaan op Facebook aan.  En dan partykeer eers my foon 10 minute later neersit.  Dit nadat ek advertensies gesien het van goed wat ek nie nodig het nie, politieke kommentaar gelees het wat my vreeslik irriteer en videos gekyk het van ‘n arme tone-deaf Korean wat aan ‘n sangkompetisie deelneem.  Niks daarvan het my lewe beter gemaak nie, ek het niks nuuts geleer nie, en om eerlik te wees was ek meeste van die tyd net ‘n klein bietjie minder gelukkig as ek my foon neersit.  As jy ook wonder oor hoeveel tyd dit van jou neem, gaan laai iets soos APP USAGE af en kyk bietjie.  Die tweede een was ‘n impuls, en vir my iets wat ingemeng het met my waarde sisteem.  Facebook het die Saterdag voorgestel dat ek vriende raak met ‘n vrou wat ek nie juis ‘n goeie geskiedenis mee het nie.  Sy het egter ‘n publieke profiel, en ek gaan loer toe bietjie rond.  Haar eerste post vir die jaar was ‘n pragtige Christen quote gewees, die mooiste stukkie met bybel aanhalings ens.  En wragtag, net die volgende post is ‘n prentjie met woorde op wat basies sê dat sy hierdie jaar NET vir haarself gaan lewe, en ^&$% almal wat ‘n probleem daarmee het, en as jy nie van haar hou nie moet jy ^%$&.  Die kontras tussen die twee posts was vir my so groot, ek kon nie ophou dink daaraan nie.  En ja, ek weet ek hoef dit nie te lees nie, maar is alles op Facebook nie maar eintlik so fake nie?  Hoeveel passive aggressive posts lê my timeline vol, terwyl ‘n vorige een amper engelagtig was.  Hoeveel fotos wys iets heel anders as hoe dit eintlik was. Hoeveel van my ‘friends’ se nommers het ek, en hoeveel van hulle sal my kom help as ek in die moeilikheid is.

So, toe druk ek delete

WAT MIS EK OF IS SLEGTER?

Ek mis die verjaarsdag funksie op Facebook.  Dit was handig, elke oggend net ‘n klein icon wat vir my wys iemand verjaar sodat ek ‘n generic post kan gaan maak met ‘n gelukwensing.  En dit is regtig al!  Ek het gedink ek gaan die posts mis van mense se kuiers en vakansies, maar ek doen nie.  Die mense wat vir my belangrik is nooi my in elk geval na die kuiers toe.

WAT MIS EK NIE OF IS BETER?

Ek is mal oor die afwesigheid van passive aggressiveness in my dae.  Ek mis gladnie die advertensies nie en ek het hierdie weird gevoel van ‘vryheid’.  Ek neem fotos van goed wat vir my mooi of interessant is, nie omdat dit goed gaan lyk op Facebook nie.  Ewe skielik weet 444 mense nie wat ek oor die naweek gedoen het nie en terselfdertyd weet ek nie wat hulle gedoen het nie.  Ek hoef nou nie meer vir 444 mense ‘n generiese verjaarsdagboodskappie te stuur nie.  En alhoewel ek nie my daaglikse Facebook gebruik alles in een batch op ‘n dag gedoen het nie, voel dit tog of ek meer tyd het in die aande.  Sien, ek kry my werk vinniger gedoen, en het dan tyd om gou ‘n epos te stuur, of ‘n rekening te betaal, of iemand te bel in my middagete.  Ek het tyd om my Xhosa kursus te doen, boeke te lees en ‘n glas wyn te drink saam met my buurvrou.  En my foon se battery is eintlik baie beter as wat ek gedink het.

 

Sal ek weer teruggaan?  Miskien eendag. Maar vir eers nie.  Vir eers wil ek genuine connect, met die mense gesels wat by my is, en nie met die in die foon nie.  Ek wil nie enigsins voel dat my lewe minder opwindend en minder gelukkig is as die outjie saam met wie ek 30 jaar terug op skool was nie. Ek wil waardeer wat ek het, sonder om in ‘n advertensie vertel te word dat ek eintlik nie genoeg het nie.

Ek wil leef…

PS: Ek is nogsteeds op Instagram, maar gebruik dit meestal as argief vir my fotos, en ek ‘volg’ accounts wat vir my iets positief beteken, mooi fotografie, geloof inspirasie en resepte.  Dalk geniet ek dit so om sonder social media te wees, ek delete daai account sommer ook.

Die spook skop gat!

Twee van my kollegas neem selfverdedigings klasse. En ek het altyd gedink dit is nogals ‘n heel handige ‘skill’. Taamlik intens, maar steeds handig. Soos ‘first aid’ of ‘n PDP. Jy hoop jy gaan dit nooit nodig kry nie.

Ek self het bietjie skopboks gedoen en ek is seker die dansklasse voor my suster se troue kan ook as selfverdediging gesien word. Vir die res slaan ek net oor na Engels toe. Dit werk meeste van die tyd.

Onlangs moet een kollega toe egter bietjie laat werk, en ek bied aan om ook laat te bly, want almal weet ons gebou spook en dis darem ‘n effense vertroosting as hier nog ‘n asem is, al is jy ‘n expert in selfverdediging.

Gou vyf uur ‘n glas wyn gedrink (don’t judge, ek werk op ‘n wynplaas!!) en ‘n pizza gehap (ja, ons het ‘n pizza oond ook!) saam met die ander kollegas voordat hulle die pad vat huistoe, en ons terugkom kantoor toe. Nie regtig baie lus vir die taak wat voorlê nie, en na die bietjie wyn en carbs voel ons nou eers lui.

Ons sluit die deure en maak vensters toe, en trek met mening weg. En ons kry verskriklik baie gedoen, skink nog ‘n bietjie wyn vir morele ondersteuning en werk vir ‘n vale.

Dit is toe ons nie meer ons bene kan voel van die koue nie dat ons besluit om gou ‘n break te vat en bietjie buitentoe te gaan. Ons gebruik die sydeur, dit loop uit op ‘n klein stoepie wat reg langs die funksie lokaal is. Dit is doodstil op die plaas, en BAIE donker. Daar is nie ‘n buite lig nie, ek dink nie dit was al ooit nodig vir een nie. Doodrustig staan ons bietjie rond en rek en strek, toe iets my oog vang.

“Haai kyk”, sê ek, “daai mense werk ook bietjie laat”.

My kollega het baie duidelik nie gesien wat ek sien nie, sy trek weg, alle selfverdediging vergete en hardloop dwars deur my (net my sterk been struktuur het gekeer dat ek nie plat neergeploeg het nie) binne in die gebou in.

Dit is toe wat ek besef die ‘mense’ wat ek gesien werk het in die funksie lokaal is ons, in perfekte refleksie. En dat ons werklik alleen hier is.

As jy ander mense vra sal daar waarskynlik verskillende variasies van die storie wees. Goed soos dat sy my eintlik wou beskerm, en nie plat hardloop nie. Of dat ons meer wyn gehad het as wat ons besef het. Of dat dit Maria, die spook was.

Al wat ek weet is dat ek maar sal bly by my eie selfverdedigings tegnieke, en as niks werk nie, dan sal ek maar net op die aanvaller gaan sit…

Kamp x 2

Ek is onlangs gebyt deur ‘n gogga wat mens nogals duur kan kos as jy nie mooi te werk gaan nie.  Die kamp gogga.  As kind het ons baie rondgetoer vir vakansie, en baie plekke gesien, maar nooit gekamp nie.  Ek is egter mal oor die hele buite slaap, buite kosmaak en buite kuier idee.  Noem my maar ‘n kind van Afrika.

Terwyl ek egter nog altyd die meeste goed geleen het as ek gaan kamp, het ek nou vir my goedjies van my eie begin aanskaf, onder andere ‘n awesome tent!  Wat ek so baie van hom hou is dat hy baie eerlik is.  Hy claim dat dit 2 sekondes vat om hom op te slaan, en wragtag!  Hy het my amper plat geslaan in die 2 sekondes, maar niemand het gesien nie, so ons praat ook nie verder daaroor nie.  Dis bietjie meer na 20 sekondes om hom op te slaan, maar ook nie so moeilik nie, so ek is baie happy.

‘n Week terug gaan kamp ek toe saam met sus, swaer en die tweeling.  Die weervoorspelling lyk goed, ek pak sommer alles in die kar die vorige aand want die kampterrein is naby aan my werk. Kindle gecharge, genoeg drinkgoed, wat meer kan mens voor vra!

As jy die kort opsomming soek, here goes:  Die Vrydagaand het goed gegaan, behalwe dat dit geklink het of daar ‘n groep mans reg voor ons tente sit en kuier… tot dit begin om kliphard te reën! Die Saterdag het ons heerlik gekuier en die aand ‘n kampvuur konsert deur die tweeling geniet.  Behalwe dat daar nie ‘n vuur was nie, want ons het almal by een tent ingebondel teen die koue en die bure het gedink my suster hulle het die een van die tweeling gesteel. En Sondag was goed ten spyte van Olivia wat besluit het sy hou nie baie van Route 44 nie en ek my GROOT bier baie vinnig moes sluk.

Dit klink dalk of ons bietjie ongeluk getref het, maar die lag en lekker was baie meer as die bietjie baie reën, die koue en die bure.

Die oomblik wat my egter die meeste laat lag het was natuurlik in die ablusie blokke.  Ek en die tweeling het ‘n uitstappie gevat na die speelparkie.  Hulle is heel ok om te hanteer so saam, maar toe ek besef dat ek nou, en nie ‘n oomblik later nie, moet toilet toe gaan, toe besef ek hoekom mense ‘n nanny het, of hoekom ouers in pare kom!

Die eerste keer toe dit gebeur, toe los ek hulle twee net buite die deur en roep heeltyd hulle name.  Eers het hulle mooi saamgespeel en teruggeroep, maar hulle het later seker gedink ek is bietjie mal, en bly toe stil.  Ek worry toe want is bang iemand vat hulle, so moes halfpad die proses kortknip om hulle te gaan soek.

Toe ek dus weer badkamer toe moet gaan, met altwee (en hulle poppe), toe besluit ek dan vat ek hulle maar saam in die cubicle in.  Nou kan ek net noem, hulle is besig met potty training, maar het gelukkig hierdie naweek doeke gedra, wat dit baie makliker gemaak het!

So is ons al drie in die cubicle in.  Eintlik al 5, want die poppe moet ook saam.  Ek laat hulle almal teen die deur staan sodat ek darem my ding met ‘n effense mate van privaatheid kan doen.  Wat ek egter nie verwag het nie is die applous en uitroepe van “mooi!” toe hulle sien/hoor hoe mooi ek die pot gebruik!

Party dae weet ek wragtag nie hoe ouers dit doen nie!

En as jy dalk die persoon in die cubicle langs my was… Ek het jou hoor lag…

Die New World

1526929_10151805931971570_1660314504_n‘n Ruk gelede het ek taamlik afgeskaal op ‘n klomp goed.  Hulle noem dit “minimalism”, waar jy ontslae raak van die goed in jou lewe wat geld kos en spasie opneem, sonder dat dit jou werklik gelukkig maak. Hier is die link, sommer vir interessantheid.

Nou deel van hierdie proses was ook om my pragtige, luukse kar (waaroor ek al selfs geblog het!) in te ruil vir iets goedkoper en kleiner.  Ek sal eerlik met jou wees, ek mis daai pragtige gevaarte, hy was beeldskoon, maar ek het dit nie nodig gehad nie, en buiten vir my paaiement, bande en onderhoud wat nou die helfte is van wat dit was, ry ek ook baie gemaklik ‘n maand uit op ‘n R1000 se petrol.  Maar hy bly maar vrek klein, en ek lyk waarskynlik soos ‘n walvis wat in ‘n perlemoendop probeer wegkruip.

Die kleingeit is egter nie altyd so sleg nie. Ek kan byvoorbeeld gemaklik op die halwe parkeerplek by Spar stop en met sy klein enjin is dit baie moeilik om die spoedgrens oor te steek. Mens moet net positief bly!

Die ander dag toe moet ek na werk vir ‘n afspraak gaan by ‘n winkelsentrum daar in die suide.  Net om die vorige sin hardop te sê maak my sommer bietjie benoud.  Kyk, ek is gewoond aan die noorde se breë paaie en duidelike aanwysigings van hoe om in ‘n parkeerarea in te kom.  Nie die doolhof speletjies en super nou paaie in die suide nie.  Maar ek is mooi beduie van regs daar, links daar en dan weer regs… en met daai aanwysigings behoort ek blykbaar reg binne in ‘n perfekte parkeerplek in te ry.

So ry ek toe, prewel sommer hardop die aanwysigings.  Selfs in my super klein karretjie is die rit ‘n benoude besigheid en ek moet myself so nou en dan herinner om net asem te haal… iets in my bly vir my sê ek gaan makliker deur ‘n gapingtjie kom as ek my asem inhou!

Die volgende oomblik besef ek dat ek eintlik al verby die afrit is, maar vat toe dadelik die volgende een en omdat my brein so geprogrammeer is tydens die rit, doen ek ‘n pragtige regs, links, regs.  En ry in ‘n ander wêreld in…

Die pad onder my het verander in ‘n spierwit, blink iets….  Alles blink… Mense, almal in dieselfde klere staan op aan weerskante van my en staar my aan.  En ek?  Ek maak asof dit alles doodnormaal is, en hou aan met ry.  Daar is immers ‘n parkeerplek aan die einde belowe!

En die volgende oomblik is ek uit hierdie New World plek, en staan ek in ‘n tipe van kampie langs ‘n treinspoor, tussen ‘n klomp karre.  Wel, actually kan jy dit nie karre noem nie, ek meen, hulle is so groot, ek kan nie sien hoe ‘n average size persoon by hulle gaan kan inklim nie!  En daar is wragtag parkeerplek.  Maar iets sê vir my dat dit nie vir my bedoel is nie.

Ek draai toe maar om, en gaan weer die New World binne… Die keer waai een van die skare vir my, die res lyk of hulle lag.  En ek?  Ek maak asof dit alles doodnormaal is, en hou aan met ry.

Nou teen die tyd dink jy seker al dat ek die kluts kwyt is, of baie gedrink het voor ek hierdie storie geskryf het.  Wel, nee.  Sien, almal maak seker maar iewers in hulle lewe ‘n fout (veral in jou kar) wat jy eers weke later oor kan praat.  Daai fout wat jou ‘bliksem’ (of iets ergers) laat sê net nadat jy dit gemaak het.  Party mense stamp hulle kar, ander ry ingedagte oor ‘n rooi lig en party beland verkeerd om in ‘n one-way.

Ek doen nie daai nie, altans, nie wat ek van weet nie.  Ek?  Ek ry by ‘n Jeep dealership se voordeur in, dwarsdeur die showroom, dwarsdeur die workshop (dis waar die mense opgestaan het) reguit tot in die agterplaas waar die gevaartes gewas word… met my baba karretjie.

Ek het nie NET ‘bliksem’ gesê daai dag nie…

PS: Weet enigiemand dalk of Jeep my karretjie as ‘n trade-in sal vat? Vra maar net.

Badspeelgoed

Oor hierdie Kerstyd het ek weer die voorreg gehad om ‘n bietjie tyd saam met familie en24-12-15 (15) vriende te kon deurbring, en buiten vir die geweldig baie, en lekker kos was daar ook die lekker lag en gesels, en dinge doen wat soms verlore gaan in die allerdaagse gejaag.

Ek is natuurlik ook in die baie bevoorregte posisie om tannie van 3 te wees, en wat ‘n absolute vreugde is dit nie!  Adriaan lyk of hy heel happy is om my as tannie te hê, en die tweeling is nou al op ‘n punt waar hulle lang gesprekke met my voer en selfs argumenteer.

Tydens hierdie verskriklike kort tydjie (letterlik 3 aande!) wat ek vakansie kon noem, word ek toe die amptelike badtyd bestuurder van die tweeling.  Beste job ooit!! Hulle is mal oor bad, en as ek hulle nie vinnig genoeg uittrek nie sal hulle sommer maklik met klere en al inklim.

Nou die van julle wat al daar was sal weet dat die onderste badkamer by die strandhuis ‘n genuine kindervriendelike outjie is.  Daar is Nemo’s orals, en die mure is so ‘n bright oranje dat dit ‘n goeie idee is om jou sonbril saam te vat vir die eerste rondte in die oggend.  Daar is ook badspeelgoed, onder andere ‘n Nemo en dan ‘n paar outjies wat ek vermoed deur McDonald’s versprei is.

Daai speelgoed kan egter ‘n bietjie gagga raak na ‘n tydjie, veral as jy die water binne los, en daarom is daar ‘n reël dat jy elke speeding wat jy gebruik eers moet ‘uitspuit’ voor jy jou badtyd as voltooi kan sien.  In kort, squeeze al die water uit by die gaatjie.  En ja, dit geld vir grootmense ook.

Elke bestuurder het egter ook ‘n assistent, en ek het elke aand ‘n ander lid van die gesin gehad om my by te staan met die proses… Glo my, twee van dieselfde ouderdom is baie moeiliker as ander situasies.

Gisteraand toe is dit my ma se beurt.  Ons het op al die nodige plekke gewas en ook bietjie gespeel en grappies gemaak.  Toe word die speelgoed se water uitgedruk en toegevou in handdoeke dra ons hulle na die kamer om aan te trek.  Hulle mamma het darem elke keer vir ons die regte klere, doeke en ander middele reg neergesit vir gebruik.

En dis toe ek vir Emily net klaar afgedroog het, en my hand uitsteek na die poeier dat ek dit sien…. Daar loop water uit by die gaatjie!!  My ma staan so en lag, sy probeer beduie hoe ek dit moet keer en dat ek asseblief NIE die handdoek moet wegvat nie!

Jy’t reg geraai ja…. My eerste reaksie was ook dat ek AL die speelgoed se water uitgedruk het, maar wragtag hierdie een vergeet het!

Aan die tweeling, tannie Del is jammer….

Aan Adriaan, don’t even think about it….

Sussie kraam… amper!

baby_under_tableSo baba sussie gaan binnekort haar eie babatjie hê! Ek kla gladnie, dit is heerlik om ‘n tannie te wees en die tweeling en ek het ‘n goeie verstandhouding: Ek sal jou doek omruil en Teletubbies saam met jou kyk, maar as jy moeilik is dan gee ek jou terug. En voor jy dink dat dit dalk wreed klink… ek hoef hulle nog nooit terug te gegee het nie!

Baba sussie is egter nou in die doodsnikke van weke tel. Ek verstaan dit nie so mooi nie, maar dink dit het iets met hormone te doen. As iemand my vra “hoe vêr is jy?” is my antwoord gewoonlik iets soos ”ek is amper klaar” of “drie kilometer”. Nie “dit sal Vrydag 26 weke wees” nie! Weird!

Anyway, baba sussie verjaar toe ook onlangs en soos die gebruik is gaan ons uit vir ete. Sussie kies BBQ steakhouse, want ons was baie lanklaas daar gewees en kan nie meer onthou hoe die kos proe nie! Ons sussies het almal daar gewerk, so dit het nog ‘n bietjie sentimentele waarde ook.

Nou ons gesin se groei was verseker die afgelope paar jaar beter as die land se ekonomie, so ons pas nou ook nie meer lekker om ‘n klein tafeltjie nie en land toe by ‘n redelik kasarm van ‘n tafel in die restaurant. Dit is boonop ‘n Saterdagaand naby payday, en die restaurant is redelik vol. In fact, dit voel amper of ons reg binne in die speelarea van ‘n kleinerige Spur sit, daar is bitter baie kinders!

Ons bestel die drinkgoed, bekyk die spyskaarte en raak aan die gesels oor babas, babas en babas. Tussendeur word random onderwerpe soos Land Rovers en die styging van vleispryse aangeraak voor daar weer teruggekeer word na babas en baba sussie se naderende kraam datum.

Ons sit nog so en praat (waarskynlik oor babas) toe baba sussie ewe skielik ‘n gilletjie gee, afkyk en ‘n enkele sin uiter: “hiers ‘n kind hier onder!”. Ek sluk amper my wyn met glas en al in, ma kyk verward rond, middel sus se mond gaan oop en pa se gesig lyk of daar ‘n duisend gedagte gelyk deur sy kop flits.

In enkele sekondes gaan ons almal deur die 5 stadiums van trauma, van ontkenning tot by aanvaarding. Baba sussie kraam… net na payday… in ‘n vol restaurant waar dit ‘n halfuur neem om water te kook (want hulle kan net 1 mikrogolf op ‘n slag gebruik). En almal weet jy het warm water en handdoeke nodig tydens ‘n kraam!

Die hele kraamproses is toe blykbaar heelwat vinniger as wat hulle jou in standard 9 Biologie wys, want onder die tafel pop ‘n taamlike opgeskote dogtertjie uit, netjies aangetrek met bokstertjies. Sy lyk ‘n bietjie verwilderd en met die kyk wat sy vir baba sussie gee kon mens nogals maklik dink dat sy nou net die trauma van geboorte deurgemaak het.

Sy verdwyn egter tussen die res van die mense en vir ‘n oomblik staar ons stom na baba sussie. Sy giggel en neem ‘n slukkie water. Ons kos arriveer en die amper kraam is dadelik vergete.

Ai ou baba sussie! My wens vir jou is dat dit regtig so maklik sal gaan!

As grootte saak maak… (Size Matters!)

GPs2[1]Ek is tans op daai aaklige, maar nietemin dankbare stadium van gewigsverlies waar jy so tussenin sizes is.  Jy is nie helemal seker wat jou grootte môre gaan wees nie, en moenie dink as hy jou vanaand gaan pas gaan jy hom more kan aantrek nie.  Baie dodgy ek sê jou!

Dit gebeur toe nou so dat ek my netjiese swart broek moet aantrek vir ‘n geleentheid en na ‘n effense soektog moet ek ontdek dat hy slegs gaan werk as ek nog ‘n persoon kry om hom saam met my te dra.  Hy bied ook nie eers die opsie van ‘n belt nie, so winkels toe met my vir ‘n ander broek.

My timing is egter taamlik pateties en ek eindig op ‘n Saterdagoggend rondom payday in die winkels.  Die rye is kilometers lank, kinders skree en daar is mense orals… so baie mense.  Toe ek dus ‘n netjiese, swart broek sien in die grootte wat ek DINK ek nou behoort te wees, is daar nie tyd vir aanpas nie, ek betaal, en skiet huistoe.

En toe pas hy nie.

Die bleddie broek is met letterlik ‘n sentimeter te klein rondom my maag.  Ek kry hom ook maklik aan in die oggend, maar gladnie in die aand nie.  En ek moet hom in die aand dra, so iets moet gedoen word.  Vir die volgende twee weke probeer ek alles.  Ek eet so min dat ek van kos begin droom, of dalk was dit eerder hallusinasies.  Ek doen sit-ups en gebruik die vibrashape en hoop maar my bure verstaan.  Ek drink selfs groentee… en ek haaaaat groentee.

En die dag van die funksie wil die broek nogsteeds nie pas nie.

Helemal raadop vaar ek die oggend weer die winkels in, om ‘n broek te kry wat pas, of enige alternatief wat sal maak dat ek nie vir die res van my lewe in skande hoef te leef nie.  Met 5 swart broeke vaar ek die aantrekhokkies by Edgars in (want ek het ‘n rekening daar, so kan darem afbetaal).  En ek pas in al 5 en moet toe besluit watter een gaan my die beste laat voel.  Dis toe ek sien die een se label sê ‘petite’ dat ek besluit hierdie is ‘n broek wat nie net die regte grootte is nie, maar ook my selfbeeld ‘n geweldige hupstoot gaan gee.  Ek dink nie ek was al ooit in my lewe ‘n ‘petite’ size gewees nie!!

Met die stap na die till om te betaal loop ek verby die onderklere afdeling.  Ek het nie regtig onderklere nodig nie, maar die advertensie by die een spesifieke paar vang my oog.  Dit is dalk al wat ek nodig het om daai broek by die huis te laat pas.  Wel, volgens die advertensie is dit beslis wat ek nodig het!  So aangesien dit heelwat goedkoper is as die ‘petite’ swart broek, hang ek hom terug, en neem toe die hanger met hierdie onderklere.  Is sommer gelukkig toe ek sien dat dit twee pare insluit, en die grootte is dieselfde as my normale onderklere EN dit is seamless!  Ek loop sielsgelukkig na die betaalpunt.

Die normale reël geld blykbaar ook hier, hoe meer mense in die ry, hoe minder mense wat die tills beman.  Teen die tyd wat ek voor kom is daar 2 dames wat hierdie diens lewer, en seker 15 mense in die ry agter my.

Ek het egter skaars my item op die toonbank gesit, of ‘n mini pandemonium bars los.  Die vrou agter die till het die hanger uitgehaal, en ten aanskoue van almal lig sy die effens onooglike, maar vreeslik praktiese onderklere in die lug op en verklaar luidkeels dat dit te groot is.  “Too big for you, this is my size”  Ek probeer myself onsigbaar maak, maar is nou ook nognie SO klein nie.

Asof die public display van my onderklere nie genoeg is nie roep hierdie dame haar vriendin wat die ander till beman.  In Xhosa, en met die onderklere steeds in die lug bespreek hulle hoe ek daarin gaan lyk.  Ek is teen die tyd bloedrooi, en vra die vrou of ek dit asb kan gaan omruil, dan nou maar vir ‘n kleiner nommer.  “I’ll wait for you” verklaar sy, en ek spring daar weg met die hoop dat die ander vrou AL die mense agter my klaar gehelp kry voor ek terugkom.

Tot my ontsteltenis moet ek toe ontdek dat daar nie ‘n size kleiner is nie.  Daar is wel 2 nommers kleiner.  Bogger dit, besluit ek.  Daai vrou agter die till is groot, en as daai haar size is kan hierdie my size wees.

Met die nuwe, kleiner maar steeds onooglike, dog praktiese onderklere kom ek terug by die till.  Dieselfde mense staan steeds in die ry, en ek oorweeg dit om vir die ander vrou te vra of sy enigsins iets gedoen het terwyl ek weg was!  En pleks ek dit gedoen het, man, ek moes sommer aangedring het om met haar bestuurder te praat!

Want sy verlaat haar pos, en sluit haar aan by die dame wat my help.  Saam leun hulle oor die toonbank, met die nuwe, kleiner onderklere in die lug en betrag my ‘onderstel’ vanuit alle hoeke, lig selfs my bloes so effens om beter te sien, voordat hulle blykbaar moed opgee en ek net ‘n waarskuwing kry dat ek dit nie kan terugbring as dit nie pas nie.

Nou ek verstaan nognie so lekker Xhosa nie, so is nie seker of hulle gedink het die nuwe, kleiner onderklere is steeds te groot, of dalk te klein nie.  Al wat ek weet is dat ek daai aand in die broek kon pas!  En dat ek vir die eerste keer in my lewe in ‘n ‘petite’ broek gepas het!  En dan maak die ander goed nie eintlik so erg saak nie.

Suur (melk) Druiwe

Glass-of-milk-2009Jy weet mos as jy in die oggend opstaan en nog voor jy ordentlik wakker is maak jy die yskas oop, neem die bottel melk, vat ‘n GROOT sluk en verstik die volgende oomblik aan die suur?  Ok, dis nie regtig wat ek doen nie, en ek hoop van harte jy ook nie (wel, ten minste die van julle by wie ek al koffie gedrink het! En dit sluit my haarkappers in).  Ten spyte van die feit dat ek op my eie bly is ek baie ordentlik en gril in elk geval bietjie vir die uit die bottel/blikkie drink ding.

Maar dis nie eintlik waaroor ek wil skryf nie.

Elke week gaan koop ek melk.  En dit is nie so maklik soos gryp ‘n bottel en daar gaan jy nie.  Die prys van ‘n 2 liter wissel van R15 na R22.  Een liter is te min vir ‘n week, twee liter te veel.  En dan is daar die kwessie van ‘n vervaldatum.  Sien, daar is baie dinge wat ‘n mens in ag moet neem voor jy op ‘n bottel besluit.

As winkeleienaar is jy regtig stupid as jy twee bottels langs mekaar sit, die een se vervaldatum die 18de, die ander die 26ste.  Natuurlik gaan ek mos die een vat wat my langer gaan hou!  Ek het al te veel keer in die jare wat ek in my plekkie bly amper aan melkvergiftiging ontkom omdat ek die aand voor die melk se vervaldatum probeer om alles op te drink.  Glo my, net die eerste 250ml is lekker, daarna voel jy net soos ‘n dik baba.

So dit sit my toe aan die wonder.  Hoe weet melk wanneer om te verval?  Ek meen, kan melk lees? Want eerlikwaar, ek het al ‘n paar keer melk gekry wat moed opgegee het voor sy datum, maar ek het nog nooit melk gekry wat so ‘n kanniedood is dat hy dit actually vir nog ‘n dag of 3 kan maak nie.

Ok, bygesê, ek probeer hard om te spaar, so gee nou ook nie die arme melk kans om homself te bewys nie, vandaar my melk binge episodes.

En regtig, ek het nie eintlik tyd om te sit en wonder oor melk wat kan lees nie, maar dit ontstig my bietjie dat daar enigiets buiten myself en die delicious monster in my plek is wat lewe!

So… vegans drink mos nie melk nie ne?