My Kompleks

Ja, ek weet wat jy nou dink.  Dat jy nog al die tyd reg was, en ek inderdaad ‘n kompleks het?  Wel, jy’s verkeerd.  Ek dink ek het baie komplekse.  Maar dis nie waarvan ek nou praat nie.  Ek praat van die kompleks waarin ek nou al 8 jaar bly.  My spreekwoordelike Palestina, alhoewel jy na dese mag wonder of ek dalk mal is.

Sien, hier by ons is baie snaakse en interessante mense.  Laat ek sommer begin met die woonstel langs my.  Hy is gejinx.  Niemand bly lank daar nie.  Bygese dit is altyd huurders, maar steeds.  Ek het net geleer hoe om my bure se name en vanne uit te spreek, dan verdwyn hulle alweer.  Die outjie wat tans daar bly het ek nog skaars 3 woorde mee gepraat, en hy is alklaar weer oppad.  Daar was ‘n psigopaat, ‘n vroueslaner, ‘n ou se skelmpie, ‘n gillende mal vrou wat die locks verander het, ‘n scary couple wat lyk of hulle 14 is met sulke spierwit katte, en ook die mense wat 2 keer gedoop het in hulle kort tydjie langs my.  En ek sweer ek het niks met enige van hulle se kom en gaan te doen nie.  Maar ek is nogals bly die klomp wat brood voor hulle voordeur gesit het vir die voels is nie meer hier nie!

Verder af in die kompleks bly ‘n opera sanger.  Hy vermaak ons so eenkeer ‘n maand met regtige pragtige opera terwyl hy na sy kar toe stap.  Dit is asof die kompleks gaan stilstaan as hy begin sing.  Sy bure is egter ‘n ander nasie.  Hulle gunsteling liedjie is “Jessica” van Ray Dylan.  Hoe weet ek dit?  Want hulle speel dit so baie, hulle CD het nou die aand omstreeks half een begin haak.  Toe speel hulle hom maar tot by die haak, en begin dan weer.

Ons AGM’s is deesdae heel skaflik en lekker kort, maar dit was nie altyd so nie.  Daar was ‘n tyd wat jy nie sou kon onderskei tussen ons AGM en ‘n universiteits koshuis se huisvergadering nie.  Ewe veel snert is kwytgeraak, en klagtes soos die gras wat groener is op party plekke en die breedte van trappe het aandag gekry.

Hier is ‘n hele paar mense wat al JARE hier bly, en wat vir talle komiese oomblikke sorg.  Twee is egter favourites!  Die oom met die af arm is ‘n inspirasie.  Hy bestuur sy eie motor, werk self in sy tuin, gaan elke dag werk toe en is altyd vriendelik.  Die oomblik wat ek nooit sal vergeet nie, is toe ek op my stoep gestaan het, en ek sien hy is besig om sy tuin nat te spuit.  Ek waai toe vir hom, en hy waai terug (met sy een arm), ten koste van sy vrou wat langs hom staan.  Die verontwaardiging op haar gesig toe hy haar papnat spuit, sommer so onverwags!

En my ander gunsteling is die “ou tannie”.  Sy het skuins onder my gebly toe ek ingetrek het, en is steeds daar.  As dit nie vir haar was nie, was my verblyf hier maar taamlik rustig gewees!  Ek moet gereeld haar motor om die blok gaan ry, sodat die battery nie pap word nie, sy het my al wakker gebel 2 uur in die oggend om iemand te gaan stilmaak wat net sy kan hoor, en as sy kom kuier loer sy deur my sleutelgat.  Sy weet wie en wat in elke woonstel bly, en haar missie is om op soveel  moontlik parkeerplekke te stop wat nie hare is nie.  Haar groot oomblik was sekerlik die dag toe sy my by die werk bel om te se die wind het my voordeur oopgewaai (ek het darem ‘n veiligheidshek).  Aangesien ek in Stellenbosch was vra ek toe of sy dit asseblief vir my sal gaan toetrek waarop sy antwoord “nee, die wind waai buite”.   Sy het blykbaar super powers wat haar my voordeur kan laat sien, al is sy binne haar eie woonstel…

Ten spyte van al die dinge wat al gebeur het hier, al die geraas wat ek al gemaak het (sonder ‘n enkele boete), al die bure wat ek al gehad het, al die kere wat die diaken tannie my gejaag het (genuine, ‘n storie vir ‘n ander keer) en al die kere wat iemand al op my parkeerplek gestop het, bly dit ‘n great plek om in te woon.

En ek sal dit nog lank my kompleks noem.

 

Leave a Comment

Your email address will not be published.